‘Wonderwerk-seun’ neem eerste treë ná ongeluk

Alwyn Griebenow

Alwyn Griebenow

Alwyn Griebenow (20), die jong man van Port Elizabeth wat verlede maand kritieke beserings opgedoen het toe hy tydens ʼn ongeluk uit ʼn bakkie geslinger is, het gister sy eerste treë ná die ongeluk langs sy hospitaalbed geneem.

Maroela Media het vroeër berig dat Alwyn se familie dankbaar is vir ʼn “reeks wonderwerke” wat sedert die ongeluk gebeur het. Dit sluit onder meer in dat sy vriend hom in die donker op die ongelukstoneel kon vind danksy blink strepe onderaan Alwyn se skoene en dat Alwyn se longfunksie binne enkele dae in die hospitaal verbasend goed herstel het.

Alwyn en sy vriend was twee weke gelede laat die aand op pad terug van ʼn geleentheid wat deur ʼn wildbewaringsorganisasie aangebied is, toe die ongeluk naby Alexandria buite Port Elizabeth gebeur het. Die vermoede is dat Alwyn se vriend agter die stuurwiel aan die slaap geraak het en Alwyn is tydens die ongeluk uit die bakkie geslinger.

Alwyn se oom, Bertus Griebenow, het Vrydag aan Maroela Media gesê Alwyn kon met behulp van ʼn fisioterapeut Donderdag reeds ʼn paar treë om sy hospitaalbed neem en ʼn rukkie in ʼn stoel sit. Hy het ook begin om sagte kos te eet en kan reeds ʼn bietjie praat. Hy kry tans spraakterapie.

Alwyn sal na verwagting vandag na die Aurora-hospitaal vir rehabilitasie oorgeplaas word.

Volgens ʼn Whatsapp-boodskap van Alwyn se suster, Anmari, is Alwyn steeds baie moeg en slaap hy vas wanneer hy lank wakker was of baie moes konsentreer. “Maar hy is weer vars en vrolik wanneer hy na sy ‘energie-slapie’ wakker word,” sê sy.

Intussen gaan dit net so goed met Hilux, Alwyn se hond wat agterop die bakkie was ten tyde van die ongeluk. Hilux het ook beserings in die ongeluk opgedoen, maar volgens die familie het hy intussen goed herstel. “Hy slaap sommer nou saam met ons op die bed vandat hy so ‘broos’ is. Hy weet duidelik wanneer om sy kans te vat,” skerts Anmari.

“Ons bid dat Alwyn hierdie ongelooflike tweede kans wat die Here hom gegee het ten goede sal gebruik en dat hy God sal eer vir al die wonderwerke wat hy in hierdie tyd oor hom uitgespreek het. Hy het hierdie nuwe lewe alleen deur God se genade ontvang.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Maureen ·

Alle eer aan God. God het nog baie werk vir hom hier op aarde. Om Sy naam groot te maak. As God n wonderwerk doen draai hy dit nooit om nie. Glo net

Chris Ws ·

ALLE EER AAN YAHWEH ons Almagtige Vader!My vrou was ook kritiek beseer in ‘n ongeluk van agter af en sy het net so baie wonderwerke beleef in die ICU en rehabilitasie hospitaal EN agterna by die huis waar ek haar self versorg en dagliks help met haar stywe oefen program sodat sy darem weer kan loop en eendag dinge self kan doen.Haar spraak is steeds ‘n probleempie na meer as 3 jaar.
Dis so lekker om te verneem van ander ongeluk slagoffers wat wonderwerke erken!Alle sterkte Alwyn en moenie opgee nie.

Jaco ·

Baie sterkte – jammer dat God nie sy eerste lewe net so gelos het nie.

Ada ·

Jaco – dit was nou onvanpas. Hierdie seun gaan kan getuig oor die uitdagings wat oor sy pad gekom het en hoe dit met die hulp van die Here oorbrug kon word en so kan hy baie mense aanraak en hoop gee en getuig dat daar ‘n God is op wie ons kan vertrou.

Sakkie ·

Ada ek stem saam met jou. Ek was so 11 jaar terug in n tref en trap ongeluk waarna ek van onder my borsbeen af verlam is. Die wonderwerke wat God in my lewe laat plaasvind het en nog steeds laat plaasvind is onbeskryflik. Die verlies van die gebruik van my bene is maar n klein opoffering as ek kyk na God se genade en liefde en seeninge wat Hy al in my lewe gedoen het. Ek ruil dit vir niks op die aarde nie. Sterkte Alwyn en lewe voluit vir God

Felicity ·

Wonderlik! Glo en vertrou dat God sy hand van genesing oor hom sal hou en dat hy volkome sal herstel. Bid vir julle.

Frans ·

God is groot as ons hier lees hoe verskeie mense deur hom aangeraak is.Dit versterk ons almal se geloof.Ons moet meer getuig dit het ook groot waarde saam met Gebed en geloof.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.