‘Wonderwerk’ dat seun gou ná fratsongeluk loop

Tryston Jansen van Vuuren (14) is Woensdag uit die Union-hospitaal in Alberton ontslaan. (Foto: Verskaf)

Tryston Jansen van Vuuren (14), wat ernstig beseer is toe hy onder ʼn massiewe buiteband beland het, het mense verstom toe hy twee weke ná dié fratsongeluk reeds weer begin loop het.

Sy pa, Jan, beskryf dit as ʼn “wonderwerk”.

Boonop is Tryston Woensdag, byna ʼn maand vroeër as verwag, uit die Unie-hospitaal in Alberton ontslaan danksy die goeie vordering wat hy elke dag maak.

Die tiener het op 13 September sy pelvis gebreek toe hy en sy maats met ʼn buiteband by die Hoërskool Dr. EG Jansen in Boksburg gespeel en dié op hom beland het. Hy het ook werwels in sy rug gekraak.

Michelle, Tryston (14), Jan en Mijanru (6) Jansen van Vuuren.

Tryston het sedertdien twee operasies aan sy bekken ondergaan en drie weke in die hospitaal deurgebring – waar hy diep in die harte van hospitaalpersoneel gekruip het.

“Tryston het tot dokters se verwagtinge oortref. Hy het regtig baie vinniger begin herstel as wat enigiemand gedink het. Ons weet dit is danksy die Here se genade.”

Van Vuuren en sy vrou, Michelle, is aanvanklik meegedeel dat hulle seun sowat agt weke in die hospitaal sou wees en dat dit lank sou neem voor hy weer sal kan loop.

Tryston stap egter al kort entjies met behulp van ʼn loopraam en is die res van die tyd in ʼn rolstoel.

“My kind is my held. Hy het soveel deursettingsvermoë en pak alles met ʼn glimlag aan. Ek is só trots op hom,” sê Van Vuuren.

Tryston Jansen van Vuuren (14) is Woensdag uit die Union-hospitaal in Alberton ontslaan. (Foto: Verskaf)

“Tryston het ook gou sy rolstoel baasgeraak, en gooi sommer self vir hom koeldrank in – ek moet net die glase uithaal.”

Van Vuuren skerts dat hy ook moet bontstaan aangesien Tryston kort-kort dreig om ʼn opskop-wegtrek (wheelie) met sy rolstoel te doen.

“Dís my kind. Hy sal dit nog wraggies probeer en dit regkry ook.”

Tryston is lief vir ekstreme sport en volgens sy pa is hy vasbeslote om een van die dae weer op sy Suzuki RM85-veldmotorfiets te klim.

Daar lê egter nog ʼn lang herstelpad voor.

“Tryston het steeds twee kateters in waarvan een na verwagting Vrydag verwyder sal word. Die tweede een behoort oor ʼn maand uit te kom,” sê Van Vuuren.

Volgens hom wag daar minstens nog twee operasies op Tryston om ʼn blaasbesering te herstel.

“Sy ureterbuis het tydens die ongeluk van sy blaas losgeskeur.”

Tryston Jansen van Vuuren (14) is Woensdag uit die Union-hospitaal in Alberton ontslaan. (Foto: Verskaf)

“Hy hanteer dit egter soos ʼn ware kampioen en is ʼn inspirasie vir ons almal.”

Van Vuuren sê hulle is uiters dankbaar om hul seun weer by die huis te hê en dat kleinboet Mijanru (6) deurlopend regstaan om sy ouboet met alles te help.

“Mijanru is soos ʼn klein dienskneg. Dis hartroerend om te sien hoe hy alles vir sy broer wil doen.”

Die gesin moes intussen verskeie veranderings in hul huis aanbring om Tryston se herstelpad makliker te maak.

“Ons het die bad in ons badkamer uitgehaal en ʼn stort ingesit. Ons moes ook die toilet skuif sodat hy maklik met die rolstoel in en uit kan beweeg.”

Benewens hierdie uitgawes het die gesin ook baie bykomende uitgawes wat nie deur hul mediese fonds gedek word nie.

Om hiermee te help is ʼn Back-a-Buddy-fonds vir Tryston gestig, waar lede van die publiek ʼn bydrae kan maak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Willem ·

Die Here se genade en ‘n positiewe gees. Die gevolg is wonderwerke!

Trotse Boervrou ·

Trots op jou Tryston! Laat jou deursettingsvermoë altyd ‘n voorbeeld vir almal wees. Sterkte met die herstelpad. Geen twyfel dat jy ten volle gaan herstel nie. Jaag dan jou drome na!

Daleen ·

Jou glimlag weerspieel die positiwiteit van jou menswees. Mag ons Hemelse Vader jou tenvolle genees. Sterkte jy is ‘n yster.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.