“Wonderwerk” dat SA-man leef ná motorongeluk in VSA

Ruann Hattingh en sy vrou Sunshine. Foto: Verskaf.

Ruann Hattingh en sy vrou Sunshine. Foto: Verskaf.

“My hart is ongelooflik seer dat ek nog nie by hom kon wees nie, maar terselfdertyd is ek oneindig dankbaar dat my kind nog leef.” Só sê die ma van ʼn 24-jarige man wat ernstig beseer is tydens ʼn ongeluk met ʼn vragmotor twee weke gelede in Amerika.

Ruann Hattingh, wat ná matriek in 2008 Amerika toe is, was op 16 Januarie vanjaar vroegoggend in die donker op pad werk toe toe hy in die ongeluk betrokke was. Die vragmotor het skynbaar ‘n verkeersteken by ‘n kruising verontagsaam en glo ook nie met ligte aan bestuur nie. Hattingh se voertuig het teen die agterkant van die vragmotor gebots en in ‘n sloot langs die pad tot stilstand gekom.

“Hy het self 911 vanuit die wrak van sy motor gebel. Hy was vasgepen en die brandweer het omtrent ʼn uur gespook om hom los te sny,” het sy ma, Anne, Maandag aan Maroela Media gesê.

Ruann is ernstig beseer en is met ʼn helikopter na ʼn hospitaal geneem. Sy linkerbeen is op vier plekke gebreek, en verskeie beentjies in sy linkervoet is ook gebreek. Sy regterbeen is onder die knie gebreek. Hy het sedert sy opname drie operasies ondergaan, en talle lê nog voor. Hoewel hy Vrydag ontslaan is, is hy steeds in ‘n rolstoel met penne in sy bene en voet, en is hy vir ses maande afgeboek.

Die wrak van Ruann se voertuig.

Die wrak van Ruann se voertuig.

Anne en Piet Hattingh woon tussen Brits en Hartbeespoort in Noordwes. Hulle vertel dat Ruann die liefde van sy lewe, Sunshine, in die VSA ontmoet het en ongeveer ‘n jaar gelede met haar getroud is. Die jonggetroude egpaar woon in Bartlesville, Oklahoma. Ruann werk tans daar as ʼn verteenwoordiger vir ʼn maatskappy wat ou kookolie by kitskosrestaurante versamel en dan herwin.

“As ‘n mens na die wrak kyk, kan ‘n mens nie glo iemand het lewend daaruit gekom nie,” vertel Anne. “Onthou, hulle bestuurders sit aan die linkerkant van die motor.

“Ek wil bitter graag by hom wees om hom te versorg, veral as sy vrou by die werk is, maar is tans nie finansieel in staat om daarheen te reis nie. Hierdie twee oë het nog nooit so baie gehuil soos die afgelope twee weke nie,” het Anne gesê.

Sunshine se pa het uit Amerika ʼn fonds gestig om te help om geld in te samel sodat Anne en Piet hul seun kan besoek. Anne het gesê sy benodig nog R4 500 om haar vliegkaartjie te koop. Indien hulle nog geld insamel, sal haar man ook VSA toe vlieg.

Klik hier vir meer inligting oor die fonds.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Drieks ·

Is verskriklik as mens ni na jou geliefdes kan gaan. Hierdie familie oorsee is ‘n seer, teer storie.
Hoop iemand kan jul tog help……

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.