‘Wonderwerk’ dat jong man (21) leef ná sweeftuigongeluk

Kelvin van Baalen (Foto: Facebook)

’n Jong man van Johannesburg is in ʼn geïnduseerde koma in die brandwaakeenheid van die Netcare Milpark-hospitaal drie maande nadat hy erge brandwonde in ’n sweeftuigongeluk opgedoen het.

Kelvin van Baalen (21), ’n oudleerder van King Edward VII School, het op 29 Junie aan die Baberton-sweeftuig-ope-kompetisie deelgeneem toe sy sweeftuig se vlerk per ongeluk aan ’n kragdraad geraak het. Hy het ten tyde van dié ongeluk voorgeloop in die kompetisie.

Volgens Anneri du Plooy, direkteur van die Hero Burn Foundation wat die Van Baalen-gesin emosioneel bystaan, het Kelvin laag gevlieg om te land en nie die kragdrade gesien nie. Die elektrisiteit het tydens die aanraking ’n vonk veroorsaak wat ’n brand laat ontstaan het en Van Baalen is in die vlamme vasgevang.

Die stigting verduidelik dat die gras onder hom gevolglik ook aan die brand geslaan het. Paramedici het op Van Baalen afgekom met 61,5% se derde- en vierdegraadse brandwonde oor sy lyf. “Hy was in verskriklike pyn en sy klere was van sy lyf afgebrand.”

Van Baalen is in die Milpark-hospitaal opgeneem wat bekend is vir die behandeling van brandwonde. “Dit is ’n wonderwerk dat hy die ongeluk oorleef het,” glo du Plooy.

Kelvin van Baalen (Foto: Facebook)

Van Baalen se longe het weens sy beserings platgeval en een van sy niere het versaak. Sy niere het intussen verbeter, sy longe funksioneer weer op sy eie en dokters is besig met veloorplantings.

“Hy het ’n fantastiese span dokters wat na hom kyk en besluite word nie ligtelik geneem nie.”

Dit is ook waar wat die besluit betref om Van Baalen vir die volgende twee weke in ʼn geïnduseerde koma te plaas. Du Plooy verduidelik dat die geinduseerde koma nie noodwendig ’n slegte ding is nie. “Sy organe kan in dié tyd rus en dit help met die ontsettende pyn wanneer hy twee maal per dag wondsorg moet kry.”

Sy verduidelik verder enige brandwonde is traumaties, maar elektriese brandwonde is baie erg, “aangesien jy eers later besef wat die skade is”.

Van Baalen kon voor hy in die koma geplaas is slegs fluister om te kommunikeer. Du Plooy verduidelik dat sy stembande ook seergekry het en dit ʼn hele ruk vir stembande neem om te genees.

Volgens Du Plooy is Van Balen se gemoedstoestand onder omstandighede goed. “Dit gaan op en af wat kenmerkend van brandslagoffers is. Dit is uiteraard traumaties om vir drie maande in die hospitaal te lê en hy raak nog gewoond aan hierdie ‘nuwe normaal’.”

Sy verduidelik dat brandslagoffers oor die algemeen ’n span van vier tot vyf dokters het wat hulle gewoonlik oor maande in die brandwaakeenheid behandel. Sodra dié pasiënte sterk genoeg is, word hulle na ’n gewone brandeenheid oorgeplaas waar hul wonde verder behandel word. Sy sê pasiënte begin reeds in die waakeenheid fisioterapie en arbeidsterapie kry.

“Hy is ’n ongelooflike sterk en postiewe seun. Niks sal hom terughou nie,” sê Du Plooy.

Sy voeg by die Hero Burn Foundation sal deurgaans betrokke bly op Van Baalen se pad na herstel. Hy sal ook deur dié stigting in kontak gebring word met ander pasiënte wat soortgelyke brandwonde opgedoen het sodat die pasiënte mekaar kan ondersteun.

Besoek gerus Hero Burn Foundation se Facebookblad vir meer inligting oor Van Baalen se vordering. Gebruik die hutsmerk #HeroKelvin as verwysing vir enige inbetalings om ’n finansiële bydrae te maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

leser ·

sterkte kelvin, glo in die Here, Hy is met jou en sal help met genesing

Haan ·

Eiertjie te lê: daar is n groot verskil tussen “sweeftuig” en “vlerksweef”. Die een lyk soos n vliegtuig en die ander is sfeef met n valskerm vliër toestel. Laasgenoemde is in die foto bo-aan die berig

Barend ·

Ek is bitterlik pro Afrikaans, maar by lugsporte gebruik ek Engelse name. Gliding, hang gliding, paragliding, skydiving, ens.

Blommie ·

Sjoe ek dink hierdie verpleegsters is darm maar wonderlik, deur hoeveel trauma moet hulle nie gaan nie. Hoe hou jy jouself sterk om ander te help en deur alles te werk.
Maar ons waardeer julle werk opreg baie en is so dankbaar vir alles wat julle vir elke liewe brandslagoffer doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.