‘Wonderwerk’ toe Krisisfonds vir KZN voorsien

Hannes Noëth van Helpende Hand. (Argieffoto)

Toe die onlangse onluste oor Suid-Afrika heen uitgebreek het en koswinkels in KwaZulu-Natal rot en kaal geplunder is, het Solidariteit Helpende Hand weer skouer aan die wiel gesit om die mense van dié provinsie met onder meer kosvoorraad by te staan.

Die Solidariteit Beweging se Krisisfonds is verlede jaar aan die begin van die inperkingstyd op die been gebring om mense in staat te stel om ander te ondersteun wat weens die inperking swaar getref is. Dié Krisisfonds het tot dusver sowat R29,2 miljoen ingesamel en weer aan behoeftige gesinne landwyd uitgedeel.

Die fonds was reeds uitgeput toe Helpende Hand hoor 1 000 gesinne in KwaZulu-Natal wag weens die onluste op Helpende Hand se steun.

Hannes Noëth, hoof van Helpende Hand, het egter ʼn geloofsprong gewaag en sy span aangesê om kosvoorrade van R100 000 te bestel, hoewel daar nie geld beskikbaar was om daarvoor te betaal nie.

Hy vertel aan Maroela Media dat ʼn “wonderwerk” kort daarna gebeur het: Hy het ʼn oproep ontvang van Piet Steyn, besturende direkteur van Oilkol, ʼn landwye maatskappy in die omgewingsbedryf.

Steyn het aan Noëth gesê dat Oilkol besluit het om ʼn bedrag van R100 000 aan die Solidariteit Krisisfonds te skenk – presies die bedrag wat Helpende Hand benodig het om 1 000 gesinne te voed.

“Namate geld in die Krisisfonds geskenk word, so bestee ons dit weer. Veral in die Covid-19-tydperk het mense se behoeftes drasties toegeneem. Die voedselkrisis ná die onluste in KwaZulu-Natal het ons egter genoop om kospakkies daar ook uit te deel.”

Hy vertel Helpende Hand het binne die bestek van vyf dae sowat 120 ton kos in KwaZulu-Natal verdeel. “Dit is vir ons lekker as mense ons in staat stel om gesinne te help om te eet. Ek het nie Piet se oproep verwag nie, maar dit was ʼn wonderwerk wat oor ons pad gestuur is.

“Die skenking kon onmiddellik binne die raamwerk van ons maatskaplike strukture aangewend word en so kon ons sorg dat die kos struktureel verdeel word en dat dit nie bloot na willekeur geskied nie,” sê Noëth.

Steyn vertel aan Maroela Media dat hy en sy bestuurspan daaroor gesels het om ʼn hand by te sit waar dit nodig is om mense tydens die onluste by te staan. Hulle het besluit om ʼn skenking van R100 000 aan die Solidariteit Krisisfonds te maak, aangesien die maatskappy self ʼn lid van Solidariteit is.

“Die Here het ons dié bedrag op die hart gedruk. Toe ek vir Hannes bel en van die skenking inlig, het hy ʼn lang tyd stilgebly aan die ander kant voordat hy gesê het dit is presies die bedrag wat hulle nodig het.

“Dit is hoe die Here werk. Hy het aan ons kant almal dit op die hart gedruk om die skenking te maak, en aan Hannes se kant weer om steeds die bestelling vir die kos te plaas, al was daar nie geld nie. Dit is ʼn groot geloofsdaad wat hier gebeur het,” sê Steyn.

Hy sê dit is ʼn “bemoedigende storie”, ook vir homself. “Ons is dankbaar dat ons in ʼn moeilike tyd vir soveel mense kon bydra en ons is bly ons het dit gedoen. Dit gaan nie oor name en groot maatskappye nie, dit gaan oor die Here en dat ons gehoorsaam was aan dit wat Hy ons op die hart gedruk het.”

Om betrokke te raak by die Solidariteit Krisisfonds, of vir meer inligting, besoek die webwerf hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Pietertjie ·

Mooi storie! Piet Steyn se hart sit op die regte plek…

Marius ·

Amen, loof die HERE! Hierdie soort verhale oor hoe God gebede verhoor, moet meermale vertel word. Ek het soortgelyke verhale gehoor – male sonder tal. Die Here het ook in my eie lewe al op wonderbaarlik wyses ingegryp.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.