Wonderboom-lughawe afgegradeer te midde van ‘korrupsie, bedrog en wanbestuur’

(Foto: Facebook)

Die Wonderboom-lughawe is vandeesweek deur die Burgerlugvaartowerheid afgegradeer.

Die lughawe is van kategorie 5 tot kategorie 2 afgegradeer nadat dit die afgelope 15 jaar kategorie 5-status gehad het.

Dit beteken onder meer dat geen nagvlugte mag plaasvind nie en dat vliegtuie ná sononder na ander lughawens soos Lanseria herlei moet word.

Die Burgerlugvaartowerheid het die drastiese stap gedoen ná sy inspekteurs Woensdag, sonder vooraf kennisgewing, ʼn inspeksie op die lughawe uitgevoer het. Senior Tshwane-amptenare is Donderdag van die afgradering verwittig, maar het verkies om dit nie bekend te maak nie.

Die redes vir die afgradering is volgens inligting die nienakoming van lugvaartwetgewing oor brandbestryding, instandhouding van voertuie en opleiding van werknemers op die lughawe.

Die afgradering hou ernstige finansiële gevolge in vir die lughawe se huurders, waaronder verskeie vliegskole. Die SAPD se lugvleuel waarmee politici onder meer rondgevlieg word, is ook op Wonderboom gevestig.

Wonderboom was in 2016 op die punt om na ʼn kategorie 6-lughawe opgegradeer te word sodat nog groter vliegtuie daar kon land toe die ANC-administrasie die destydse waarnemende uitvoerende hoof, Hendrik Kleynhans, summier en onwettig van die lughawe verwyder het, waarskynlik weens politieke redes. Die huidige DA-administrasie het die situasie nooit reggestel nie en die pos is intussen deur verskeie persone gevul.

Die stad se burgemeester, Stevens Mokgalapa, het Donderdag nadat die lughawe al deur die Burgerlugvaartowerheid afgegradeer is, ʼn nuuskonferensie gehou om aan te kondig dat finansiële konsultante deur die Tshwane-metro aangestel is om die lughawe se probleme te diagnoseer en uit te stryk.

Die nuwe konsultante, Ntiyiso Consultants, is die vyfde maatskappy wat sedert 2004 teen miljoene rande deur die metro aangestel is om die lughawe kommersieel lewensvatbaar te maak. Weinig, indien enige, van die aanbevelings is ooit in werking gestel.

Maroela Media het die afgelope maande berig dat Wonderboom stelselmatig in die grond in bestuur is, na bewering deur die kontrakteur wat in 2017 onwettig deur die Tshwane-metro by die lughawe aangestel is.

Wonderboom-lughawe. Foto: Facebook

Dit blyk net die oortjies van die seekoei te wees.

Korrupsie, bedrog en wanbestuur deur amptenare en privaat kontrakteurs het die stad se belastingbetalers die afgelope vyf jaar duur te staan gekom. Hoewel dit sedert 2014 deur verskeie forensiese en interne ondersoeke blootgelê is, is die bevindings en aanbevelings nooit bekendgemaak of ingestel nie.

Die verslae lê meestal en stof vergaar by die munisipaliteit se topbestuur wat die ondersoeke oorspronklik aangevra het.

Die korrupsie het selfs voortgeduur onder die neuse van ʼn spesiale taakspan (TIU) wat sedert 2017 voltyds op die lughawe werk, juis om dit te ondersoek. Die taakspan word gelei deur Roger Moodley, ʼn adjunk-direkteur wat direk aan die kantoor van Tshwane se burgemeester rapporteer.

Nava Pillay, die uitvoerende direkteur in die stadsbestuurder se kantoor, het in 2017 ook ʼn span aangestel wat moes ingryp om die daaglikse werksaamhede op die lughawe reg te ruk. Dié sogenaamde Rapid Intervention Team is tot onlangs deur Tshepo Mokwena bestuur.

Bewerings word nou gemaak dat die TIU-taakspan anderpad gekyk het terwyl sommige lede van die Pillay-span ook deel van die korrupte bedrywighede en wanbestuur by die lughawe was.

Pillay was na bewering instrumenteel in die onwettige aanstelling van Professional Aviation Services (PAS) wat die bestuur van Wonderboom in 2017 oorgeneem het en tans meer as R800 000 per maand betaal word.

Pillay en Mokwena het ook verskeie projekte op die lughawe van stapel gestuur en volgens dokumente in Maroela Media se besit het hulle toegesien dat miljoene rande vooruit aan kontrakteurs betaal word wat uiteindelik werk van ʼn swak gehalte gelewer het en wat in die meeste gevalle ook nie voltooi is nie.

‘n Stormwaterdrein wat voor die ingang van die stoor aangebring moes word en waarvoor vooruit betaal is, is nooit gebou nie. (Foto: Susan Purén)

In April 2018 is ʼn kontrak met twee maatskappye, Pith Investments (Edms.) Bpk. en Cytotouch (Edms.) Bpk., gesluit om ʼn stoor van 30 x 30 x 5 m by die ingang van die lughawe te bou.

Die gebied waar die stoor gebou moes word, is enkele maande vroeër teen sowat R3 miljoen geplavei en sou as ʼn nuwe parkeerterrein by die lughawe dien sodra die nodige parkeerstrepe op die oppervlakte aangebring is. Die derduisende plaveistene is sonder meer opgelig om vir die stoor plek te maak en volgens beëdigde verklarings het Mokwena vriende en kollegas genooi om die nuwe plaveisel vir privaat gebruik weg te ry.

Die kwotasie vir die bou van die stoor was sowat R2,5 miljoen en Mokwena het die konstruksiemaatskappye se werkbeskrywing op 1 Junie 2018 onderteken.

Skaars ʼn maand later en net voor die afsluiting van die finansiële jaar, het hy en Pillay die faktuur vir betaling van die volle bedrag goedgekeur, hoewel daar nog nie met bouwerk begin was nie. Die geld is uitbetaal, maar foto’s wys dat konstruksiewerk teen Oktober 2018 steeds aan die gang was.

Ingesluit in die spesifikasies waarvolgens Pith en Cytotouch gekwoteer het, was ʼn 600 mm hoë baksteenmuurtjie wat aan drie kante van die stoor gebou moes word. Dit moes as die fondament vir die vertikale staalplate dien.

ʼn Bedrag van sowat R700 000 is vir die muurtjie gekwoteer en was by die vooruitbetaling ingesluit.

ʼn Eenvoudige berekening wys dat die spesifikasie vir die muurtjie nie sin maak nie. Die gebou se sykante is 30 x 30 m lank en die muurtjie moes aan drie kante gebou word, met ander woorde oor 90 lopende m. Dit moes 600 mm hoog wees wat beteken die muurtjie beslaan 54 vk. m.

Volgens Mokwena se spesifikasies beslaan dit 1 470 vk. m.

Cytotouch se enigste direkteur, Thabo Aphane, sê dit is die syfer wat Mokwena aan hom gegee het en dat hy slegs die bedrag wat hy kwoteer, moes invul.

Daar is geen teken van die baksteenmuurtjie waarop die staalplate moes rus nie en waarvoor Tshwane se belastingbetalers R700 000 betaal het. (Foto: Susan Purén)

As die korrekte berekening gemaak is, sou die kwotasie vir die muurtjie R25 640 in plaas van R700 000 gewees het.

Die muurtjie is egter nooit gebou nie en Aphane beweer Mokwena het gesê die muurtjie is nie meer nodig nie. Aphane sê hy is nie bereid om die R700 000 aan Tshwane terug te betaal nie omdat hy glo ander koste gehad het waarvoor hy nie gekwoteer het nie.

Mokwena het Maroela Media se navraag oor die skynbaar foutiewe berekening en die feit dat die muurtjie nooit gebou is nie na die Tshwane Metro se mediawoordvoerder, Lindela Mashigo, verwys. Mashigo het laat weet dat hy dit aan die kantoor van die Stadsbestuurder gestuur het, maar twee dae later steeds op ʼn antwoord gewag het.

Die spesifikasies en die kwotasie vir die bouwerk het nie voorsiening gemaak vir die stoor se betonvloer nie en ʼn afsonderlike aanstelling is in die boekjaar 2018-’19 daarvoor gemaak.

Op 4 Maart 2019 is ʼn verdere twee maatskappye, The Lemba Elephant Trading Solutions BK en Kmalukz (Edms.) Bpk., aangestel om die vloer te lê teen die gekwoteerde bedrag van R1,04 miljoen. Die oppervlakte is nie groter as 900 vk. m nie en kenners in die bedryf meen dit moes die helfte minder gekos het.

The Lemba Elephant Trading se faktuur is op 27 Junie deur Mokwena en Pillay goedgekeur en twee weke later is die volle bedrag vooruit in hul bankrekening inbetaal. Die vloerprojek is volgens die maatskappy se enigste direkteur, Lerato Beatrice Mokoteng, eers in Oktober voltooi.

Sy het telefonies aan Maroela Media gesê sy verstaan nie die navraag nie en dat dit met die projekbestuurder bespreek moet word. Sy wou egter nie sy naam bekend maak nie en het die oproep net daar summier beëindig.

ʼn Stormwaterdrein wat volgens spesifikasie voor die ingang van die stoor aangebring moes word en waarvoor Mokoteng R11 000 gekwoteer het en wat vooruit betaal is, is nooit gebou nie. Die gevolg is dat die stoor oorstroom wanneer dit reën en nie gebruik kan word nie.

ʼn Kontrak vir die oprigting van ʼn tweede veiligheidsheining het ook erg skeefgeloop toe dit aan die binnekant van die lughawe se bestaande heining opgerig is terwyl dit beplan was om die lughawe se buitenste grens te beveilig.

Niemand wat moes toesig hou het opgemerk dat die veiligheidsheining aan die verkeerde kant van die bestaande heining opgerig is nie. (Foto: Susan Purén)

Die heining is onlangs voltooi en klaarblyklik het nóg die projekbestuurder, Mokwena, nóg Professional Avaiation Services wat die lughawe bestuur, dit raakgesien voor dit reeds te laat was.

KPA Civils (Edms.) Bpk. se Cheslin Pauwels sê sy maatskappy het ʼn driejaarkontrak met Tshwane om heinings op te rig en in stand te hou en sy werkers kry opdragte van die projekbestuurder op die terrein waar die werk gedoen moet word.

Niemand het hom tot dusver ingelig dat die heining op die verkeerde plek opgerig is nie en hy sê hy is ook nie vooruit betaal nie.

Die nuut aangestelde konsultante gaan ʼn massiewe taak hê om die Wonderboom-lughawe finansieel haalbaar te maak. Hul kontrak tree in Januarie in werking ná Professional Aviation Services (PAS) se maand-tot-maand-kontrak in Desember tot ʼn einde gekom het.

Die huidige lughawebestuurder, Waheed Mohammed, is ʼn werknemer van PAS en volgens die Burgerlugvaartowerheid is die voorwaarde vir ʼn lughawe se operasionele lisensie dat daar ʼn bestuurder moet wees. Dit sal verdoemende gevolge vir die lughawe se huurders, die personeel en die DA-administrasie van die hoofstad hê indien Wonderboom se lisensie opgeskort word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Danie T ·

Dis ‘n skreiende skande. Mag Adv Batoyi en haar span AL die skuldiges aan die pen laat ry en gelde terugbetaal.
Die DA faal op groot skaal!!

humor ·

Arika my maat Afrika, so lyk hy van suid tot noord enduit. Dit sal heel onrealisties wees om hier iets anders te vewrwag

Doris ·

Ek dink regtig dat hulle Wonderboom lughawe kan sluit,want n mens kan nie glo al die geld wat vooruitbetaal is vir werk wat gladnie gedoen is nie, Dan kyk n mens hoe sleg lyk dit by die lughawe sluit hom sommer nou, anders gaan daar nog baie geld in verkeere sakke beland.

Strandloper ·

Knap gedaan(sic). Danksy jul wonderlike (siek) bestuurs styl en hoë(sic) intelek word die lughawe nou afgradeer…..minder is mos beter….

Posduif ·

Wanneer word al hierdie mense vervolg!!! Dis ‘n skande!!!

Leon Dormehl ·

En dan wil die DA hê ek moet vir hulle stem. Nee Steenhuizen/Zille, julle gaan baie besig raak voor ek na die DA kyk.

AndrewL ·

Dit wil al hoe meer lyk asof die party nie saak maak nie, dis die mense.

Leer ook nie. ·

En wanneer gaan hierdie mense leer jy betaal nie die klomp vir werk wat nog nie gedoen is nie.
Die werk word gedoen, inspekteur die eindresultaat, foute moet herstel word, DAN EERS word betaling gemaak. Selfs as net n deposito gegee word, verdwyn hul spoorloos daarmee, sonder enige werk wat gedoen is.
Mens noem dit common sense.

Waarheid ·

Weereens bewys. Toe Hendrik Kleynhans daar was sou Lughawe opgegradeer word na 6 wat beteken hy het uitstekende werk gedoen maar was n bedreiging vir die Munisipaliteit. Stuur hom terug (wat nie sal gebeur nie) en Lughawe sal weer reggeruk word. Onbevoegde mense wat geen benul van Lughawe bestuur het nie is aangestel. Het daar gewerk en politiek het weereens ingetree. Skande verby.

lee ·

Dis alles die “muurtjie” se skuld, en die foutiewe heining..
spanne om spanne te ondersoek wat nog spanne moet ondersoek en nog plek maak vir nog spanne se ondersoek en skelmstreke !!
O..wee..julle skelmgeid darem…
waar gaan dit ophou ??

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.