‘Wonderwerk-baba’ ná ouers 13 jaar probeer swanger raak

(Argieffoto)

ʼn Vrou van Phoenix naby Durban in KwaZulu-Natal het onlangs geboorte geskenk aan ʼn gesonde babaseun nadat sy en haar man 13 jaar lank gesukkel het om swanger te raak nadat voortydige eierstokversaking by haar gediagnoseer is.

Dié kondisie word gediagnoseer by vroue wat voor die ouderdom van 40 aan ʼn verlies van normale eierstokfunksie ly.

Baba Ayush is op 30 April vanjaar met ʼn stewige gewig van 3,42 kg by die Netcare St. Augustine-hospitaal gebore.

Ayush se ma, Ashlesha Raghubir (34), het ʼn nuwe mediese prosedure, ʼn plaatjieryke plasma-prosedure (PRP), ondergaan om haar eierstokke te verjong en kon enkele weke ná dié behandeling natuurlik swanger raak met ʼn sogenaamde “wonderwerk-baba”.

Dié prosedure is in 2017 in die veld van reproduktiewe medisyne bekendgestel. “Die PRP-prosedure behels die inspuit van plaatjieryke plasma in die eierstokke om sodoende die stamselle te stimuleer waarna die eierstokke nuwe eierselle genereer.

“Sover ons kennis strek, is hierdie die eerste suksesvolle swangerskap in Suid-Afrika waar die PRP-prosedure gebruik is,” het dr. Sagie Naidu, ʼn ginekoloog, verloskundige en fertiliteitspesialis by die Durbanse fertiliteitskliniek van die Netcare St. Augustine-hospitaal, luidens ʼn mediaverklaring gesê.

Hy het gesê hy en sy kollegas is opgewonde oor die resultaat van die prosedure. “Ons is uiters verheug dat ons dié lieflike gesin kon help om hul eerste kind in die wêreld te bring. Ons glo dat dié prosedure regtig hoop skep vir vroue in Suid-Afrika wat aan voortydige eierstokversaking ly en beskou dit as ʼn belangrike deurbraak vir reproduktiewe medisyne in Suid-Afrika.”

Raghubir vertel sy en haar man, Arun, het jare gesukkel om swanger te raak en dat hul so te sê hoop verloor het.

“Oor die jare het ʼn magdom dokters vir ons gesê dat ons nie enigsins swanger sal raak nie en dat ons eerder ʼn kind moet aanneem of dit moet oorweeg om swanger te raak deur middel van eierskenking, aangesien ek glad nie ovuleer het nie.

“Ons was egter vasberade om ons eie baba te hê en nadat ons soveel goeie terugvoer gekry het oor wat dr. Naidu en die Durbanse fertiliteitskliniek vermag, het ons besluit om ʼn afspraak te maak om hom te besoek.”

Raghubir het bygevoeg dat Naidu nie soos ander dokters haar en haar man probeer afraai het om te probeer om hul eie baba te kry nie. “Inteendeel het hy deurlopend ʼn baie positiewe gesindheid oor ons situasie gehad en het hy ons verseker dat hy alles in sy vermoë sal doen om ʼn oplossing vir die uitdagings wat ons in die gesig staar te vind.”

Sy het gesê Naidu het aan hulle verduidelik hoewel die PRP-prosedure nog nie voorheen in Suid-Afrika uitgevoer is nie, dit internasionaal goeie resultate kry by vroue met voortydige eierstokversaking. “Aangesien hy ons verseker het dat dit ʼn relatiewe maklike prosedure is wat veilig is om uit te voer, het ons besluit ons het niks om te verloor nie en om daarvoor te gaan.”

Die prosedure is in Junie verlede jaar uitgevoer en drie maande later kon Naidu die goeie nuus met die Raghubirs deel dat Ashlesha swanger is.

“Ek kon skaars glo dat ek uiteindelik swanger was – dit tel beslis as een van die gelukkigste dae van my lewe. Gegewe hoe moeilik dit vir ons was om swanger te raak, glo ons Ayush is ʼn wonderwerk-baba en ons is oorstelp om hom vandag by ons te hê,” het Raghubir gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Lizelle ·

God sorg altyd vir wonderwerke. Ek en my man was 14jaar alleen voor ons eerste dogtertjie se geboorte. Baie geluk met jul seuntjie. Hoop hy bring jul net vreugde.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.