‘Wonderbaba’ vier 18de verjaardag

Maureen, Zcharnel en Albert de Kock. (Foto: Verskaf)

Maureen de Kock, nou 65, kon as 48-jarige vrou nie hul huishouding met die onverwagte koms van ʼn laatlam-pienkvoet voorstel nie. Nou, 18 jaar later, kan sy nie haar lewe sónder hul lieflingdogter indink nie.

Zcharnel, wat destyds deur die media as Boksburg se “wonderbaba” gedoop is, het op 7 Februarie haar 18de verjaardag gevier. Sy voltooi vanjaar matriek aan die Hoërskool Die Anker in Brakpan, Gauteng.

Zcharnel dien ook in die skool se beheerraad (leerderraad) en het gedurende haar skoolloopbaan op provinsiale vlak in netbal en nou ook jukskei uitgeblink.

Albert en Maureen de Kock saam met hul dogter, Zcharnel, in 2004. (Foto: Verskaf)

Maureen en haar man, Albert (62), het in Desember 2003 vasgestel dat hulle Zcharnel verwag. Die egpaar het toe al elk tiener- en volwasse kinders uit vorige huwelike gehad. Maureen was boonop ook die ouma van ʼn vierjarige kleinseun, wat beteken dat Zcharnel by geboorte al ʼn tannie sou wees.

Sy het vandeesweek aan Maroela Media gesê dat sy destyds geen tekens van swangerskap getoon het nie. Sy het eers op 34 weke vasgestel sy verwag nadat sy maande lank lam en tam gevoel het.

“Ek het in Junie 2003 begin moeg voel en ondersoek ingestel. Ek het verskeie dokters besoek, maar hulle kon nie agter die kap van die byl kom nie,” vertel Maureen.

Toe die moegheid nie wou wyk nie, het sy in Desember 2003 wéér dokter toe gegaan, waar ʼn swangerskapstoets vir die eerste keer gedoen is.

“Ek was oorweldig, want ek was reeds ʼn ouma. Ek het egter aan my geloof vasgeklou en geglo dat daar ʼn rede is dat Zcharnel hier moet wees.”

Zcharnel en Maureen de Kock saam met dr. Mongi Lingham wat destyds Maureen se keisersnee gedoen het. (Foto: Verskaf)

Ongeveer twee maande later is Zcharnel ondanks vrese vir komplikasies deur middel van ʼn keisersnee gebore. Dit was wel ʼn maand vroeër as wat haar dokter voorspel het, maar nietemin was sy ʼn normale, gesonde baba.

“Sy het 3,06 kg geweeg en is die Saterdagmiddag enkele ure ná die ooievaarstee wat my ma en oudste dogter, Nicolette Martins (nou 45), vir my gereël het, gebore.”

Zcharnel en Maureen het nou nog kontak met dr. Mongi Lingham wat gehelp het om haar destyds in die lewe te bring, en het hom onlangs weer besoek.

“Wat die swangerskap so spesiaal maak, is dat daar ʼn ouderdomsverskil van 27 jaar tussen my twee dogters is. Dan is daar ook my ouderdom en die feit dat ek ten tyde van my swangerskap reeds in my oorgangsjare (menopouse) was. Zcharnel was met haar geboorte ook die tannie van Nicolette se seuntjie, Ryan-John O’Hara, toe vier jaar oud. Hy was baie erg oor haar en het haar ‘my Aunty-Baby’ genoem.”

Albert en Maureen de Kock in 2004 saam met Maureen se dogter, Nicolette Martins, haar seun, Ryan-John O’Hara en klein Zcharnel. (Foto: Verskaf)

Albert se kinders uit sy vorige huwelik was by Zcharnel se geboorte onderskeidelik 21, 19 en 16 jaar oud. Hy het self nou al drie kleinkinders.

“Ons was in daai stadium tien jaar getroud, maar ons het nooit gedink daar sal nog kinders wees nie.”

Toe Zcharnel in 2010 skool toe is, was Maureen glo die oudste ma van ʼn gr. 1-leerder in Suid-Afrika.

“Die media het oor die swangerskap gegons, maar dit het ons nie gepla nie.

Maureen en Albert de Kock by hul dogter Zcharnel en kleindogter, Sonelda van Wyk (regs). (Foto: Verskaf)

Sy het werklik ons lewe verryk en ons kan nie ons lewe sonder haar voorstel nie. Ons is ʼn baie hegte gesin en sy en my kleindogter, Sonelda van Wyk (15), is soos sussies. Sonelda is Nicolette se jongste kind en hulle bly ook by ons.”

Maureen sê Zcharnel het aanvanklik beplan om ná skool medies te studeer, maar wil nou ʼn loopbaan in die gasvryheidsbedryf nastreef.

“Sy en haar pa het tydens die inperking baie met kos begin eksperimenteer, waar die gogga haar gebyt het. Sy wil volgende jaar kookkuns in die Paarl in die Wes-Kaap gaan studeer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.