Woordewisseling lei glo tot Knysna-man se dood onder bakkie

Lloyd en Jared Lamos. Foto: Facebook

Lloyd en Jared Lomas. Foto: Facebook

ʼn Woordewisseling het glo daartoe gelei dat Jared Lomas (23) Sondag in die vroeë oggendure onder ʼn bakkie gesterf het.

Maroela Media het vroeër berig Jared is dood nadat die bestuurder van ʼn bakkie hom in Langstraat, Knysna aan sy kraag gegryp, weggetrek en saamgesleep het.  Dit het intussen aan die lig gekom dat Jared nie die bestuurder van die bakkie geken het nie en dat die twee glo in ʼn rusie betrokke was toe die voorval gebeur het.

Lloyd Lomas, Jared se pa, het Woensdag aan Maroela Media gesê Jared was saam met sy vriende op pad na hul motor nadat hulle die aand by die Oesterfees gewerk het. Die bakkie het verbygekom en langs hulle gestop. ʼn Rusie het tussen die groep en die bestuurder ontstaan omdat die bestuurder glo ongelukkig was omdat hulle skynbaar in die pad geloop het.

“Die bestuurder het Jared aan sy kraag gegryp en (Jared se vriende) het aanhou sê hy moet net rustig raak en dit is nie nodig om te baklei nie. Die ou het skielik net weggetrek terwyl hy Jared vasgehou het. Jared het geval en die bakkie het bo-oor sy kop gery,” het Lloyd gesê.

Jared is per ambulans na die hospitaal gehaas, maar is met sy aankoms dood verklaar. Die bestuurder van die bakkie is later die oggend by sy huis in hegtenis geneem.

Lloyd sê hy is nie kwaad nie, maar hoop geregtigheid sal geskied. “Ek weet nie wie die bestuurder is nie en in alle eerlikheid wil ek nie eintlik weet nie. Dit is nie my plek om by die geregtelike prosesse in te meng nie. Ek het my seun verloor. Niks sal hom ooit terugbring nie. Ek moes hom gister [Dinsdag] gaan uitken en dit was ʼn baie moeilike dag. Maar ek moet nou sterk wees.”

Jared het deeltyds BCom finansiële bestuur studeer terwyl hy gewerk het om sy studies te betaal. Lloyd vertel dat sy seun ʼn gedrewe man was wat hard gewerk het om sy drome te bewaarheid. Hy het pas sy afgelope eksamen met vyf onderskeidings geslaag.

“Wanneer hy in ʼn groep was, was hy altyd ‘die man’. Jy kan net op sosiale media kyk wat sy vriende oor hom sê om te sien watter tipe mens hy was. Hy was altyd vriendelik en altyd spraaksaam. Daar is so baie herinneringe.”

ʼn Gedenkdiens vir Jared word Saterdag om 16:00 by Connect Church in Meadowridge, Kaapstad gehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Theresa ·

Dis alles so sinneloos en onnodig. Sterkte vir Jared se mense!!

Peet Schabort ·

Ook ‘n geval waar die moordenaar onteenseglik uitgeken is en daarvoor die doodstraf.

Manie ·

Die bestuurder klink na ‘n tipiese boelie en afknouer waarvan ‘n voorbeeld gemaak moet word. Ek haal my hoed af vir die oorledene se Pa. Ek sou daai man met my kaal hande vermorsel h er t as dit my seun was.!!!

Gerhard Bezuidenhout ·

Maak n voorbeeld van die groot meneer. Die pa is n beter mens as ek want ek sou daardie kwaai man verwoes het indien dit my seun was.

Winston ·

Stem saam. Ek sou die beskuldigde wees as hy my seun so doelloos vreesloos en sonder emosie vermoor het. Hy verdien die doodstraf.

EMK ·

Simpatie met die familie. Mnr Lamos jy is ‘n beter mens as ek – ek sou daai man wou vermorsel as dit MY kind was. Sterkte vir julle met jul verlies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.