Wonderwerkbaba eindelik tuis

Marique Kloppers (Foto: Verskaf)

’n Johannesburgse dominee en sy vrou is oorstelp van blydskap nadat hulle eindelik hul vyf maande oue babadogtertjie huis toe kon neem.

Marique Kloppers is vroeg gebore en is kort daarna met ’n siektetoestand gediagnoseer wat daartoe gelei het dat sy 105 dae, waarvan 90 dae in die waakeenheid, in die hospitaal behandel moes word.

Marique is op 17 Junie op 34 weke met ’n noodkeiser in die Netcare Clinton-hospitaal in Alberton die lewe ingebring. Sy is met trageo-esofageale fistula, ’n abnormale verbinding tussen die slukderm en lugpyp, gediagnoseer.

“Dit is ’n Godswonder dat hierdie kind leef,” vertel André Kloppers, Marique se pa.

Dokters het aan hom en sy vrou, Anré, gesê sowat 97,2% van babas met Marique se toestand oorleef dit nie.

Marique was twee dae oud toe haar slukderm tydens ’n operasie van haar lugpyp losgesny en aan haar magie vasgeheg is. Die operasie het goed verloop en sy is ses weke ná haar geboorte eindelik huis toe gestuur.

Twee weke later moes die Kloppers-egpaar met hul baba na ’n hospitaal haas nadat sy tuis ophou asemhaal het.

’n Fotograaf was dié dag by die huis om foto’s van Marique te neem toe Anré ingehardloop gekom en gesê het Marique het ophou asemhaal.

“Jy kan nie jouself vir so iets voorberei nie.”

Marique Kloppers (Foto: Verskaf)

André het dadelik begin met mond-tot-mond-asemhaling waarna die fotograaf hand bygesit en ook mond-tot-mond-asemhaling toegepas het. Marique kon genadiglik bygebring word en sy is terug hospitaal toe.

Later sou die egpaar hoor dat die onderkant van Marique se lugweg platgeval het, ’n akute lewensbedreigende obstruktiewe apnee wat daartoe gelei het dat sy episodes kry waartydens sy ophou asemhaal. Hoewel dit in die hospitaal reggestel kon word, kon nie een van hulle weens Covid-19 by haar in die hospitaal agterbly nie.

“Ons kon haar vir ’n maand lank nie sien nie. Jy wil mal word.”

Anré is na vier uitmergelende weke eindelik by Marique toegelaat en André kort daarna.

Hierna het nog twee maande in die hospitaal voorgelê voordat Marique eindelik weer huis toe kan gaan – dié keer met ’n trageostomie- en ’n voedingsbuis.

Marique word tans elke drie uur deur middel van die voedingsbuis gevoer en slaap met suurstof.

Die Kloppers-gesin. (Foto: Verskaf)

Sy kan weens die trageostomiebuis ook nie in die stadium huilgeluide maak nie en suisgeluide is tans haar ouers se aanduiding dat sy huil.

“Dit is geen probleem vir ons nie. Sy is so soet. Dit is vir nou ons normaal. Ons glo en bid en vertrou dat as haar lugpypie goed genoeg ontwikkel, dat sy dit vorentoe sal ontgroei.”

Indien nie, sal sy moontlik vorentoe ’n opvolgprosedure moet ondergaan.

“Dit is verstommend hoe taai hierdie kind is.”

Dr. Ashley Jeevarathnum, ’n pediatriese pulmonoloog by die Netcare Clinton-hospitaal, sê Marique het die hospitaalpersoneel se harte vermurwe gedurende haar tyd in die hospitaal.

“Ek moet sê Marique is buitengewoon gelukkig om te leef. Ek is geneig om met haar ouers saam te stem dat haar oorlewing ’n wonderwerk is en ons almal vier haar herstel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Car ·

Wat n pragtige babba. Niks gebeur sonder n rede. Alles werk ten goede mee vir hul wat God lief het.

Car ·

Wat n pragtige babba. Niks gebeur sonder rede nie.
Alles werk ten goede mee vir die wat God lief het.
Mag jul genoeg krag, geduld en Godelike wysheid van bo ontvang vir dit wat voorle.

Mad Mike die Rhodesiër ·

Dis ‘n geskenk van die Skepper. Sy gaan baie vreugde en hartseer vir haar ouers bring. Hopelik meer vreugde as hartseer. Geniet haar elke dag wat sy vir julle geleen word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.