Wonderwerk red man se lewe ná jacuzzi ontplof

André van Huyssteen is reeds sedert die twee week in Augustus in die hospitaal ná die fratsongeluk waarin hy ’n ernstige hoofbesering opgedoen het. Foto: Facebook

ʼn Vrou van Krugersdorp glo dis net ʼn wonderwerk dat haar man ʼn ontploffing oorleef het. Nou vra sy dat soveel moontlik mense vir sy volkome herstel sal bid.

Ilse-Marie van Huyssteen sê tydens die moeilike tye die afgelope langer as twee maande help haar geloof haar kophou. “Die Here hou my rustig. Wanneer ek wil huil, is dit soos ʼn kalmte wat oor my kom.”

Van Huyssteen en haar man, André (30), het op 8 Augustus by vriende in Pretoria gebraai en in hul jacuzzi ontspan. “Ek het die huis ingegaan toe ek ewe skielik ʼn groot slag hoor. Druk het opgebou en die boiler laat ontplof,” vertel Van Huyssteen.

ʼn Stuk hout van die dek om die jacuzzi het André teen die kop getref en só diep binnegedring dat dit eers die volgende dag tydens ʼn operasie in Pretoria se Steve Biko-hospitaal verwyder kon word.

Terwyl hy in die waakeenheid gehou is, moes ʼn tweede operasie uitgevoer word om sy breinvlies te heg. Later is hy ʼn derde keer geopereer nadat die wonde van die ongeluk oopgetrek het. Hy sal na verwagting Woensdag weer geopereer word om die vog te dreineer wat op sy brein opgebou het.

“Hy is nog nie wakker nie, maar hy toon reaksie en reageer byvoorbeeld wanneer ek sy voete kielie,” vertel Van Huyssteen, wat amper elke middag van Krugersdorp af Pretoria toe deurry om by die pa van hul twee kinders, Dwayne (9) en Dandré (3), te waak en bid.

Ilse-Marie en André van Huyssteen by hul seuns, Dwayne en Dandré. Foto: Verskaf

Die dokters kan nog nie sê wanneer hy sy bewussyn sal herwin nie. “Die brein is maar ʼn delikate ding, maar ons hoop hy sal bykom wanneer hulle die vog gedreineer het, ” sê Van Huyssteen. “Hulle moes hom al weer geopereer het, maar elke keer was daar ʼn ander pasiënt wie se operasie dringender was.”

Van Huyssteen is dankbaar vir die wonderwerk dat haar man nog lewe. “André moes menslik gesproke op slag dood gewees het in die ontploffing,” meen sy.

Sy glo dis danksy haar volgehoue gebede in die eerste maand van sy hospitalisasie dat die vogafskeiding van sy kopwond uiteindelik begin September opgehou het. En sy sien daarna uit dat hulle nadat hy herstel het, baie nader aan mekaar sal wees as voor die ongeluk.

Intussen hou sy die pot aan die kook deur “goedjies te koop en verkoop”, want haar man, ʼn verkoopsverteenwoordiger, se siekteverlof sal binnekort uitgeput wees. Sy het ook ʼn rekening vir hom oopgemaak om geld in te samel vir die hulp wat hy sal nodig kry, soos fisio- en spraakterapie en oefeninge om ná so lank in ʼn hospitaalbed weer te loop.

Sy vra mense moet aanhou bid vir André se volkome herstel en bedank almal wat dit reeds getrou doen. Diegene wat belangstel om in te skryf vir die gholfdag wat vir 13 November by Krugersdorp se gholfklub vir hom gereël word, kan Marius Higgings Ministries International se Facebook-blad besoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Netso ·

So jammer! Waar het julle die boiler gekoop? Ek het nie geweet jy kan daarmee jacuzzi nie.

Sputnik ·

Sterkte en spoedige herstel word julle toegewens. Ek verstaan nie mooi watse “boiler” ter sprake is nie – dalk gasverwarmer en dat die silinder ontplof het?

Marlize ·

@Regtig Nou Ja Toe…

Is jy nou ernstig?!? Hou eerder jou opinie vir jouself. Sy familie is gebroke en dis al wat jy kan se. Baie sterkte aan die familie. Hoop hy is gou beter.

Gesiggie ·

Nou Ja Toe…… ek kan nie glo dat jy so ongevoelig is nie? … Regtig , mag die Here jou vergewe… niemand vra ooit vir n ongeluk om te gebeur, Bid eerder vir die man , hy het n gesin kyk na sy 2 kinders en dink mooi na oor wat jou kommentaar is? hul is nog klein en het hul Pappa nodig… Jesus neem asb vir Andre in U arms, bewaar hom en laat hy ten volle herstel, gee ook aan sy gesin en familie die krag om aan te hou Glo en vertrou. Sterkte aan jul , hou moed en weet… By God is niks onmoontlik.

Feite ·

Dis baie jammer oor wat gebeur het. Maar laat ons net die feite stel v ‘n jacuzzi. Jacuzzis wat met elektrisiteit werk se water word gepomp met ‘n .75kWh pomp (soos n middelslag swembad se pomp) deur pvs pype. Sodra jy die pomp aanskakel, gaan ‘n elektriese element aan wat die water verwarm. Sodra jy die pomp afsit gaan die element af. Die water temperatuur kan gestel word, gemiddeld hou mense dit op 31 to 35 grade maar dit kan opgestel word tot 50 grade C. Dis hoogs onwaarskynlik dat ‘n 50 mm pvc pyp sal blokkeer in die stelsel en dit is dus onwaarskynlik dat warm water so ‘n hoe druk kan veroorsaak. Ek weet nie v n jacuzzi wat met gas werk nie, want hoe word die water gepomp deur die pype? Ek stel voor die voorval moet ondersoek word deur ‘n ingeligte voordat MM en die beseerde se vrou verkondig dat ‘n jacuzzi ontplof het

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.