Wolk hang oor nuwe Eskom-hoof se kop

André de Ruyter (Foto: André de Ruyter/Facebook)

Andre de Ruyter, binnekort die uitvoerende hoof van Eskom, het glo Sasol verlaat weens twyfelagtige aandeleverhandeling, aldus ʼn berig wat Vrydag bekend gemaak is.

Bloomberg het gesê hy het ʼn verslag deur die regsfirma Werksmans gesien wat deel vorm van ʼn assessering oor korporatiewe bestuur wat die vinger wys na De Ruyter en hoof- finansiële beampte Christine Ramon. De Ruyter was Sasol se senior groepshoof vir wêreldwye chemikalieë en Noord-Amerikaanse bedrywighede.

Die internasionale nuusagentskap het gesê die verslag het bevind dat die twee persone bewus was van koste-oorskryding by ʼn chemiese projek en die maatskappy se aandele is verkoop nog voor die inligting aan uitvoerende lede bekend gemaak is.

“Dit wil voorkom of die inligting wat mnr. Andre de Ruyter en me. Christine Ramon tot hul beskikking gehad het, pryssensitiewe inligting was toe hulle aandele verhandel het,” het Bloomberg uit die verslag aangehaal.

Werksmans het bevestig dat toestemming verleen is om die aandele te verkoop, maar indien alle inligting onthul is, sou die magtiging teruggetrek gewees het.

De Ruyter en Ramos het na bewering albei skuld ontken. Hulle is in 2013 weg by Sasol nog voor die Werksmans-verslag gefinaliseer is.

De Ruyter het gesê die feit dat die verslag eers ses jaar ná hy by Sasol weg is bekend gemaak word, dui daarop dat dit ʼn poging is om sy geloofwaardigheid te ondermyn voor hy die leisels by Eskom oorneem.

Jabu Mabuza, voorsitter van die beleërde kragvoorsiener, het gesê Eskom is nie bewus van die bevindings nie. “Ons is nie bewus van dié bewerings of enige vorige ondersoek of die betrokke verslag en sy inhoud nie,” het Mabuza gesê. “Ons kan bevestig dat streng integriteit- en verwysingskontroles onafhanklik uitgevoer is kragtens normale aanstellingsprosesse en soos vereis word deur die aandeelhouer wat die raad se aanbevelings ondersteun vir enige aanstelling in die amp. Dit is alles suksesvol afgehandel.”

De Ruyter sal na verwagting teen die middel van Januarie sy amp inneem by Eskom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.