Wonderboom-lughawe gesluit oor veiligheidsrisiko’s

(Foto: Facebook)

Die Wonderboom Lughawe in Pretoria is Donderdagmiddag vir alle lugverkeer gesluit weens ernstige veiligheidsrisiko’s.

Ian Melamed, die nuwe lughawebestuurder, het dié drastiese stap geneem omdat die lughawe se gras glo te lank is. Hy het die huurders slegs 30 minute kennis gegee voor die bevel amptelik van krag geword het.

Die lughawe is skynbaar met die medewete van Burgerlugvaart gesluit.

Melamed het vanmiddag aan ontstoke huurders en eienaars van vliegskole by Wonderboom gesê hy was genoodsaak om die lughawe te sluit sonder om die nodige vooraf kennisgewing uit te reik omdat hy geen verdere risiko’s wou waag nie.

Maroela Media het ʼn klankgreep van die vergadering tussen Melamed en die huurders ontvang waarin Melamed sê dit is duidelik dat niemand verstaan hoe lugvaart werk nie.

“Wat gebeur as daar ʼn voorval of ʼn ongeluk is terwyl ek wag dat daar genoegsame tyd moet verloop?” vra hy terwyl die woedende huurders hom met vrae bestook.

Die lughawe was sedert Augustus 2019 in die nuus weens vele klagtes oor die vorige bestuur. Professional Aviation Services het hul kontrak met die Tshwane Metro, aan wie Wonderboom behoort, later gekanselleer en die lughawe in Desember verlaat. Hulle is toe vervang deur Ntiyiso Consulting wat Melamed as die lughawebestuurder van 1 Januarie 2020 af aangestel het.

Die Wonderboom-lughawe. (Foto: Verskaf)

Die huurders bevraagteken Melamed se aanstelling omdat niemand hulle ingelig het dat hy die nuwe lughawebestuurder is nie. Hy sê daarop dat hy deur Tshwane aangestel is en dat Burgerlugvaart sy aanstelling erken het.

Die nuwe konsultante het skynbaar steeds nie amptelike dokumente oor hul aanstelling van die Tshwane Metro ontvang nie en niemand is tans seker wie vir wat op die lughawe verantwoordelik is en wie die gras moet sny nie.

Die huurders sê hulle sou self ingespring het as hulle van Melamed se planne geweet het.

“As jy nie in 30 dae kon sien dat niemand die gras sny nie, dan het ons ʼn probleem,” sê een van die huurders. “As jy die lughawe wil bestuur in die hoop dat die munisipaliteit die gras die een of ander tyd gaan sny, kan dit weke of maande of selfs jare duur terwyl die lughawe gesluit bly.”

Christian Maiorana, die voorsitter van WAIG, die organisasie waaraan Wonderboom se huurders behoort, sê in die opname aan Melamed dat hy pas 60 ondernemings gesluit het. “Hier is 2 000 mense op die lughawe wat hierdeur geraak word.”

Melamed het laat vanmiddag aan die huurders gesê hulle kan wel op eie risiko die lughawe gebruik, maar daar is tans onsekerheid of sulke vlugte deur versekering gedek is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Hugh ·

You can’t make this stuff up, even if you’re a fiction novelist.

Rina ·

Wat het hulle verwag? Bevoegde mense wat die werk kon doen is vervang.

EvW ·

Iemand se “tjom” het nie sy deel v tender nagekom nie…..

henndrik ·

Ek reken daar moet beter kommunikasie wees, gras groei nie in 30 minute nie. Hierdie klink meer na iets anders

DieKriek ·

Wat op aarde? My dogter woon in Kameeldrift en die aanhoudende gedreun van Wonderboom vliegtuie het my mal gemaak as ek haar besoek. In Desember het ek skielik besef daar is nie meer vliegtuie nie. Wat het gebeur?

En nou, die lughawe in 30 minute gesluit omdat die gras te lank is? Die huurders betaal tog seker deur die nek vir hierdie diens. Dis verregaande!

Skyspy007 ·

As die gedreun van die vliegtuie jou mal maak, BLY DAN WEG. Die “vliegveld” (lughawe) bestaan al vir donkie jare en is integrale deel van Wonderboom. SAPS se Lugvleuel is ook daar gehuisves.

DieKriek ·

Arnold, dis n vieslike antwoord, weet jy, en totaal onnodig.

HBK ·

Ek stem saam met Arnold. Ek het in die omgewing grootgeword, Die Sondag middag gedreun van die valskerm vliegtuie is eens met die omgewing. Dit het my nooit gepla nie.

DieKriek ·

HBK, die sleutel is “ek het in die omgewing grootgeword”; dit was deel van jou omgewing. Ek woon al amper 19 jaar in n baie stil omgewing op die platteland. Hier is net voëls. Die punt van my pos is dat dit baie, baie besig was op Wonderboom en skielik stil, nie om te kla oor die geraas nie (wat buitendien onvermydelik is). Hoekom nou pik op n mindere punt en mense aanval?

Leon ·

As jy ‘n huis huur. Verwag jy die bestuurder van die maatskappy wat die huis uit verhuur moet jou gras sny. Asseblief. As jy huur is jy verantwoordelik vir die gras.

Moedeloos ·

Lang gras kan vliegtuie aan die brand laat slaan. Wat dan? Liewers bang Jan as dooie Jan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.