Woolworths skerp veiligheid op ná bomdreigemente

Argieffoto

Woolworths het Saterdag vir die eerste keer gereageer op die onlangse bomdreigemente in sy winkels, spesifiek in KwaZulu-Natal.

Die kettingwinkelgroep het veiligheidsmaatreëls by winkels opgeskerp en bestempel die veiligheid van mense as sy hoofprioriteit.

Woolworths het onlangs die teiken van bomdreigemente geword met verskeie verdagte toestelle wat tussen winkelrakke of in stoorkamers gevind is. Die bron van die toestelle moet nog vasgestel word.

Die polisie se bomeenheid moes Donderdag ontbied word om ʼn Woolworths-winkel in die Durbanse sakesentrum te deursoek vir tekens van ʼn bom nadat ʼn werknemer ʼn verdagte toestel in die winkel gevind het. Twee ander Woolworths-winkels, onderskeidelik in die Gateway- en Pavillion-winkelsentrum, was in die afgelope twee weke slagoffers van soortgelyke voorvalle.

Kay Naidoo, Woolworths se hoof van afdelings, het gesê die winkelgroep wil klante verseker dat die veiligheid van mense wat die winkels besoek sy hoofprioriteit is. “In dié stadium is die motief agter hierdie voorvalle nog onduidelik en die ondersoek duur voort. Ons werk saam met die relevante owerhede, onder wie die Suid-Afrikaanse Polisiediens, die Valke, die plaaslike en nasionale regering en ons eie ondersoekers wat ook hul insette en leiding gee,” het Naidoo in ʼn verklaring gesê.

“Klante sal wel van nou af opmerk dat bykomende veiligheidswagte in uniform geklee in al ons KwaZulu-Natalse winkels ontplooi is. Ons het ook ʼn nuwe soekproses ingestel vir veiligheid en beskerming.”

Naidoo het gesê hoewel Woolworths besef die bykomende veiligheidsmaatreëls kan moontlik ongerief veroorsaak, sal die groep alles in sy vermoë doen om te verseker dat dié maatreëls klante se inkopie-ervaring so min moontlik ontwrig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Tammy ·

Nou het Woolworths dan nie orals in hulle winkels kameras nie…loer hulle nie wat die kliente aanvang nie?
Kan hulle dalk op hierdie vraag kommentaar lewer? Sal interessant wees en n mens beter laat voel as jy weet waar jy jou bevind as jy by hulle deure instap?

Tammy ·

Ongewenste toestelle in die stoorkamer? Dis mos net die personeel wat daar mag kom. Dis ondenkbaar dat n klient sy voete in Woolworths se stoorkamer MAG sit…….. Hoe verklaar jy dit? Gaan hulle die kliente nou hiervoor verontrief?

Cherokee ·

Ek stap in by ‘n tak van Eerste Nasionale Bank op Durban se strandfront. Stap deur ‘n metaalverklikker en die motorsleutels in my regterbroeksak sê heel luidrugtig ‘bing bong’.
Die sekuriteitswag vra vanaf die stoel waar hy sit “what was that?”
Ek trek my mondhoeke so effe na onder en sê ” a 9 mill.”
“Where is it?” vra hy in ‘n gedempte stem.
Ek beduie na my regter enkel en sê “carrying it in a ankle holster.”
“Oh” sê hy. En met ‘n “okay” maak hy die deur oop dat ek kan instap.

Cherokee ·

:-) an ankle holster :-) weetie waarom die n nie ge-appear het nie :-)

Johan H. ·

AAg nooiet , lyk my die wiel draaie he woolies,, Julle neem mos net politiekke korrektes in diens ,, Shame man!!!! Ai en ek wou juis volgende jaar vir my n nuwe broek by julle gaan koop het!!!

Cherokee ·

Sorry Johan, we only keep expensive clothing. PEP-stores just down the road.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.