Wolkskool bly gratis tot einde 2020

Mienke Sebriets, ’n graad 10-leerling van die Wes-Kaap, gebruik die Wolkskool (Foto: Verskaf)

Die Skoleondersteuningsentrum (SOS) se Wolkskool het aanlyn onderrig vir meer as 116 000 leerders moontlik gemaak in die afsonderingstydperk en terwyl kontakonderrig vir talle leerders hervat is, is daar steeds duisende leerders wat baat vind by dié platform se aanlyn klasse.

Weens die finansiële druk op huishoudings en skole wat swaar deur die Covid-19-pandemie se impak op die ekonomie getref is, het die SOS besluit om die Wolkskool tot aan die einde van die jaar gratis vir alle leerders en skole beskikbaar te stel.

Volgens Valentyn van der Merwe, hoof van innovasie by die SOS, sal die Wolkskool Afrikaanse skole ʼn groot hupstoot gee met hul nuwe funksionaliteit wat onderwys help om met leerders te kommunikeer, selfs dié wat nie skool kan bywoon nie.

Van der Merwe sê die SOS wil graag onderwysers ondersteun wat nou kontakklasse en aanlyn onderrig tegelyk moet aanbied.

“Ons bied terselfdertyd aan skole die geleentheid om ʼn nuwe manier van skool gee te beproef, sodat hulle volgende jaar kan wegspring met tegnologie en gebruike wat reeds deur top-lande suksesvol geïnkorporeer word.

“Tesame met die bestaande inhoud van meer as 4 000 videolesse, assessering en werkkaarte, skep die Wolkskool ʼn uitstekende platform om vlakke van leer na nuwe hoogtes te neem. Daar is meer as 1 800 onderwysers wat reeds die Wolkskool gebruik. Ons nooi alle onderwysers om tot die einde van 2020 hierdie funksies gratis te gebruik om hulle klaskamers te bestuur.”

Volgens Van der Merwe het die Wolkskool van die begin van die afsonderingstyd elke dag regstreekse klasse vir matrikulante aangebied. “Sonder die skenking uit die Solidariteit Beweging se krisisfonds sou dit beslis nie moontlik gewees het nie.”

Dit is ook dié krisisfonds wat dit nou moontlik maak vir Wolkskool om dienste aan onderwysers en leerders gratis tot aan die einde van die jaar te bly voortsit.

Die SOS is gerig op die versterking van Afrikaanse onderwys en daarom het dit saam met sy susterorganisasie Solidariteit skole en kleuterskole se regte om oop te maak in die hof beveg. Die SOS het ook duisende onderwysers opgelei om afstandleer te optimaliseer terwyl die Wolkskool ʼn volledige aanlyn platform bied vir skole waar die kurrikulum van gr. 1 tot 12 gedek word. Die SOS se 12 vakverenigings bied ook verdere professionele ondersteuning gaan onderwysers.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.