‘Wonderwerk op wonderwerk’ ná baba se longe platval

Isabella Stark se longe het Maandag platgeval. (Foto: Facebook)

Sedert die 14 maande oue Isabella Stark van Ermelo in Mpumalanga se longe Maandag platgeval het toe stukkies fyngemaalde neute daarin beland het, het haar gesin die een wonderwerk ná die ander ervaar.

Athol Stark, Isabella se oupa, sê die gesin hoop nou dat hulle Vrydag ook goeie nuus sal kry wanneer haar verdowing by die Netcare Garden City-hospitaal in Johannesburg verminder word.

Sy is al die afgelope week in die pediatriese intensiewesorgeenheid van dié hospitaal waar sy ook ʼn twee uur lange operasie ondergaan het om haar longe skoon te maak.

Volgens Stark word Isabella se breinfunksie gemoniteer en is daar nie swelling op die brein nie.

“Al die lesings was tot dusver positief.”

Haar lyfie word tans warm gemaak ná haar liggaamstemperatuur oor die afgelope paar dae afgebring is. Sy is ook aan ʼn ventilator gekoppel.

“Nou moet sy net haar lyf begin beweeg sodat hulle haar kan wakker maak.”

Isabella het Maandag omstreeks 08:00 aan fyngemaalde neute geloop en kou toe sy geval het.

“Sy het haar asem diep ingetrek toe sy wou begin huil en met dié het daar stukkies neute in haar longe beland.

“Haar keel het nie toegetrek nie, maar haar longe het platgeval. Sy het gevolglik ophou asemhaal.”

Stark en sy vrou, Melinda, asook Isabella se pa, Joshua, kon egter dadelik die nodige noodhulp op Isabella toepas danksy opleiding in dié verband. Haar ma, Monica, was ook by toe die voorval plaasgevind het.

Sy is na die staatshospitaal in Ermelo gehaas terwyl haar pa steeds noodbehandeling toegepas het.

Die gesin het nie ʼn mediese fonds nie aangesien Joshua tydens die Covid-19-pandemie sy werk verloor het.

“Ons het uitstekende diens van die twee Kubaanse dokters ontvang wat ons gehelp het. Isabella moes egter dringend by ʼn pediatriese hospitaal uitkom. Ons het gehoor hoe die een dokter hospitale bel en letterlik vir ʼn bed smeek, maar daar was niks beskikbaar nie.

“Eindelik moes ons sélf reëlings tref en met behulp van my swaer, wat self ʼn mediese dokter is, kon sy ʼn bed by die Garden City-hospitaal kry. Sy moes met ʼn noodhelikopter vervoer word, maar daar was geen staatshelikopters beskikbaar nie. Die enigste uitweg was ʼn private helikopter aangesien sy dringend vervoer moes word.”

Dit het egter ook beteken dat die gesin sélf vir die onkoste moet opdok.

“Ons is almal in die toerismebedryf en is finansieel swaar getref deur die pandemie.”

Geliefdes en kennisse van die gesin het egter kort ná die voorval genoeg geld bymekaargemaak en voorgeskiet sodat Isabella na dié private hospitaal vervoer en daar opgeneem kan word.

“Die ondersteuning uit ons gemeenskap is ongelooflik. Elke keer dat daar ʼn probleem opduik, het ʼn oplossing gekom. Dis so ʼn klein dorp, maar inwoners het reeds so ʼn groot verskil gemaak.”

Stark sê die gemeenskap het ook intussen verskeie geldinsamelingsinisiatiewe van stapel gestuur om met mediese uitgawes, wat tans R500 000 bedra, te help.

Daar is ook ʼn trust vir Isabella geskep wat deur prokureurs hanteer word.

“Ons weet daar lê ʼn onbekende pad voor, en ons verstaan dat sy dalk baie dinge weer van voor af sal moet leer.

“Ons hoop dat sy na ons sal terugkeer soos sy was, en glo dat dit die geval sal wees,” sê Stark oor sy borrelende kleinkind wat “altyd gelukkig” is.

“Ons sal egter die pad saam met haar stap, ongeag die uitkoms. Ons weet God het sy eie plan.”

Indien iemand ʼn bydrae wil maak om die gesin te ondersteun kan Stark by 082 786 7959 gekontak word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Marcello ·

Sterkte aan die familie, hoop sy word gou gesond, sodat sy kan teruggaan na haar familie.

Skappie ·

Sterkte aan die gesin van Isabella. Mag onse Liewe Jesus haar aanraak sodat sy vinnig gesond sal word.

Swerwer ·

baie sterkte aan die familie, mag die ou Roosknooppie ten volle herstel en nog baie vreugde verskaf.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.