‘Wonderwerkseun’ (3) uit die hospitaal ontslaan

Mary en Nico Mostert verlede week in die hospitaal. Foto: Verskaf.

Mary en Nico Mostert verlede week in die hospitaal. Foto: Verskaf.

“Hy is nou heeltemal gesond en ook tien keer stouter,” sê ʼn dankbare ma, Mary Mostert (37), skertsend terwyl haar driejarige seuntjie, wat byna ʼn week tevore by die dood omgedraai het, oor haar klouter en haar aan haar hare trek.

Nico is voorverlede Sondag na die Life Parkland-hospitaal in Spring gehaas nadat hy in die swembad van sy oom se huis in die plaasdorpie Sundra in Mpumalanga geval en byna verdrink het.

Mary het sy lyfie uit die diep kant van die swembad gehaal en in teenstelling met die woelwater wat nou skaterlag terwyl een van sy sussies hom kielie, was hy bewusteloos, blou en pap.

“Hy is Vrydagmiddag reeds ontslaan en het nie nodig om enige medisyne te gebruik nie,” het Mary Woensdag aan Maroela Media gesê. Mary het gesê dit is lekker om haar kind weer terug by die huis te hê en sy en pa, Neels (35), laat hom nie onder hul oë uit nie.

Ouboet, Neels (14) en sussies, Sarie (8) en Bella (7), is ook gretig om hand by te sit om die karnallie besig te hou. Mary het gesê Nico sal nog vir opvolgdoktersbesoeke moet gaan om sy vordering dop te hou.

Hoewel Nico geen breinskade in die voorval opgedoen het nie, was sy dokters verlede week nog bekommerd hy kan dalk epileptiese aanvalle kry. Hy het die Sondagaand en dag daarna stuiptrekkings gekry, maar Mary sê dit het nie weer gebeur nie. Nico was ʼn kort rukkie op spesiale medikasie vir kinders wat epileptiese aanvalle kry.

Maroela Media het vroeër berig die gesin woon sedert Oktober by Neels sr. se broer se huis op Sundra, waar Nico byna in die swembad verdrink het.

Mary was omstreeks 16:00 in die kombuis besig om die kinders kos te gee, toe sy ʼn oproep ontvang oor ʼn familiekrisis. Die sein is baie swak in die huis en Mary moes deur die voordeur na buite gaan vir beter opvangs. Nico het intussen by die agterdeur uitgeglip en in die swembad beland.

Terug in die huis, het Mary besef Nico is nie in die kombuis of by sy pa nie. Haar eerste reaksie was om in die swembad te gaan kyk, waar sy Nico se lyfie aan die diep kant van die swembad sien dryf het.

Mary het dadelik om hulp geroep en Nico uit die water gehaal. Neels het begin noodhulp toepas terwyl ʼn histeriese Mary hulp oor die gemeenskapsradio ontbied het.

Derek Bester, voorsitter van die plaaslike buurtwag, die Sundra Rietkol Bulldogs en Derek Meyer, ook van die buurtwag, was binne minute by die erg getraumatiseerde ouers.

Hulle het dadelik noodhulp toegepas en Nico na die Parkland-hospitaal geneem, waar hy verdere behandeling in die ongevalle-eenheid ontvang het. Die hele gemeenskap het in dié tydperk vir Nico gebid en sy toestand het wonderbaarlik verander nadat hy by die dood omgedraai het.

Nico se ouers het nie ʼn mediese fonds nie en met die buurtwag en gemeenskap se hulp is duisende rande daarna inderhaas ingesamel om hom in die hospitaal se waakeenheid te laat opneem. Hy was tot Woensdag in ʼn geïnduseerde koma en aan ʼn asemhalingsmasjien en breinsensors gekoppel.

Neels jr. en sy neef het intussen die swembad toegespan sodat Nico nie weer daar naby kan kom nie. Die familie gaan ook heinings aangeskaf en ʼn seil oor die swembad span.

Lees die vorige berigte oor Nico se verhaal op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

zahn ·

Baie baie bly om dit te hoor!! Moenie julle steur aan negatiewe kommentaar nie, ons is almal bly saam met julle, en ons weet julle het BAIE geleer hieruit! Sterkte ou grootman, en gee hulle gas!

Annetjie ·

Prys die Here. Ons almal is so dankbaar vir julle onthalwe. N Spesiale woord van dank aan die buurtwag en jul mense asook die gemeenskap vir jul onbaatsigtigheid. Pas hom mooi op mamma en pappa Nico is baie spesiaal

Ann ·

Sjoe, dis ‘n groot wonderwerk!! Liewe Jesus het hom nog op die aarde nodig, mamma!!
Prys die Here!!

Enjoy ·

Dis absoluut wonderlik. Hy is pragtig, en sy lewetjie is gespaar, hy is vir ‘n doel op aarde geplaas en van verdrinking gered. Pas hom mooi op en gee hom baie liefde en drukkies.

Snoepie ·

Ja nee wat Amvi. Ek is seker daarvan mense soos jy, gee sulke kommetaar, net om n reaksie te kry. Plaas is jy bly saam met amal, dat die kind leef

Hannes ·

Hierdie verhaal le my baie na aan die hart! Prys die Here vir so ‘n spoedige en volkome herstel.

ELIZE ·

Prys die Here vir die wonderbaarlike herstel en dank aan die Here dat Hy almal se gebede verhoor het. Al die mense van die buurtwag en almal wat gehelp het en geld ingesamel het, is voorwaar ‘n voorbeeld vir ons almal.

Liza ·

Baie bly die ou seuntjie is okay, maar ja wees versigtig en hou hom dop…….moet hom nie alleen los weer nie……

Van ·

Pragtige seuntjie. Dankie vir almal se hulp. Bedek liewer die swembad met n veiligheidsnet as daar kleintjies is. Dit werk.

Van ·

Pragtige seuntjie.Dankie aan almal wat gehelp het. Sit liewer n veiligheidsnet op. Dit werk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.