‘Wonderbaba’ kry ʼn sussie

Klein Mihle Biyela saam met sy pa, Phiwayinkosi, ma, Ntombenhle, en babasussie Asimdumise. By hulle is sr. Tracy van Niekerk, ‘n vroedvrou. (Foto: Netcare)

Toe baba Mihle Biyela se lewe twee jaar gelede danksy ʼn ingewikkelde operasie in die baarmoeder gered is, is dit reeds as ʼn wonderwerk bestempel.

Op 12 November vanjaar, presies twee jaar en nege maande later, het die wonderbaba ʼn sussie ryker geword.

Maroela Media het destyds berig ʼn seldsame toestand bekend as hydrops fetalis, wat gekenmerk word deur vog wat om die hart en longe opdam, is by klein Mihle gediagnoseer. ʼn Sleutelgat-bloedoortappingsprosedure, of sogenaamde intra-uteriene bloedoortapping (IUT), is gedoen toe die fetus slegs 25 weke oud was. Dankbaar vir hul klein vegtertjie, het die Biyela-gesin besluit om hul babaseun Mihle Imisebenzi kaNkulunkulu, wat uit Zoeloe in Afrikaans vertaal word as “pragtige werk van God”, te doop.

Nou vier die familie weer fees en Phiwayinkosi Biyela, Mihle se pa, sê hulle is oorstelp van vreugde oor die geboorte van hul tweede babadogter.

“Ons het ons dogtertjie Asimdumise genoem, wat in Zoeloe ‘kom ons prys die Heer’ beteken. Saam met ons eersgeborene, ʼn 10-jarige dogter genaamd Ayabonga, is ons gesin nou volledig.”

Dr. Bongani Mazibuko, verbonde aan Netcare se St. Augustine-hospitaal, sê die nuweling se geboorte het glad verloop.

“Daar was kommer tydens me. Biyela se twee mees onlangse swangerskappe, maar albei kinders is uiters gesond. Die beste nuus is dat Mihle boonop nie nodig gehad het om enige van die operasies te ondergaan wat mediese spanne ná sy geboorte gemeen het nodig sou wees nie.

“Hy is ʼn slim, gelukkige klein seuntjie wat sonder probleme kan tel. Sy behandeling was konserwatief en doeltreffend en ons is gelukkig dat alles so mooi saamgewerk het vir hierdie pragtige jong man wat nou ook ʼn trotse ouboet is.”

Mihle se ma, Ntombenhle, sê die seuntjie sien alles raak en probeer alles doen. Hy is mal oor die advertensies en tekenprente op TV en probeer nou Engels leer – iets wat hy reeds begin baasraak. Hy leer ook die alfabet.

Ntombenhle sê sy sal Mihle altyd as haar “wonderwerkbaba” beskou.

Dr. Bongani Mazibuko, ‘n ginekoloog en verloskundige by Netcare se St. Augustine-hospitaal. (Foto: Netcare)

“Dit was ʼn moeilike en pynlike reis met Mihle, aangesien ons aanvanklik gewaarsku is dat die fetus se kans op oorlewing baie klein is. Die probleme met my swangerskap het op net 24 weke begin en gelukkig, nadat aanbeveel is dat die swangerskap beëindig word, het ons ʼn tweede mening by dr. Mazibuko gekry. Hy het op sy beurt die spesialis, dr. Ismail Bhorat, om hulp genader,” sê sy.

“Hulle het ons deurlopend op die hoogte gehou en ons deur elke stap van die behandeling en swangerskap moed ingepraat. Ek het aanvanklik gedink ek gaan my baba verloor, maar nou is Mihle – wat ons huis toe kon neem en sien hoe hy ʼn slim klein seuntjie word – die grootste geskenk wat ek nog ooit ontvang het.”

Phiwayinkosi sê Mihle se reis veroorsaak steeds talle emosies. “Dit laat my dink aan ander voornemende ouers daar buite wat dalk ʼn soortgelyke uitdaging het en reeds weens ʼn lewensbedreigende toestand die hoop verloor het dat hulle ʼn baba in die wêreld kan verwelkom.

“Ek wil hê dié ouers moet weet daar is altyd hoop terwyl ons goed toegeruste hospitale en ervare en dapper mediese spesialiste soos dr. Mazibuko, dr. Bhorat en hul spanne het. As God hulle kon gebruik om my en my vrou te help, glo ek Hy kan ook hoop bring vir ander ouers en gesinne. Dit is nooit te laat vir daardie ouers en gesinne nie en ek sal ʼn afspraak met dié dokters ten sterkste aanbeveel.”

Die dokters het Ntombenhle tydens haar laaste swangerskap weereens fyn dopgehou. Sy moes twee weke voor die babadogtertjie se geboorte in die hospitaal opgeneem word nadat sy in vroeë kraam gegaan het.

“Die dokter het dadelik met behandeling begin en ek het probeer om nie te veel te stres nie. Ek en my man het weereens ons geloof in God geplaas. Ons het ook geweet dat dr. Mazibuko ʼn goeie dokter is en dat ons hom kon vertrou, sê dié ma van KwaNdengezi in Durban.

Volgens Mazibuko is daar tydens die geboorteproses egter geen probleme ondervind nie en die gesin is uiters dankbaar vir die hulp van die spanne by Netcare se St. Augustine- en uMhlanga-hospitaal.

Heinrich Venter, bestuurder van die St. Augustine-hospitaal, sê personeel was verheug om die Biyelas terug te verwelkom vir Asimdumise se geboorte.

“Hulle is nou al deel van die uitgebreide familie. Ons is uiters dankbaar dat dit so goed gaan met Mihle en dat hy nou ʼn tweede sussie het wat, nes hy, ook hier in ons kraamsaal gebore is.

“Ons is verheug oor die goeie uitkoms en vir die kans om ʼn rol te kon speel in Mihle en baba Asimdumise se versorging. Ons wens die Biyela-gesin alles van die beste toe vir die toekoms.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Papsak ·

Ag ASB ASB AS JULLE NOU MY GEDAGTES KON SIEN EN LEES SAL JULLE VERSTAAN HET

Frieda ·

Dit is ‘n wonderlike goeie nuus storie!! Alle voorspoed!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.