‘Wonderwerk’ dat man (21) leef ná olifant hom gaffel

Erick Breedt (21) in die hospitaal. Foto: Verskaf.

Erick Breedt (21), ‘n lid van die Protrack-teenstropingseenheid in Limpopo, het ernstige beserings opgedoen toe ʼn olifant hom gegaffel het.

Annelie Jordaan, Erick se ma, het aan Maroela Media gesê Erick en nog ʼn bewaarder was na bewering op 1 Februarie aan diens en het heinings nagegaan by ʼn lodge buite Hoedspruit. Erick help met die beskerming van olifante en renosters teen stropers.

“Vier olifante het op Erick en die ander man afgestorm. Erick het links gehardloop en die ander een regs. Die olifant het hom gejaag, gekniel en hom basies teen ʼn boom vasgepen en hom teen die boom geslaan,” het Jordaan gesê.

Jordaan verduidelik dat die ander bewaarder na die hek van die lodge toe gehardloop het om daar hulp te ontbied.

“Erick het met sy beserings en al sowat 30 m na die pad gekruip waar iemand wat verbygery het hom gesien en die paramedici in kennis gestel het. Volgens hulle het hy in die pad gesit en druk op sy eie wonde toegepas toe hulle by die toneel opdaag. Die olifante was heeltyd nog in die omtrek en daar moes skote afgevuur word om hulle te verdryf.”

Volgens haar is Erick se keel oopgekloof, sy slukderm en tragea is afgeruk, sy enkel gebreek, sy kaak op drie plekke gebreek en sy stembande en senuwee in sy gesig beskadig.

Erick is na die Mediclinic Tzaneen gehaas vir noodbehandeling. “Die dokter het gesê dis ʼn wonderwerk dat sy nek en slagare nie ook af is nie.”

ʼn Facebook-blad Support for Erick is begin om geld in te samel om hom na ʼn ander hospitaal oor te plaas. “ProTrack [by wie Erick werksaam is] se versekering betaal in hierdie stadium vir die behandeling. Ons moes net self vir sy oorplasing na Milpark-hospitaal in Johannesburg betaal.”

Die rekening vir ʼn mediese helikopter met al die nodige toerusting beloop sowat R170 000.

Erick Breedt. Foto: Verskaf.

“Ons wou hom gisteraand skuif maar toe laat weet hulle die weer in Johannesburg is swaar en hulle verwag dit gaan nog ʼn rukkie aanhou. Hy is toe met ʼn ALS-ambulans van Netcare 911 vervoer. Ons kon ʼn reëling tref met hulle oor die finansies, hulle was regtig wonderlik.”

Erick is tans in die hoësorgeenheid van die Milpark-hospitaal. In dié stadium is die pad vorentoe nog onduidelik, maar daar is ʼn moontlikheid dat hy nooit weer sal kan praat nie weens die onherstelbare skade aan sy stembande en dat hy moeilik sal sluk en eet.

“Die rehabilitasieproses gaan baie lank duur. Hy sal weer moet leer kommunikeer. As ʼn ma wens ek ek kon my kind se pyn vat. Ek is baie dankbaar en oorweldig vir die hulp en ondersteuning wat van reg oor die wêreld kom.”

Jordaan het gesê sy wil ʼn nieregeringsorganisasie met die naam “Vaatjie” [sy bynaam] begin wat ander mense wat in dié soort werkomgewing beseer word bystaan.

“Die ironie is hy sou dié week huis toe kom vir sy af-week. Nou het hy huis toe gekom maar op ʼn ander manier.”

Besoek die genoemde Facebook-blad indien jy ʼn bydra wil maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Genieve ·

Die Here is inbeheer van alles as ons net glo is alle dinge moontlik en daar is geen geheim van God kan doen wat Hy doen vir ander kan hy ook vir Erick doen, baie sterkte vir die families.

Hanna ·

Ons bid vir hom en sy familie. Dit gaan n lang en moeilike pad wees. Vertrou en glo

Hannetjie Harvie ·

Baie sterkte, ek is bly sy werkgewer se versekering betaal. Hy is n pragtige seun, ek bid dat hy volkome sal herstel

Piet ·

Ek wonder waar is al die dierekenners vandag wat al hulle kennis van diere gedrag met ons wil deel (al weet hulle boggerol). Jong man, as jy nie in wonderwerke geglo het nie gaan jy seker van nou af begin – Sterte vir die pad vorentoe!

Ben ·

Sterkte en bly glo. Niks is te groot vir God se hande en Sy krag nie. Vasbyt tjomma en tannie x

Cheryl ·

Vaatjie jy is ‘n vegter en ons weet dat God sy genesende had oor jou hou. Sterkte aan Annelie en Monique asook julle familie wat so dapper is.

Gesiggie ·

Wat n tragedie… hoekom het nie een bewaarder n radio beheer toerusting by hul om iemand te kontak, of hoekom het hul nie dadelik n skoot afgevuur om die Olifant te verjaag…. het nie een van hul dan n geweer by hul? so is exstra tyd gemors.. ? ek kan net dink deur waste pyn Erick moes gaan en uit vrees nog gekruip … Sterkte aan jou Erick en aan jou familie, mag God jou genees en mag jy 100% herstel..

Bokkie ·

Ek wens Erick en sy familie baie sterkte toe met sy herstel. Daar is iets wat my egter dwars in die krop steek. (Ek praat nie nou geensins van Erick se geval nie). Mediese fondse benodig soveel motivering wanneer n pasient ge “airlift” moet word. Deesdae word elke Jan Rap en sy maat – wat tien teen een geen mediese fond het nie – vervoer met n helikopter na n staatshospitaal.

Anoniem ·

Wat ‘n besondere jongman wat in so ‘n beseerde en getraumatiseerde toestand kon kophou om hulp te gaan soek en noodhulp op homself toepas. Mag die Here jou en jou familie deur hierdie moeilike tye dra.

Nel ·

@Piet. Jou antwoord lê in die tweede paragraaf van die berig hierbo. Stropery en geweerskote. Die olifant het die twee mans vir stropers aangesien en het heelwaarskynlik al voorheen onder die boewe deurgeloop.

Dilene ·

Hoekom doen julle dit nie op workmens compensation nie? Dit was immers ñ besering aan diens. Hulle sal vir alles betaal. Tensy die werkgewer nie geregistreer is nie wat ek twyfel…

Dries ·

Maar hoekom is olifante so agresief in die laaste tyd, in die wiltuin is ek al n paar keer gejaag deur olifante. Ek vermoet die toeriste terg hulle vir die rede.

Tammy ·

Ja , Dries jy is heeltemal reg. Ek besoek Krugerwildtuin tot 5 keer per jaar en het al male sonder tal gesien hoe mense, en ek wil dit noem, van die parkamptenare tot byna teen die olifante ry met hulle bakkies en die diere verpes. Maar ek wil ook noem dat hulle nie net die olfante terg nie maar ook ander diere. Ek het dit al rapporteer maar daar gebeur niks, net mooi niks. Nou word die diere blameer vir hulle gedrag.
Ek bid dat hierdie jongman 100% herstel en ek wil hom bedank vir sy onbaatsugtige werk wat hy doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.