‘Wonderlike’ herstel ná kleuter se amper-verdrinking

Klein Janlo Rademeyer herstel goed nadat hy vroeër vanjaar in ‘n swembad beland en amper verdrink het.

ʼn Driejarige seuntjie wat vroeër vanjaar in ʼn swembad in Centurion beland en amper verdrink het, herstel in hierdie stadium ongelooflik goed.

Klein Janlo Rademeyer het in Mei in die swembad beland en is in ʼn bedenklike toestand na ʼn Johannesburgse hospitaal gevlieg. Hy was nie by sy bewussyn nie. Sy pa, Emile, ʼn leraar by die Doornkloof-familiekerk in Centurion, en sy ma, Carin, ʼn onderwyseres by die Laerskool Wierdapark, het vir voorbidding gepleit.

Vandag is dié jong vegtertjie goed op die pad na genesing.

“Met Janlo gaan dit ongelooflik goed en hy vorder baie vinniger as wat enigeen kon verwag of voorspel het. Sy rehabilitasie vorder uitstekend,” het Louis Dekker, hoof van die Laerskool Wierdapark, gesê.

“Hy eet al vol etes op sy eie, ontvang slegs medikasie en water deur sy voedingsbuis, speel met verskeie speelgoed en balle, bou legkaarte, lees boek, speel klavier en nog vele meer. Hy herken sy familie en kan nog ál die karakters uit sy gunstelingtekenprente onthou en op die naam noem.”

Janlo Rademeyer ondergaan steeds voltyds rehabilitasie.

Dekker het ook diegene wat die gesin sonder ophou gedra het, bedank.

“Sonder almal se gebede sou hierdie wonderlike terugvoer nie moontlik gewees het nie. Ons versoek dat almal sal voortgaan. Hoewel Janlo ongelooflik vorder, is daar nog ʼn lang pad tot volkome genesing.”

Volgens Dekker gaan Janlo nog tot minstens Oktober voltydse rehabilitasie ontvang. Hy sal daarna op ʼn deeltydse grondslag rehabilitasieprogramme ondergaan.

“Sy familie wil graag die hele gemeenskap wat hulle ondersteun het en nog steeds ondersteun, hartlik bedank.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jakes ·

Ons is oorstelp van vreugde vir die seuntjie en sy familie. Ons dien n lewende God.

Daleen ·

Dis wonderlike nuus. Daar is krag in gebed. Bid dat Janlo ten volle sal herstel. Asseblief pas die klein wonderwerkie soos goud op dat wat met hom gebeur het nooit weer gebeur nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.