Wonderwerk ná kobra 8-jarige pik

Joshua de Beer sterk in die hospitaal aan nadat hy deur ‘n Wipneuskobra gepik is. (Foto: verskaf)

Joshua de Beer se ouers is oortuig dat die gebede van hulle gemeenskap die rede is vir sy vinnige herstel ná ʼn wipneuskobra hom die naweek op sy toon gepik het.

Die agtjarige Joshua het Saterdag saam met sy sussie in haar kamer op ʼn plaas in Zandfontein, tussen Hartbeespoort en Brits in Noordwes, met blokkies gespeel toe hy in die krat getrap het waarin dié blokkies gebêre word. Dit is hier waar die kobra geskuil het en die niksvermoedende Joshua bygekom het.

Sy ouers het hom byna onmiddellik in die motor gelaai en na Mediclinic Brits gehaas. Johan de Beer, Joshua se pa, het ook ʼn foto van die slang op ʼn nood-WhatsApp-groep gelaai en na ʼn vriend gestuur wat ʼn veearts is.

“Vriende van ons het die hospitaal laat weet dat ons op pad is. Die personeel het gereed gestaan toe ons daar aankom,” het Nadine de Beer, Joshua se ma aan Maroela Media, gesê.

Die hospitaal het slangkenner Jason Seale gekontak en hy het die gesin ook by die hospitaal ontmoet.

Seale het aan Maroela Media gesê die wipneuskobra – voorheen bekend as die Egiptiese kobra – is uiters giftig. Die gif van dié slangspesie is ’n sterk neurotoksiese gif wat die sentrale senuweestelsel en die slagoffer se asemhalingstelsel aantas. Die slangspesie kom wyd Suider‑Afrika voor.

Die besluit is geneem om nie dadelik vir Joshua teengif te gee nie, maar om hom eerder na die intensiewesorgeenheid van die Netcare Waterfall City-hospitaal in Midrand oor te plaas.

“Die eerste 24 uur was ongelooflik kritiek. Hulle moes eers sien hoe Joshua se lyf op die gif gaan reageer. Hy is die volgende dag na die hoësorgeenheid oorgeplaas sodat sy ma by hom kon wees. Dis waar hy nou aansterk.”

Volgens Nadine het die gemeenskappe van Hartbeespoort en Brits byna onophoudelik vir Joshua gebid saam met gebedsgroepe van verskillende kerke reg oor Suid-Afrika.

“Ons as gesin is só dankbaar vir elke gebed.”

Joshua se skoolgemeenskap was ook van die eerste dag na die voorval bankvas agter hom. Laerskool Generaal Hendrik Schoeman in Hartbeespoort het in die tussentyd die skool se profielfoto’s op WhatsApp ook na ʼn foto van Joshua verander ter ondersteuning van die gesin.

“God is wonderbaarlik en ons is dankbaar vir al die wonderwerke wat ons kon beleef die laaste drie dae.

“Dit gaan baie goed met Joshua vanoggend. Die dokters het reeds aangedui dat hulle vertrou dat hy 100% sal herstel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

AmY ·

So dankbaar vir Joshua en sy gesin.
Heerlik om goeie nuus te lees.

LD ·

Baie dankbaar dat hy goed herstel! Dank die Vader! Ongelukkig is dit meestal kinders wat gepik word in hul eie huis en daarom sal ek nie een lewend hou as ek hom kry nie! Veral nie in my huis nie!

Twallie ·

Maroela Media…. Slange byt, hulle pik nie.

Klink of dit ‘n droë byt was.

Sterkte bulletjie. Hoop jy word gou gesond.

WynandM ·

Die aksie van ‘n slang om jou te “byt” is pik in Afrikaans (nie Engels). Die merk is ‘n bytmerk of slangbyt, bv hy is in die hospitaal opgeneem agv ‘n slangbyt…, maar dis nie verkeerd om te sê die slang het hom gepik op sy toon. Mens kan seker anders redeneer wat is die wetenskaplik korrekte terme, is byt ooit die beste beskrywing vir die aksie om jou te prik/te steek/te “pik” met een of altwee sy giftande as hy nie vasbyt.

Twallie ·

Nee, ek stem glad nie met jou saam nie.

Slange se bekke maak tot 180 grade oop, wat tot die ouderwetse pik geloof bydra, en hul gebruik beide hul bo en onderkaak in die bytaksie. Die vol byt aksie is al manier om gif uit hul kliere te kry.

Sonder ‘n volle bytaksie sal konstriktors nie hul prooi kan vasvat nie. Boomslange se giftandjies sit onder die oë agter in die bek, so wanneer hul byt, doen hul gewoonlik ‘n kou aksie om die giftandjies mooi te laat vat. Kobras en ander Elapids soos Mambas asook die Bitis (adder) familie, byt en los. Konstriktors byt en hou vas en draai dan sy lyf om die prooi.

Gaan kyk gerus op Youtube. Daar is baie videos wat wys hoe slange byt.

Ek het in die bosveld grootgeword en is al ‘n paar keer deur slange geraps. Gelukkig nooit ernstig nie.

Met ‘n droë byt bedoel ek die slang het nie gif gedeponeer tydens die byt nie, wat soms kan gebeur as hul waarsku ipv gaan vir ‘n vol byt en gif mors. Kobras doen dit veral.

WynandM ·

Dankie vir verduideling sien jy ken slange. Taalkundig is pik aanvaarbaar, seker dan verysing na die vinnige “pik-byt” of “byt en los” van baie giftige slange as hulle hulself verdedig en nie prooi vang nie (en omdat die ou mense nie gewag het om dit in slow-motion op te neem nie).

Eclectus ·

Laai ASI se gratis toep af op Apple App Store of Google Play. Dit is geweldig handig en bevat tonne inligting oor slange.

Miena ·

Slangbyt ja. Gaan kyk op ASI (African Snakebite Institute). Johan Marais -baie bekende slangkenner e.a. – bied gereeld kursusse aan en daar is vele inligtings brokkies oor verskillende tipe slange… en hulle dinge…dis uit en uit die moeite werd om die kursusse te doen van identifikasie tot slanghantering en slangbyt kursusse wat aangebied word. vir kinders is daar ook bewusmakings veldtogte wat baie help. Op fb is daar ook verskeie slangroepe waar mens n foto kan plaas van n slang vir identifikasie. Baie kenners (Luke Kemp, Gerrie Heyns, Pieter Swanepoel, Wayne Selwyn Schick )net om n paar te noem is op die groepe en deel hul opinies. Daar is n “app” van hulle wat jy kan aflaai en in jou area vinnig n slangvanger / slanghanteerder kry om te kom help met verwydering. L.W. sommige mense vra hope geld om hulself voor te doen ook as om n slang te verwyder terwyl die meeste hanteerders op die groep nie sommer geld vra as betaling nie- maar wel n donasie sal aanvaar vir petrol uitgery.

Miena ·

Sterkte bulletjie – hoop jy word gou gesond.
NW het maar n paar gevaarlike slange wat al te lekker saam mense in n huis hul intrek neem. n Slang is gelukkig net so bang vir jou soos jy vir hom. Slang sal byt net wanneer dit bedreig word / voel en dit is hoekom die Naja spesies n bakkop maak. Hy maak homself “groot” sodat jy hom moet los. Maar wees versigtig vir die gespoegery… dit kan soms akkuraat weet in jou gesig in – vra my. Maar dit is absoluut n verligting om te kan slang vang en vry te laat weg van mens en in sy habitat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.