‘Wonderwerk’ dat jagter leef ná buffel hom gaffel

Bossie Mostert (39) (Foto: Facebook)

Boodskappe van bemoediging uit die jagtergemeenskap stroom van reg oor die wêreld in nadat Bossie Mostert (39), ʼn beroepsjagter van Limpopo, verlede week deur ʼn buffel gegaffel is.

Mostert is steeds in die waakeenheid van die Zoutpansberg- private hospitaal in Louis Trichardt nadat hy ernstig in die voorval beseer is.

Ronel Klopper-Pieterse (41), Mostert se verloofde, het gesê hy het verlede Dinsdag saam met ʼn kliënt gaan jag toe dié ʼn buffel gekwes het. Die dier se spoor is nog dieselfde dag, Woensdag, én Donderdag gevolg. Vrydagoggend vroeg het Mostert, twee spoorsnyers en nóg twee beroepsjagters weer uitgegaan om na die buffel te soek. Mostert het sy presiese ligging op die radio aan sy kollegas gegee en hy en die spoorsnyers het uit hul voertuig geklim om na spore te kyk.

Hulle het net ʼn paar treë die bosse ingestap toe die buffel op hulle afkom.

Klopper-Pieterse het gesê Mostert het klaarblyklik vir Robert Chisaze, ʼn ongewapende spoorsnyer, uit die pad gestamp toe die buffel storm en ʼn skoot afgevuur. Met sy volgende skoot was die buffel op Mostert en het hy weer ʼn skoot afgevuur. Sy het gesê Mostert het vertel die buffel het na hom gestaar en toe weggeloop. Chizane is nie beseer nie.

Die dier is kort daarna doodgeskiet.

Mostert se twee kollegas het met hom na die hospitaal op Louis Trichardt gejaag waar dokters verstom was dat hy ten spyte van sy ernstige beserings oorleef het. Die buffel se horings het hom twee keer deurboor en sy diafragma beskadig wat sy asemhaling bemoeilik. Van sy ribbes is gebreek en sy regterbobeen is deurboor.

“Hy is baie gelukkig dat hy leef. Alles is so skrams gemis, dis regtig ʼn wonderwerk,” het Klopper-Pieterse gesê.

“Dit was ʼn helse skok, verskriklik. Gelukkig is hy so ʼn sterk mens. Uit sy siekbed gee hy bemoediging aan ander,” het sy vertel. “Maar hy het verskriklik baie pyn en hy is baie moeg.”

Mostert is ʼn ervare beroepsjagter en bedryf Limpopo Big Game Safaris al vir meer as ʼn dekade. “Alles wat hulle doen, word altyd fyn uitgewerk. Almal se veiligheid word altyd voorop gestel. Hierdie [voorval] was heeltemal onvoorspelbaar,” het Klopper-Pieterse gesê.

“Daar is ʼn rede hoekom ʼn buffel ons logo is; dis ʼn dier waarvoor jy ongelooflike respek moet hê.”

ʼn Fonds is intussen gestig om Mostert met sy mediese onkost te help en jagters van reg oor die wêreld het reeds bydrae gemaak of Mostert spoedige beterskap toegewens.

“Die gemeenskap het regtig saamgestaan. Ons het reeds ongelooflik baie ondersteuning gekry. Sy kliënte het hom ook baie lief en het groot respek vir hom. Van Noorweë tot Ierland. Toe hulle hoor Bossie het seergekry, het hulle dadelik ingespring.”

Mostert sal na verwagting nog ʼn paar dae in die waakeenheid behandel word. Hy ontvang fisioterapie en het die afgelope week ʼn operasie aan sy been ondergaan, onder meer om die wond skoon te maak.

“Een van die dokters het vir my gesê die meeste mense oorleef nie dié soort wonde nie. Dalk wou hulle my voorberei. Die dokter het gesê dis ʼn wonderwerk dat hy nog hier is.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Sandy ·

As ek die boeke van my skooldae van Doc Immelman onthou, is die gekweste buffel so slim soos die houtjie van die galg. Hulle “backtrack” en kry jou sommer terug.

Willie ·

Baie hartseer en sleg, maar ek is ook nie n voorstaander van jag nie… Ek kan nog nooit verstaan wat is die “thrill” nie..

Gaitsigubib ·

Kallie, mens word dikwels stomgeslaan deur sulke mense se onkunde. Hulle verstaan nie nie wat dra by tot bewaring nie. Hul bydrae tot bewanring is dus presies nul. Dit verstom my dat hulle vleis en vis eet en hout meubels in hul huise het, want al lewe n boom mag mens hom blykbaar kap sonder om 2 keer te dink. Hulle sal nie skroom om alle wildsplase tot niet te laat vergaan (dus steun hulle gewoonlik ook grondgrype), en as daar niks oor is nie dan is hulle baie trots daarop. Die mense hou ook nie van debat nie want hulle kan hul denkwyse nie verdedig of verduidelik nie. Ek is n PH en het ook 10 jaar vir Sanparke gewerk. Ek kan n wysneus sonder kennis op n myl sien.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.