‘Wonderbaba’ het net ʼn paar krapmerke

Paramedici was deurentyd gereed op die toneel om die baba te behandel sodra sy uit die pyp gebring is. Foto: Rescue Care Paramedics

Die pasgebore babadogtertjie wat Maandag ná ʼn ure lange gespook uit ʼn stormwaterdreinpyp in Durban gered is, is volgens dokters gesond.

Agiza Hlongwane, provinsiale woordvoerder van die departement van gesondheid, het Dinsdag aan Maroela Media bevestig dat die babadogtertjie wat sedertdien die “wonderbaba” heet, tans in ʼn hospitaal in Durban aansterk.

“Sy is in ʼn stabiele toestand en is gevolglik na ʼn ander hospitaal oorgeplaas.” Die naam van dié hospitaal word egter in dié stadium van die publiek weerhou weens veiligheidsredes, verduidelik Hlongwane.

Volgens Hlongwane het ʼn dokter ná ʼn voorlopige ondersoek bevestig dat die babadogtertjie nié ouer as drie dae oud is nie. Haar naelstring was ten tyde van die reddingsoperasie nog nie verwyder nie.

Hlongwane vertel dat die babadogtertjie werklik deur die departement as ʼn wonderwerk geag word, aangesien sy sowat vyf uur lank in ʼn koue stormwaterdreinpyp oorleef het met slegs ʼn paar skraap- en vuil merke ter bewys van haar noue ontkoming.

Maroela Media het vroeër berig dat die babadogtertjie Maandag ná ʼn grootskaalse reddingspoging uit ʼn stormwaterdreinpyp in Newlands-East in Durban gered is.

Verbygangers het omstreeks 07:00 gehoor hoe ʼn baba vanuit die dreinpyp huil en het hulp ontbied.

ʼn Brandbestryder het gevolglik in ʼn mangat afgesak en kon van daar die babatjie sien beweeg en hoor huil. Dit was egter nie moontlik om deur die mangat by die baba uit te kom nie.

Reddingswerkers het gevolglik ’n sloot begin grawe om by die stormwaterdrein uit te kom. Later is ʼn veeldoelige laaigraaf ook na die toneel gebring om die reddingspoging te bespoedig.

Die babadogtertjie, wat deur omstanders as Sibanisethu (ons ligstraal) en Gabriella vernoem is, is ná ʼn reddingsoperasie van sowat vier uur eindelik uit die pyp gehaal.

ʼn Mediese helikopter het gereed gestaan en paramedici het die baba op die toneel behandel voor sy na ʼn hospitaal in Durban gevlieg is.

Volgens dr. Timothy Hardcastle wat haar aanvanklik ondersoek het, moes sy met haar aankoms warm gemaak word weens die lae temperatuur in die stormwaterdreinpyp. Andersins het sy net enkele skrape opgedoen.

Volgens Hlongwane sal die babadogtertjie in ʼn latere stadium in die sorg van die provinsiale departement van maatskaplike ontwikkeling geplaas word.

Dr. Sibongiseni Dhlomo, provinsiale LUR vir gesondheid, het gesê dat meer aggressiewe bevordering van gesinsbeplanningsmetodes soos voorbehoedmiddels en kondome benodig word om te verhoed dat babas weggegooi en swangerskappe onwettig beëindig word.

Dit is nie tans bekend hoe die baba in die stormwaterdrein beland het nie. Die saak sal deur die polisie ondersoek word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Judge Dredd ·

07:00 die baba gehoor.
09:40 uit die stormwater pyp verwyder.

Maar daar word gese dat die reddings operasie 4 uur geduur het.
Iets maak nie sin Maroela ?

Anja van der Merwe ·

Dagsê Judge,

Dankie vir jou kommentaar. Ons vra om verskoning vir die oorsig. Die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Anja nms Maroela

ELSA ·

WREED HOE KAN N MAMMA DIT OOR HAAR HART KRY…EK SAL HAAR VAT.

Mads ·

Die Here het defenitief n doel met jou lewe liewe baba’tjie. So bly jy is ok.

VanAfrika ·

Die baba is nie ouer as drie dae nie. Dit beteken sy lê al drie dae in daardie pyp voor hulle haar kon red. Wat n hartelose, gevoelose, sielose mens doen so iets aan n pasgebore baba wat nie eens kan loop of haarself kan help nie.

Elna de Wet ·

Baba se noue ontkoming…..aaag asb dis poging tot moord !!!!

wonder net ·

Die baba is in die stormwater drein gegooi… sy sou defnitief nie soontoe geloop het nie.. (3 dae oud)

Ilze ·

Ek kan ook nie verstaan pasgebore maar sys drie dae oud? Miskien werk my old school wiskunde anders as vandag sn. Ek hoop hulle vang die skuldige en dat die baba n wonderlike huis sal kry

Ma ·

Ilze, wat is nou so moeilik om te verstaan? Die naelstring dui daarop dat sy “pas” gebore is. Wat maak dt nou saak of dit 1 of 3 dae is. Sy word geklasifiseer as pas gebore. Ai

Nel ·

@Ilse Die eerste fase van die baba staan bekend as die Neonatale- of pasgebore-fase maw die eerste vier maande en die tweede, die baba-fase.

De Villiers ·

Die regering se manier vir gesinsbeplanning is om voorbehoeding te promoveer. Regtig? Wat van morele en sedelike waardes?

Dalla ·

Verskriklik, onmenslik en so hartseer.
Dan wonder ons soms hoekom SA so agter uit gaan en hoekom seën die Here ons nie, hoekom Help die Here ons nie, WANT die 10 Gebooie bestaan nie meer in SA nie, ons doen alles wat 10 Gebooie sê ons Moet Nie Doen nie. Ons pleegmoord, korrupsie, aborsies, ens ens ens.

Deuteronomium 11:22
As julle al hierdie Gebooie wat ek julle vandag gee, Stiptelik Gehoorsaam deur daarvolgens te lewe en die Here julle God lief te hê, sy wil te doen en Hom aan te hang, sal Hy al hierdie nasies verdryf, en dan sal julle die Grondgebied van nasies wat Groter en Sterker is as julle, in besit neem. Elke plek waar julle kom kom, sal julle s’n wees: Van die Woestyn in die Suide af tot by Libanonberg in die Noorde, van die rivier, die Eufraatrivier, in die Ooste af tot by die see in die Weste. Dit sal julle grense wees. NIEMAND sal teen julle kan bly staan nie. Soos die Here Beloof het, sal Hy orals waar julle gaan, n skrik en angs vir julle oor die land laat kom. Let op, ek hou julle vandag die seën en die straf voor: Die Seën sal kom as Julle Die Gebooie van die Here julle God Gehoorsaam wat ek julle vandag gee, Die Straf Sal Kom as Julle ONGEHOORSAAM is aan die GEBOOIE.

Maak nie saak wat ons sê Die Bybel sê Alles vir ons.

Faye ·

Where can we enquire for adoption or foster care on this little miracle

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.