Woordfees vol pitkos skop af op Stellenbosch

Die Woordfees vind van 1-10 Maart in Stellenbosch plaas.

Alle fokus vir kunssinniges, nuushonde, toneelliefhebbers en smulpape is vandeesweek op Stellenbosch, met feesgangers wat in hul duisende sal opruk na die Universiteit Stellenbosch se Woordfees, wat van Vrydag tot volgende Saterdag in die Eikestad plaasvind.

Vanjaar se fees bied ʼn program boordensvol pitkos met boekgesprekke, debatte oor aktuele kwessies, snykant-toneelstukke, die mees bekroonde onlangse Afrikaanse rolprente, musiekaanbiedings wat die mond sal laat water en keurige leefstylinsette te kus en te keur.

Om hoogtepunte uit te sonder is ʼn onbegonne taak danksy die puik peil van die feesprogram, en dis dalk ten beste om ʼn eie keuse uit die verskeidenheid te maak deur “woordfees program 2019” op Google in te tik.

Aan die aktuele gesprekkant staan ʼn paar dinge uit, veral die gesprekreeks wat die joernalis Tim du Plessis vanaf Maandag elke oggend om 11:00 lei. Maandag handel die gesprek oor of pres. Cyril Ramaphosa die pyp gaan rook, Dinsdag is die algemene verkiesing onder die loep, Woensdag word gekyk na Suid-Afrika se buitelandse rol en beleid in ʼn onstuimige wêreld en Donderdag praat die voorste kenners oor die ontplooiing en toekomsmoontlikhede in die gronddebat.

Wat rolprente betref, val die klem veral op die werk van Christiaan Olwagen en die vertoning van sy bekroonde oeuvre. Veral die vollengterolprente Johnny is nie dood nie, Die Seemeeu en Kanarie se vertonings sal hoogtepunte wees vir rolprentgangers wat uitgedaag wil word.

Aan die toneelkant is stukke soos Die reuk van appels, Godgodgod en Katvoet (ʼn Afrikaanse vertaling van Cat on a hot tin roof deur Tennessee Williams) enkele hoogtepunte uit baie.

Een van vandag se fokuspunte vanuit ʼn nuushoek beskou, vind om 10:30 plaas wanneer die akademikus en polemikus prof. Jonathan Jansen raad sal gee oor hoe ons land se onderwysprobleme getakel en dalk selfs opgelos kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Stephen Namibia ·

Had I known I would have made the trip just to listen to Jonathan Jansen. A man in a thousand! His caliber is what SA needs.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.