Wonderboom-lughawe weer oopgestel

Belanghebbendes was Vrydagoggend reg om die lang gras self te sny. Die lughawe is vir verkeer gesluit weens die risiko wat die gras ingehou het.

Die Wonderboom-lughawe is binne 24 uur gesluit en toe weer oopgestel.

Huurders by die Wonderboom-lughawe in die noorde van Pretoria was Donderdag woedend nadat die lughawebestuurder, Ian Melamed, die ingrypende stap gedoen het om die lughawe vir alle lugverkeer te sluit.

Die lughawe is vanoggend wel weer oopgestel.

Melamed het gister aan huurders gesê hy is genoodsaak om tot dié stap oor te gaan omdat die lang gras by die lughawe ʼn veiligheidsrisiko ingehou het. ʼn Belanghebbende met wie Maroela Media Vrydagoggend gepraat het, sê die gras groei al vyf maande lank onbeheersd en hoewel dit ʼn gevaar kan inhou, kon dit nie vir enigiemand ʼn verrassing gewees het nie.

Makgorometja Makgata, die waarnemende stadsbestuurder van die Tshwane-metroraad, het Vrydag terugvoer oor die situasie gegee. (Foto: City of Tshwane/Twitter)

Melamed het gesê die Tshwane-metroraad het nie trekkers beskikbaar gestel om die gras te sny nie, maar huurders sê hulle sou self ingespring het as hulle geweet het wat die gevolge gaan wees. Hulle het dit Vrydagoggend ook gedoen, maar die Tshwane-metroraad het ingegryp en gesê ʼn werkspermit sal vandag teen 12:00 beskikbaar wees sodat die stad se eie kontrakteurs die werk kan doen.

Elmarie Linde, DA-voorsitter van die staande komitee vir paaie en vervoer in die Tshwane-metroraad, het gesê die stad het groot waardering vir die huurders se bereidwilligheid om te help.

Hulle het binne ure gemobiliseer en werktuie gereël om die werk gedoen te kry, maar regulasies bepaal dat nie net enigeen werk by die lughawe kan onderneem nie.

Volgens Linde wil die stad voortaan veel nouer saamwerk met die Wonderboom Airport Interest Group, oftewel WAIG, om probleme wat onder hulle aandag kom vinniger te takel. WAIG is die organisasie waaraan Wonderboom se huurders behoort.

Belanghebbendes was woedend nadat die lughawe op kort kennisgewing gesluit is.

Linde sê aandvlugte by die lughawe sal na verwagting teen vanaand (31 Januarie) hervat word en indien nie op die laatste dan Saterdagaand.

Die staande komitee het verlede jaar ʼn verslag met aanbevelings aan die raad voorgelê – wat ook aanvaar is – en Linde sê daar gaan seker gemaak word die werk word gedoen om sake by die lughawe te begin omkeer. Die metroraad het ook ʼn transaksieraadgewer aangestel om die sukkelende lughawe te help regruk en dié maatskappy het aan die begin van die jaar met sy werk begin.

“Ons is in die proses om beheer by die lughawe terug te neem, maar dit gaan ʼn wyle neem om sake om te draai.”

“Die stad beoog ook om binnekort sélf ʼn lughawebestuurder aan te stel,” het Linde gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Stof

So dankbaar dat die slang in lang gras gewyk het. Kennisse het belange daar, en selfs met ‘n paar uur se stagnasie, het hulle skade berokken.
Ek vertrou dat die ander personeel vir wie se toewyding ek net lof het, hulle bestuur sal motiveer tot soortgelyke passie.

Moedeloos

Gelukkig het almal op n beskaafte manier ingespring om te help en nie afgebrand dat daar niks oor is nie. Baie geluk met jul samewerking sodat almal weer besigheid kan doen.

Pampoen

Dit sou dalk beter gewees het om te reel dat die gras gesny word eerder as om die lughawe te sluit.