‘Wonderwerk’ ná kind stik, byna sterf

Ayvah-lee het Saterdag amper aan ’n lekkerny verstik. (Foto: Facebook)

“My kind is dood.”

Dít is die woorde wat Saterdag deur Danika van der Berg se kop weergalm het nadat haar 18 maande oue dogtertjie, Ayvah-lee, amper aan ’n lekkerny verstik het.

Sy het boonop haar ma gebel om te sê dat haar kind dood is.

Van der Berg was in die Clearwater-winkelsentrum in Johannesburg en het haar dogtertjie in ’n stootwaentjie gestoot terwyl haar kind aan ’n lekker gekou het. Die lekker het op die vloer geval en sy het dit weggegooi.

“Toe ek weer sien, maak haar handjie snaaks en haar koppie trek skeef.”

Volgens Van der Berg het sy dadelik gestop en gesien dat haar kind blou is. Dit het gelyk of sy stik.

“Sy het ook opgegooi, vermoedelik soos haar liggaam probeer het om die sweetie uit te kry.”

Van der Berg verduidelik dat sy Ayvah-lee vorentoe gedruk en op die rug gevryf het sodat sy kan opgooi.

“Ek het haar uit die karretjie geruk en voor ek myself kon kry, het ek my vinger in haar keel gedruk om die lekker uit te kry, maar ek kon niks voel nie.”

Danika van der Berg en haar dogtertjie, Ayvah-lee. (Foto: Facebook)

Volgens Van der Berg het mense die een ná die ander ingespring om te help, maar alle pogings was oënskynlik tevergeefs.

“Sy het net blouer en blouer geraak.

“Eindelik het hulle my lewelose, potblou twee-poniestert-dogtertjie op die vloer neergelê om noodhulp en mond-tot-mond-asemhaling toe te pas.”

Toe Ayvah-lee se oë omdop, het Van der Berg, en vermoedelik ook die omstanders, gedink sy is dood.

“Ek het gehoor hoe ’n vrou rustig vra of daar nie iets is waarmee ’n mens ‘haar kan toegooi nie’ en ‘hoe ver die ambulans is’.

“Die volgende oomblik val almal op hulle knieë en bid en ek hoor hoe iemand skree: ‘Sy haal asem!’”

Van der Berg sê dat sy inmekaargesak het van dankbaarheid, maar gevrees het dat haar kind breinskade sou hê omdat sy lank sonder suurstof was.

“Ek besef toe net daar en dan dit gaan nie so wees nie en soebat en smeek ons lewende God vir sy genade, herstel en genesing om deur hierdie lyfie te gaan …”

Ayvah-lee het aanvanklik nie gereageer nie, maar tog later in die ambulans haar oë oopgemaak.

“Ek het haar net teen my vasgedruk en bly sê sy gaan oukei wees.”

Die stootwaentjie waarin Van der Berg vir Ayvah-lee gestoot het. (Foto: Facebook)

By die hospitaal het die dokter onder meer x-strale geneem en aan hulle die goeie nuus meegedeel dat daar geen skade is nie en dat hulle haar huis toe kan neem.

“Sy was die volgende dag weer haar ou self.

“Dit gaan my verstand te bowe. Soveel wonderwerke in een dag.”

Van der Berg het dié storie ook op haar Facebook-blad gedeel om mense daaraan te herinner dat wonderwerke steeds gebeur. Dit het sedertdien soos ’n veldbrand op sosiale media versprei.

In haar inskrywing het sy haar dankbaarheid teenoor al die barmhartige samaritane uitgespreek wat haar en haar dogtertjie probeer help en vir hulle gebid het. Die inskrywing is Dinsdag al meer as 9 000 keer gedeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

SwartBees ·

Dit is hoekom ek die verpestelikke restaurant sweeties haat. As jy daai goed nie onmiddelik terug stuur of weg gooi nie is daar moeilikheid. Kinders se ogies mis nie n sweet nie.

SomeOne ·

prys die Grootte God wat ons het, Halleluja, dankie Vader en bystanders wat gehelp het

Leonard ·

Amen, Dank ons Lewende Vader vir Sy onbaatsugtige Liefde en Genade

Samuel ·

Die Drieënige God is tot alles in staat as ons Hom in gees en waarheid aanbid. Sterkte.

Christiaan Johannes ·

Prys ons Almagtige God vir hierdie wonderwerk. ????????✝️

Misky ·

Net weer ‘n bewys dat gebede verhoor word en ons dien ‘n Lewende, Almagtige God. Alle dank en eer aan Hom

Annelize ·

Net weereens ‘n bewys hoeveel krag in opregte gebed is, en waar een of twee in Sy naam vergader, daar is God.

Willie ·

Ai, hoe lekker om in hierdie dae van negatiewe berigte so ‘n mooi getuienis te kan lees. Ek is jammer vir Danika se groot skrik, maar ons God het voor baie omstanders ‘n groot wonderwerk gedoen. Dankie ook dat Danika en die lesers aan Hom al die eer gee en Sy heerskappy oor ons lewens erken.

Jana ·

Sjoe mamma ek is bly jou dogtertjie is okay!!! Dit is ‘n wonderwerk, prys die Here!!

Alcapone ·

Wonderwerke vind elke dag plaas.Ek dink ons sien dit nie altyd raak nie.Hierdie artikel het my net laat hoe magteloos is ons sonder die Here se hulp.
Never take life for granted.It can end so easily.To be alive today is a blessing.Cherish every moment.

Cornelia ·

Ons is dankbaar bly saam met julle, ons kan die Here nie genoeg dank nie, ek het sommer trane in my oë gekry van dankbaarheid.

Charl ·

Ja wonderwerke gebeur steeds, ons het ‘n wonderlike God, dís hoekom.

Connie ·

Dankie Almagtige God dat U almal se gebede verhoor het, en die kindjie veilig by haar mamma is. Ons moet aan hou bid vir die land, ons Vader gaan tot ons redding kom, Dankie dat ek U kan ken in U woord, en so ook my medemens. Saam maak ons n span, en so baie kniee wat buig voor SY aangesig gaan nie ongesiens verby nie. Dankie ABBA VADER.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.