Wolraad Woltemade: Waar of wolhaar?

Op ʼn kleinhoewe net buite Pretoria het Yolanda Lindeque-Strauss nie net haarself weer gevind nie, maar ook ʼn man, deur baie beskou as een van die grootste helde in Suid-Afrikaanse geskiedenis.

Maar het hy werklik bestaan, of was Wolraad Woltemade en sy ongelooflike heldedaad net ʼn storie, ʼn fiktiewe volksverhaal?

“Iemand het gesê Wolraad Woltemade was ʼn mite wat die apartheidsregering uitgedink het om patriotisme mee te kweek,” vertel sy.

Maar volgens haar is niks verder van die waarheid nie. Die volksheld Wolraad Woltemade het wérklik bestaan en sy het die bewyse daarvoor, sê Lindeque-Strauss.

Anders as die verhaal van Racheltjie de Beer, wat tot talle mense se groot verbasing nié ʼn ware Suid-Afrikaanse karakter was nie, het Woltemade wél gelewe. Sy heldedaad is allermins fiksie.

Die 44-jarige Lindeque-Strauss het ʼn dekade gelede byna alles verloor. Haar huwelik het verbrokkel, haar pa is oorlede, weens uitbranding was sy onophoudelik siek, sy was haar werk kwyt en moes terugtrek na haar ma, Amanda.

Dit was uiteindelik Amanda se idee dat haar dogter ʼn rolprent oor Woltemade moet skryf as ʼn manier om haar weer te help fokus.

“Die storie het begin om my deur my depressiewe dae te help. Ek het obsessief begin raak toe mense vir my sê dis nie ʼn ware verhaal nie – ek het maar ʼn rebelse streek – en toe het die navorsing régtig interessant begin word.”

Sy het nie veel gehad om mee te begin nie – nie geld, energie of ervaring nie – maar met R1 000 wat haar tannie vir haar (vir huurgeld!) gegee het, het sy petrol ingegooi en na die Voortrekkermonument in Pretoria se argief vertrek.

Haar soektog na Wolraad Woltemade het in alle erns begin.

Soektog na bewyse

Yolanda Lindeque-Strauss gesels oor haar navorsing. (Foto: Christel Cornelissen)

Lindeque-Strauss en Google het goeie vriende geword. Baie goeie vriende. Maar daar is uiteindelik net soveel wat die internet kan opdis voordat die inligting verder gestaaf moet word.

“Ek wou van die brón af werk. Ek wou alles van hom weet. Dit was my passie en dit het bykans ʼn obsessie geword.”

Lindeque-Strauss het intussen as ʼn teksskrywer vir ʼn Christelike televisieprogram begin werk, maar Wolraad wou nie wyk nie. Sy was begeester deur dié verhaal van die man met sy perd wat sy eie lewe gewaag het om matrose op ʼn skip te hulp te snel – ʼn heldedaad wat eindelik sy lewe en dié van sy perd sou kos.

Haar aanvanklike navorsing het haar na die gerespekteerde geskiedkundige en skrywer dr. Dan Sleigh gelei en saam het hulle aan die rafels van die Wolraad Woltemade-verhaal begin torring. Sleigh se boek Die buiteposte: VOC-buiteposte onder Kaapse bestuur was ʼn skatkis van inligting. Onlangs het Olga Witmer wat haar doktorsgraad aan die Universiteit van Cambridge oor die Duitse stamvaders aan die Kaap doen en Woltemade se verhaal ken, nog meer inligting opgedis uit argief-jaarboeke, asook die Wes-Kaapse argief se Resolusies van die politieke raad. Die materiaal is nou ook gedigitaliseer as deel van die sogenaamde Tanap-projek.

Wie was Wolraad Woltemade regtig?

Anders as wat dikwels oorvertel word, was Woltemade nie ʼn boer nie. Hy was bes moontlik ʼn vroeë weergawe van Afrikaans magtig, maar hy was in der waarheid ʼn Duitse huursoldaat wat in diens van die destydse Vereenigde Oostindische Compagnie (VOC), aan die Kaap se suidste punt kom werk het, vertel Lindeque-Strauss.

Hy is in 1708 gebore in Laer-Saksonië en het in die 1740’s vir die eerste keer as huursoldaat in die Kaap voet aan wal gesit. Hy was ʼn paar jaar lank by die Muizenberg-buitepos, waarna hy na sy geboorteland teruggekeer het. In 1759 het hy die Kaap die tweede keer besoek (dié keer gestasioneer by die Simonsbaai-buitepos) en wéér is hy terug na sy geboorteland.

In 1770 het hy vir ʼn derde keer teruggekeer na die Kaap. Hy was onder meer ʼn toesighouer van ʼn VOC-dieretuin in die Tuine en het waarskynlik weens sy plek van herkoms – ʼn landelike Duitse streek – ʼn goeie aanvoeling vir diere gehad, sê Lindeque-Strauss. “Dié aanvoeling vir diere verduidelik waarskynlik ook waarom mense geglo het hy was ʼn Afrikanerboer,” sê sy.

Volgens VOC-rekords, wat selfs eeue gelede al uitstekend bygehou is, het Woltemade ook by van die kompanjie-melkerye gewerk. Melkkoeie is by die Riet Valleij-buitepos aangehou en die melkstal was in die noordwestelike hoek van die Tuine, waarheen hy daagliks moes gaan.

Hy hét waarskynlik ʼn perd gehad, maar of die dier wél Vonk (of moontlik Prins) was, is moeilik om te bevestig, sê Lindeque-Strauss.

Die heldedaad

Die gebeure waarvoor Woltemade die bekendste is, begin in April 1773, toe Woltemade reeds 65 jaar oud was.

Die Jonge Thomas kom met ʼn gekraakte hoofmas in die Kaap aan. Aan boord is onder meer 18 kiste lone, bestem vir Batavia.

Lindeque-Strauss is al jare lank besig met navorsing oor Wolraad Woltemade.

Herstelwerk aan die skip begin in alle erns, maar as gevolg van ʼn reeks swak besluite, was die herstelwerk nie betyds klaar sodat die Jonge Thomas na Valsbaai kan vaar om dáár die streek se gure weer in relatiewe veiligheid te gaan trotseer nie. Die Kaap van Storms doen sy naam gestand en ʼn storm bou op oor die verloop van ʼn paar dae totdat die storm op 29 Mei ʼn punt bereik waar die see so stormagtig is dat al die Jonge Thomas se ankers op een na breek. Die skip begin gevaarlik na aan die rotse beweeg. ʼn Noodvergadering word gehou, die golwe slaan reeds hoër as die hoofmas en ʼn besluit word geneem om die skip by Paardeneiland te laat strand, vertel Lindeque-Strauss.

Op dié manier kan die skip – en sy waardevolle vrag lone – moontlik nog gered word. Die lewe van ʼn matroos was in daardie tyd nie veel werd nie – dalk soveel as ʼn brood vandag – vertel Lindeque-Strauss.

Die skip tref Paardeneiland se punt, draai dwars en ʼn paar desperate matrose probeer uitswem. Die meeste matrose kon egter nie swem nie en al sou hulle kon, is die strome te sterk. Die matrose word dadelik diepsee toe gesleur, maar die owerhede se prioriteit bly die veilige bewaring van die lone.

Baron Joachim van Plettenberg, in dié stadium die waarnemende goewerneur van die Kaap de Goede Hoop, beveel dat ʼn galg op die strand gebou word in ʼn poging om diewe van die lone weg te hou. Enige ongemagtigde persoon wat op die strand betrap word, moet summier gehang of geskiet word.

Woltemade hoor die skeepskanonne en haas hom te midde van die storm op sy perd na die strand. Daar besluit hy, ten spyte van die dreigende galg, om menselewens te help red, sê Lindeque-Strauss.

1 Junie 1773. 06:00. Woltemade en perd swem die see vir die eerste keer binne. Hy oortuig twee matrose om van die skip te spring en al klouende aan die dier se stert word hulle na veiligheid gesleep. Wéér gaan man en perd die see binne. En weer en weer. Teen die sewende keer is Wolraad en sy getroue dier doodmoeg en probeer ʼn breek neem, maar die Jonge Thomas breek in twee. Die matrose is desperaat en toe Woltemade en sy perd die agtste keer tot by die skip swem, word hulle deur ʼn oormag matrose oorweldig.

Woltemade én sy perd verdrink. Maar nie voordat hulle eindelik 14 mense gered het nie, sê Lindeque-Strauss.

Hoe weet ons dis waar?

Van Plettenberg het in ʼn verslag oor die gebeure aan die VOC ʼn terloopse verwysing gemaak na ʼn melkboer wat mense kwansuis vergeefs probeer red het. Oor Woltemade se heldedaad het hy geswyg en die VOC het die verslag ook só aanvaar, sê Lindeque-Strauss.

Dr. Carl Peter Thunberg, ʼn Sweedse dokter en botanis, was in dieselfde tyd in die Kaap waar hy navorsing in opdrag van die VOC gedoen het.

Lindeque-Strauss sê die weergawe van Thunberg (wat allerweë as die vader van Suid-Afrikaanse botanie beskou word) oor die gebeure was deurslaggewend. Dit is in sy joernaal opgeteken en toe sy werk ʼn paar jaar later by sy terugkeer na Nederland gepubliseer is, het die VOC vir die eerste keer die ware Woltemade-heldedaad gelees.

Die Sweedse skrywer en botanis Anders Sparrman was boonop op dieselfde tyd in die Kaap en sy boek Reize naar de Kaap bevat óók die Woltemade-verhaal. Sparrman was ʼn storieverteller van formaat en dit was waarskynlik sý weergawe van die gebeure wat aanvanklik verbeeldings aangegryp het, sê Lindeque-Strauss.

Beoogde rolprent

Dit is dié dramatiese vertelling wat Lindeque-Strauss nou in ʼn aksierolprent wil omskep. Die draaiboek is reeds afgehandel.

“Ons het ʼn beoogde begroting van sowat R50 miljoen, wat ʼn rekord vir enige Afrikaanse prent sal wees,” sê Lindeque-Strauss.

Sy wil die kostuums, karakters en omgewing, wat die skepe insluit, so na as moontlik aan die destydse werklikheid hou – maar dít kom teen ʼn prys. Ook die visuele effekte wat die prent gaan benodig, is peperduur. Daar gaan enorme stelle gebou moet word en op verskeie plekke verfilm word.

“Die rolprent gaan wees wat jy noem ʼn kreatiewe dokumentêr omdat dit 90% histories korrek is,” sê Lindeque-Strauss.

Haar liefde vir perde en seilskepe was ook deel van die oorspronklike inspirasie om die draaiboek te skryf – en boonop herinner Woltemade haar aan pa, Braam. “My pa was ook ʼn rebel wat daarin geglo het om die regte ding te doen al beteken dit hy moet dit alleen doen, maar hy het ʼn sagte hart gehad,” vertel sy. Hy het in 2006 sy eie lewe geneem ná ʼn leeftyd van posttraumatiese stres wat hy tydens die Angola-oorlog in die 1970’s opgedoen het.

Lindeque-Strauss sê finansiering vir die rolprent bly die grootste kopseer, maar die span wat sy bymekaargemaak het om die rolprent ʼn werklikheid te maak, maak stadigaan vordering daarmee.

“Dit is ʼn opdraande stryd om geld te kry en dis in dié stadium nog ʼn laslappie-poging.”

Lindeque-Strauss sê dit is die moeite werd omdat sy glo haar aksie-drama gaan “ʼn stukkie geskiedenis bewaar,” op ʼn kenmerkende manier wat die wêreld sal kan sien en beleef.

Sy dink ook “… sommige Afrikaners is baie angstig dat Afrikaans dalk gaan verdwyn, maar die rolprent gaan die taal help bewaar en bewustheid skep.”

Sy beplan egter nie dat die fliek net in Afrikaans gaan wees nie, maar beoog om die mengelmoes van tale en kulture wat destyds – en eintlik vandag steeds – hier saamleef, geloofwaardig uit te beeld.

Vir diegene wat steeds wonder of Wolraad Woltemade en sy getroue perd net nóg ʼn sprokiesverhaal is, het Lindeque-Strauss een antwoord: “Dit ís die waarheid en ek het die bewyse.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Dirk ·

Sy huis bestaan vandag nog in Brooklyn, agter die bors hospitaal. Snaaks diè artikel noem dit nie.

Gert van Wierdapark ·

Die beoogde Fliek “gaan n perd van n ander kleur wees” !

Philippus Janse van Rensburg ·

Moeisame werk, goed gedoen!
Terloops, Eugene Marais se weergawe van Rachel de Beer gee ‘n totaal-veskillende beeld van daardie verhaal weer!

Andrew Kok ·

Onthou dat die see daar baie vlak was (dit is vandag alles drooggele) en net soos in bv Die Strand kan mens baie ver in die see inloop en nog maar halflyf in die water wees. Dit was seker ook die rede waarom hulle besluit het om die De Jonge Thomas daar te laat strand, want dit was plat sandbanke. Woltemade het dus nie noodwendig diepsee ingegaan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.