‘Wonderwerk-peuter’ beleef terugslag

Riaan van Straten by sy dogtertjie, Carli, in haar hospitaalbed. (Foto: Facebook/iHeartCarli)

Riaan van Straten by sy dogtertjie, Carli, in haar hospitaalbed. (Foto: Facebook/iHeartCarli)

Klein Carli van Straten, die babadogtertjie wat in November 2014 met vier verskillende hartdefekte gebore is, het onlangs ʼn ernstige terugslag beleef en sterk tans in ʼn hospitaal in Bloemfontein aan.

Riaan van Straten, Carli (3) se pa, het aan Maroela Media gesê sy dogtertjie, wat op 34 weke gebore is met onder meer ʼn gat in haar hart en ʼn erge vernouing van een van die hoofslagare, veg tans teen die H1N1-griepvirus, die RS-virus en ʼn haemophillus-bakterie.

“Enige kleintjie is vatbaar daarvoor, maar omdat Carli ʼn hartpasiënt is, druk dit baie swaar op haar,” het Van Straten verduidelik. Hy het bygevoeg dat Carli ʼn operasie moet ondergaan vir ʼn hartkleplekkasie, maar dat die operasie nie kan voortgaan voordat Carli nie gesond is nie.

“Carli is ernstig siek in hierdie stadium. Sy verloor nog nie [die stryd nie], maar sy wen ook nie. Sy roei nog.”

Van Straten vertel hy en sy vrou, Joanie, het in November verlede jaar van die Noord-Kaap na Bloemfontein verhuis saam met Carli en hul sesjarige seuntjie, Benjamin. Hy het groot lof vir die dokters wat vir Carli behandel.

“Die ouens hier weet wat hulle doen en sy is in goeie hande. Hulle doen alles wat hulle kan, al weet ons nie vir hoe lank nie. Sy is vir twee dae huis toe gestuur, maar moes terugkom hospitaal toe en is in tans in die waakeenheid in isolasie.”

Hy het gesê terwyl sy nie aan suurstofmasjiene gekoppel is nie, lyk sy “nie so goed nie”. “Dalk is ons meer bekommerd as wat ons moet wees, maar Carli is ʼn vegter. Sy veg voort.”

Die Van Straten-gesin. (Foto: Facebook/iHeartCarli)

Die Van Straten-gesin. (Foto: Facebook/iHeartCarli)

Van Straten het vertel dat Carli sowat drie weke laas geglimlag het. “Die dokters het ons uiteindelik verlede jaar die groen lig gegee om haar skooltjie toe te stuur, waaroor ons baie dankbaar is. Daar het ons gesien sy is ʼn opgewekte liefiekind, so nou kan ons agterkom sy is nie haarself nie. Sy is maar soos haar pa – wanneer die nood druk, dan spot ons eerder daaroor, want daar is altyd iets om oor te lag – so die feit dat sy nie glimlag nie sê vir ons sy voel régtig nie lekker nie. Sy is gaar gesteek van al die naalde en haar lyfie is pap.”

Hoewel dit vir die gesin ʼn groot tyd van beproewing is, hou Van Straten vol dat dit hulle op hul knieë hou. “Ons het van die begin af geweet sy is siek. Die dokters het ons destyds, voor haar geboorte, aangeraai om ʼn aborsie te kry aangesien haar kans op oorlewing by geboorte skraal was, maar ons wou dit nie doen nie. Ons het geweet as ons dié ding doen, moet ons dit doen met ʼn glimlag. Carli is vir ons gestuur om ons te herinner dat ons nie net kan bid wanneer dit sleg gaan nie.”

Carli slaap op haar ma, Joanie, se skoot. (Foto: Facebook/iHeartCarli)

Carli slaap op haar ma, Joanie, se skoot. (Foto: Facebook/iHeartCarli)

Die dokters kon egter nie vir die gesin ʼn aanduiding gee van hoe lank Carli nog in die hospitaal moet bly nie. “Sy het ʼn pad wat sy stap. As hierdie die laaste paar treë is wat sy moet gee, dan moet ons dit vir haar gemaklik maak.”

Van Straten, ʼn professionele rugbyafrigter, het gesê hulle weet die Here wil hê dat sy naam verkondig moet word deur Carli se storie. “Ons weet ons moet Carli se storie deel. Dit is nie die ideale situasie nie en hoewel ʼn mens nie weet hoeveel veg sy nog in haar oor het nie, kan ons net in geloof vertrou.”

Hy verduidelik dat dit makliker was om Carli by die hospitaal te los toe sy nog ʼn baba was, maar noudat sy ouer is, weet sy wanneer hy of Joanie haar by die hospitaal gaan agterlaat. “Hartpasiënte sukkel met skeidingsangs. Dit het drie jaar geneem voordat sy kon skool toe gaan. Toe sy kleiner was kon ons haar net los, maar nou weet sy as iemand net aan ʼn motorsleutel raak, dat ons haar daar gaan los en dan kry sy baie swaar.”

Volgens Van Straten het hy en sy gesin al ʼn ingeoefende roetine wanneer dit by Carli se hospitaalbesoeke kom. “Omdat sy in die waakeenheid is, mag haar boetie haar nie altyd besoek nie. Hy speel dan in die gange van die hospitaal. Ek en Joanie maak beurte om hospitaal toe te gaan. Dit is nie ideaal nie, maar dit is ons lewe en ons maak die beste daarvan.”

Van Straten is positief daaroor dat hy vir Carli geen ander manier sou wou hê as wat sy is nie. “Daar is miljoene kindertjies net soos sy, of wat nog slegter af is, dit is nou maar net toevallig dat mense van óns weet. Die woord hel is vir my so lelik, maar ek sê altyd ʼn mens kan nie een ou se hel met ʼn ander se hel vergelyk nie. Ons kan mekaar net moed in praat en nie vergelyk nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

GM ·

Ek moet ophou om sulke berigte te lees, dis nie goed vir die oorlogsverf op my gesig nie. Kleinding, ek hoop jy word gou gesond! Mag julle vir nog baie jare saam lag en speel. Mamma en pappa, julle het die mooiste dogtertjie (en seuntjie). Klou vas aan julle geloof soos wat jul gedoen het toe jul geweier het om ‘n aborsie te ondergaan. Mag julle geseën word!

Gesiggie ·

Hou aan klou aan Jesus se kleed, God is Almagtig, Hy hoor jul gebede, jul smeek.. mag die Engele van God Carli volkome genees, sodat sy weer sal kan glimlag en baljaar, en vergeet van al haar eina.. dit is n lang en swaar pad om te stap, en ek gun dit vir geen ouer, en op die einde… kom daar n mooi storie, en kan jul getuig.. sterkte aan jul, mag daar weer vir jul n sonstraal wees agter die donker wolk…

Wurmpie ·

Weet net die Here slaap nooit nie. Hy weet van alles. Sterkte vir julle

Anna ·

Ons dank ons Hemelse Vader omdat ons weet hoe lief hy hierdie mensie het. Ek bid dat Hy haar deur hierdie storm sal dra en sal spaar vir haar familie. Baie sterkte vir die hele familie.

leser ·

sterkte aan gesin, hou vas aan julle geloof, glo, die Here sal julle bystaan, ek bid ook vir herstel vir carli

Jasper ·

“Hy laat vaar nie die werke van Sy hande nie”.
Glo en vertrou op Hom.

Biddend ·

Ek bid vir jul hele familie en bid vir die dokters vir insig om jul te help tot die beste van hul vermoë.

Mags ·

Poplap ek bid vir jou my liefiekind. Jesus is daar saam met jou en hou jou styf vas .

Anner Anton ·

Ek bid vir liewe klein Carli. Dat die liewe Here Jesus die pragtige kindjie sal genees. Ek vra ons Vader dat hy Carli sal seen met sy genesing en dat hy pa,ma en boetie sal versterk. Dat Carli en haar familie Sy teenwoordigheid sal aanvoel en sy wonderwerke met hul eie oe sal sien soos Hy dit ontvou vandag in hul lewe se storms.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.