Wonderboom-lughawe: Munisipaliteit wil appelleer

Stevens Mokgalapa, voormalige burgemeester van Tshwane, gee terugvoer oor planne om die sukkelende Wonderboom-lughawe reg te ruk. (Foto: Christel Cornelissen)

Die Tshwane-munisipaliteit gaan appelleer teen ʼn bevel van die hof dat die aanstelling van die huidige konsultante opgeskort en ʼn nuwe bestuurder binne 15 dae by die Wonderboom-lughawe aangestel word.

Die Noord-Gautengse hooggeregshof het Woensdag in die guns van die Wonderboom Lughawe Belangegroep (WAIG) bevind, wat op 3 Februarie ʼn dringende hofaansoek gebring het om Tshwane-munisipaliteit onder meer te verplig om kundiges aan te stel om die lughawe te bestuur. Hulle beweer die lughawe word ondoeltreffend bestuur en openbare fondse wanaangewend.

Die stad het Ntiyiso Consulting laat in 2019 as die lughawe se konsultant aangestel. Dit is dié aanstelling wat nou ongedaan gemaak word deur die hofuitspraak.

Die stadsraad sê nou hulle verwelkom die uitspraak, maar gaan daarteen appelleer. “Hoewel die stad se administrasie hoë agting vir die wet het, het ons besluit om teen die uitspraak te appelleer weens wesenlike oorwegings,” lui ʼn verklaring Donderdag deur die stadsraad. “Die besluit om te appelleer is in belang daarvan om optimale operasionele kapasiteit en winsgewendheid van die Wonderboom-lughawe te verseker.”

Henk Kraaij, verteenwoordiger van die WAIG, sê hulle is baie tevrede met die hof se uitspraak en dat dit ʼn stap in die regte rigting is om die lughawe op sy eertydse standaard te kry. “Ons sal maar moet kyk wat nou verder gaan gebeur,” sê hy met verwysing na Tshwane se kennisgewing dat hulle gaan appelleer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

henndrik ·

Is reg, appeleer, maar as julle dit ook verloor is die kostes op julle persoonlik, die belastingbetalers gaan nie daarvoor pa staan nie

Nie Verbaas ·

Ek stem saam. Hulle wil appeleer? As daar n plan is, is dit net lee woorde van mense wat geen benul het hoe om sake suksesvol te bestuur nie. Gee dit op en laat julle maatjies die pad vat!

koos10 ·

Die DA geleide stadsraad het hand en mond belowe dat hulle vir ‘n beter lewe sorg as hulle in beheer kom in Pretoria. Jammer, ek het nog niks daarvan gesien nie, wel baie agteruit gang.
Hulle word hof toe gesleep om hulle WERK te doen, dan beveel die hof dat hulle hulle werk MOET doen, en nou wil hulle daar teen appeleer, en vir dit alles gebruik hulle my geld daarvoor. My geld wat ek betaal vir die “voorreg” om op goeie paaie te ry, om straatligte te hê, om veilig te wees, om nie deur wettelose taxis op die paaie geteister word nie ens.

Santjie ·

dis nou snaaks…. hulle sit en niksdoen en nou dat hulle “uitgevang” is, nou is hulle op die agterpote!

lollapot ·

Ek wonder aan wie se familie behoort Ntiyiso Consulting?

Marie ·

Google dit…. die BBBEEEEEEE is reg daar is darem een wit man

Pieter ·

Die DA gooi hul reputasie weg. Lyk my Wonderboom lughawe onder die DA en die SAA onder die ANC word ewe vrot en korrup bestuur. Dit is duidelik dat die huidige bestuursmodel nie werk nie vir doeltreffendheid en winsgewendheid nie, dit werk slegs vir die onbekwame begunstigdes.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.