Woolies ‘jammer’ oor bababuidel

Shannon McLaughlin sê sy het vier jaar lank aan die ontwikkeling van Ubuntu Baba se buidel gewerk. Foto: ubuntubaba.com

Woolworths het ingewillig om die omstrede bababuidel van sy rakke en uit sy aanlynwinkel te verwyder nadat hy daarvan beskuldig is dat hy die ontwerp gesteel het.

“Ons het vandag met Ubuntu Baba vergader en ons ondersoek na aantygings van kopiëring afgehandel,” skryf die kleinhandelaar in ʼn reeks twiets. “Al is daar verskille in ons bababuidel, is daar opvallende ooreenkomste wat ons erken en waarvoor ons verantwoordelikheid aanvaar.”

Woolworths het voorts getwiet klante wat die buidel gekoop het, maar dit wil terugbring, sal ten volle vergoed word. “Ons bly opreg verbind tot die ontwikkeling van Suid-Afrika se kleinsakesektor.”

Die kleinhandelaar onderneem verder om die opleiding van sy mense, sy verskaffers en vennote in sy “waardegebaseerde benadering tot ontwerp en verkryging” op te skerp. “Ons het Shannon McLaughlin [die stigter van Ubuntu Baba] persoonlik opreg verskoning gevra en wil ook ons klante wat meer van ons verwag het [om verskoning vra].”

ʼn Storm het vandeesweek op Woolworths se Facebook-blad gewoed toe gebruikers die kleinhandelaar daarvan beskuldig het dat hy Ubuntu Baba se ontwerp vir die bababuidel “gesteel” het.

McLaughlin het Dinsdag aan Maroela Media gesê sy het Woolworths verlede jaar op 23 Desember genader nadat ʼn werknemer haar gewys het dat hulle ʼn buidel verkoop wat presies nes die een lyk wat Ubuntu Baba ontwerp het.

“Dis 16 Desember 2018,” skryf McLaughlin in ʼn blog-inskrywing oor die voorval, “en ek het pas uitgevind dat Woolworths die hele ontwerp en konsep van die buidel waarin ek my hart en siel die afgelope vier jaar van my lewe gestort het, skaamteloos gekopieer het.”

Sy het Woolworths tot 3 Januarie geleentheid gegee om op haar e-pos te reageer, sê sy. “Hulle het gesê hulle sal terugkom na my, maar ek dink nie hulle het my klagte ernstig geneem nie, want ek het nog nie weer van hulle gehoor nie.”

Uit radeloosheid het sy Maandag ʼn blog-inskrywing geplaas waarin sy daarop aandring dat Woolworths haar om verskoning vra. “Ek wil hê hulle moet die produk onttrek en Suid-Afrika daarvan oortuig dat hulle ernstig is oor hul belofte om ‘eties’ te wees en hul ‘goeie sakereis’. Ek wil hê hulle moet verantwoordbaar wees en dit nie onder die mat invee nie.”

Woolworths het Dinsdagoggend gesê hy is bewus van die aantygings dat sy bababuidel “soortgelyk is aan dié van Ubuntu Baba”. Die winkelgroep het gesê hy beskou die bewerings as ernstig en het ʼn interne ondersoek na die saak van stapel gestuur.

Die uitslag van dié ondersoek het Woolies Woensdagmiddag in vier twiets bekendgemaak.

McLaughlin kon nie Woensdagmiddag telefonies vir kommentaar bereik word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

22 Kommentare

Rudolph van Wyk ·

Mooi gedaan Woolies! Dis hoe ‘n mens sulke sake hanteer. Ander besighede wat ek ken sou in ontkenning modus gegaan het en hul beeld erge skade aangedoen het

Wessel ·

Hoe het hulle dit hanteer? Hoeveel het hulle verkoop? Daar is NIKS wat ‘n ou geldjie nie kan regmaak nie net Rudolph?

Nettie ·

Net ‘n vragie: die Ubuntu Baba hierdie konsep gepatenteer? Indien nie, kan enige iemand die “ontwerp/idee” mos oorneem, hier en daar ‘n klein veranderinkie maak en dit bemark/verkoop?

Waar is me. McLaughlin se bewyse dat sy die produk oor 4 jaar ontwerp het en vandaar bemark/verkoop het?

Petra ·

Hoekom glo ek hulle nie. Hierdie verskoning en sg opregtheid gaan net hou tot die volgende ontwerper met n mooi prentjie verbykom

elizna ·

Jammer se voet. Woolies is n kartel. Dankie tog ek spandeer nie een sent by julle nie. Hopeloos te duur. Julle is soos rowers. Skaamteloos. Sies.

marga ·

Elizna, dit is twee verskillende onderwerpe. Hulle het onverskoning gevra oor die produk wat dieselfde lyk\is maar dit het mos niks te doen met hoe hulle pryse vergelyk met ander winkels nie. Dis hulle reg om te vra net wat hulle wil en dis jou keuse om te gaan koop waar jy wil.

HPV ·

Woolies moet vir elke een wat hulle verkoop het ‘n kommissie aan Shannon se besigheid betaal, dan eers is die saak reggestel. Die verskoning was egter ‘n baie goeie begin. Toe wys wat in julle steek!

Johanna Botha ·

As die regering ook maar net iets by ww gaan leer van hoe mens optree !

sarel ·

Registrasie van Patentereg behoort goedkoper en meer toeganklik te wees.

HPV ·

Voorlopige registrasie wat jou konsep 12 maande beskerm is goedkoop, die internasionale registrasie wat daarop volg se koste is egter astronomies en dit beskerm die konsep ook maar net ‘n paar jaar. Ons is in die elektroniese ontwerp en vervaardiging besigheid en maak soms gebruik van die voorlopige opsie, dit gee mens darem ‘n 12 maande wegspring.

jaco ·

Hulle se maar net jammer om die vrede te bewaar. persoonlik dink ek nie hulle was verkeerd nie, niks uniek aan produk nie, en duidelik het sy nie patentereg daarop nie – juis omdat dit nie uniek is.

sy was “lucky” om hiermee te “slaag”

Sputnik ·

Ek is nie seker wat is so uniek aan dié buidel nie. Ek glo vas dat as ek so-iets moes ontwerp sou dit ook dieselfde gelyk het, sonder dat ek ooit dié model gesien het. Elementêr, my liewe mense! Ek dink Woollies was baie gaaf gewees!

Cecile ·

Ubuntu Baba se se bababuidel is nie uniek nie! Ek het 35 jaar gelede my babas in soortgelyke sak gedra! Dalk het Woolies ook reg gehad as Ubuntu Baba dan nou weer ‘n so sak uit bring wat reeds bestaan het. Vra net!

bgj van der westhuizen ·

verskoning ja goed maar hulle moet beboet word wees hulle was skelm en klaar

Pvt ·

Moet asb nie geld vat van WW om jou besigheid uit te brei.
Hulle gaan jou besigheid “hostile take-over ” binne 2 tot 3jr dmv BEE.
Ek weet waarvan ek praat.
Daar is meer as 1 wat so stel afgetrap het met WW.
Groot asb moet dit nie doen nie.

E.K. die eerste ·

Die prysverskil is blykbaar die groot probleem, Woolies s’n HEELWAT goedkoper as die dame s’n omdat hulle deur China kan werk en dit goedkoop kan vervaardig. Ek praat van R500 by Woolies en R1500 by haar! Dus die EINTLIKE probleem is hoe moeilik die regering dit vir entrepreneurs maak om aan die gang te kom en hoe goedkoop invoere van China af is. Daar word bitter min gedoen om mense aan te moedig om ware entrepreneurs te wees. Spesiale belastingvoordele vir sulkes moet ingestel word, hou op dat daar sulke BEE wette toegepas MOET word; as mense nie vir beginners wil werk teen lae salarisse nie (totdat maatskappy groei) moet dan nie werkgewers straf nie deur hul met minimumlone te dwing om uiteindelik toe te maak nie. Al die unies en ander nonsens maak dat niemand meer besighede wil begin agv van al die newgatiewe dinge. Die regering moet invoere duurder maak en ondersteun plaaslike bedrywighede – gaan leer by China hoe hul dit regkry eerder as om net van hulle af in te voer, Maar nee dan kla hulle hul oor werkloosheid maar hoe moedig regering nuwe besighede aan? Sou hoop Woolies en die dame kan ‘n ooreenkoms ondergaan en hul net haar produk verkoop maar dat dit goedkoper vervaardig kan word en sy steeds geldmaak.

Pvt ·

1. WW se ex staff begin besighede (manufacturing) op IP/designs wat hulle “bekom” en WW voorsien die fondse.
Dis mos maklik PIC is WW se grootste aandeelhouer. PIC is bewus van die onetiese gedrag.
2. WW hou entrepreneurs dop en sou dit produk wees wat hulle wil verkoop en eienaar is wit dan stuur hulle ex staff/BEE in en adviseer en binne 2jr is daar “hostile take-over”

Dit gebeur elke jaar vanaf New Buss Journey projek begin het.

Liefie ·

Ek is baie jammer maar hierdie is darem n baie simpel besluit van altwee kante af. Hoeveel eenhede van die sak het WW al verkoop? As dit n aansienlike hoeveelheid is hoekom gaan die twee partye nie n transaksie aan waar die produk onder sy regte naam binne WW beskikbaar gestel word nie? Die ontwerper kan dan n sekere diens fooi aan WW betaal vir rak spasie en so bereik haar produk die wereld en so kry die klient van haar en WW die geleentheid om die produk onmiddelik te koop en huis toe te vat. So ook gun WW die kleinhandel bedryf die platform om die produk te verkoop. Hulle doen dit met hulle materiaal sakke ens.waar hulle klein besighede klaar ondersteun. Hoekom nie die een nie?

Mike ·

Verskoning Goed, maar laat hulle die produk nogsteeds verkoop en haar “ROYALTIES” betaal!!!!

Olly ·

Sover ek verstaan het WW so buidel bestel op die internet en by hulle hoofkantoor laat aflewer en daarna het dit uitgekom op hulle rakke. Ek dink “great” vir hulle as hulle dit soortgelyk kan maak vir soveel minder as die oorspronklike. Elke klient het mos ook die reg of hulle die oorspronklike ten duurste wil koop of die nagemaakte een by WW vir goedkoper. En dit is net soortgelyk, nie 100% dieselfde. Miskien is dit nie WW wat te duur is nie! (Ek sê maar net). Ja WW is nie die goedkoopste winkel met klere en kos, ens; maar die kwaliteit is merkwaardig…als wat ek daar koop hou baie langer of is van better gehalte as baie ander handelaars en op die af geleentheid dat ietsie skort, vervang hulle dit en mens kry nog ‘n “voucher” ook! Ek dink die ander handelaars kan bietjie lesse vat. Almal copy mekaar se produkte, “specials”, ens – dis maar hoe dit werk, moet elke produk van elke persoon en elke handelaar dan 100% uniek wees?

Kar ·

Wel dié sak is absoluut NIKS NUUT nie. 4jaar “gewerk” aan n reeds bestaande ontwerp? net n sakkie of twee bygesit. Nee wat, dalk moet die ander ook bietjie toys gooi.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.