Worcester-bomplanter: Van verwoesting tot bevryding

Die verhaal van Stefaans Coetzee, die eens gehate Worcester-bomplanter, is vervat in die boek “Wit Wolf” wat pas bekendgestel is. (Foto: Tafelberg Uitgewers)

24 Desember 1996 het soos enige ander dag in die dorpie Worcester in die Wes-Kaap begin. Die winkels was bedrywig soos mense op die nipper Kersgeskenke gekoop en die laaste kruideniersware vir hul Kersetes gekry het.

Dit was ook die geval in die plaaslike Shoprite-winkel waar ʼn feestelike atmosfeer geskep is met luide Kersmusiek en ʼn reuse-Kersboom met winkende liggies voor die ingang van die winkel. En toe ruk die ontploffing deur die gebou, die winkelvensters bars, skrapnel en glas skiet deur die lug en die reuk van swael hang soos ʼn wolk oor die verwoesting.

Toe die 19-jarige Stefaans Coetzee later hoor vier mense het in die ontploffing gesterf, was hy ontsteld dat die bomme net vier lewens geëis het. Hy en sy makkers wou “soveel moontlik van die vyand se koppe vat” en het gedink dit sou meer wees as vier.

Nou, 23 jaar later, is daar nie ʼn sweempie van daardie wraaksugtige jong man by Coetzee te bespeur nie. Daar is ʼn sagtheid in sy oë en rustigheid in sy stem wat ver verwyderd is van die wreedheid en paniek van daardie dag. Geen monster nie. Net ʼn verkondiger van versoening en hoop.

Die wording van ʼn rassis

Die verhaal van Stefaans Coetzee, die eens gehate Worcester-bomplanter, is vervat in die boek Wit Wolf wat Coetzee saam met die skrywer en joernalis, Alita Steenkamp, geskryf het. “Stefaans se storie het my dadelik net so diep geraak. Ek het net geweet dít is die een lewensverhaal wat ek bitter graag sal wil skryf. En toe ek hom ontmoet, het ek dit vir hom gesê. As jy vir Stefaans ontmoet, is daar ʼn sagtheid in hom wat jou dadelik tot in jou hart raak. Sy swaarkry was aangrypend,” sê Steenkamp.

Wit Wolf is vandeesweek amptelik in Pretoria bekendgestel. Coetzee, wat tans op parool is, is toegelaat om die bekendstelling van die boek by te woon.

In die boek vertel Coetzee hoe hy nog ʼn laerskoolseuntjie was toe sy ma vir hom geld gegee het om lekkers by die winkel te gaan koop. Toe hy terugkeer, was sy weg. Coetzee se pa moes daarna alleen na hom en sy drie sussies omsien, maar sy alkoholverslawing het uiteindelik daartoe gelei dat al vier kinders in die kinderhuis beland het.

Coetzee beskryf sy jare in die kinderhuis as veel erger as die 18 jaar agter tralies. “As jy tronk toe gaan, dan gaan jy soontoe oor jou eie verkeerde keuses. Dit is net jou eie skuld. Maar as jy in die kinderhuis beland, is jy onskuldig. En jy sit daar en wonder, hoe kan ek so sleg wees dat my ouers my nie wil hê nie? Hoe sleg moet ek wees dat niemand in hierdie hele wêreld vir my kan lief wees nie? En dit is veel erger as ʼn straf wat jy gekry het deur jou eie toedoen,” sê hy.

Stefaans Coetzee tydens die bekendstelling van “Wit Wolf” by UpperCase in Pretoria. (Foto: Maroela Media)

In die boek vertel Coetzee breedvoerig oor die gebeure wat gelei het tot daardie noodlottige Oukersdag net twee jaar ná die aanbreek van demokrasie in Suid-Afrika. Sy ontmoeting met Jan “Voetbol” van der Westhuizen, sy kennismaking met die Israel Visie-geloofsgroep en sy skakeling met Cliffie Barnard en Koper Myburgh.

Dit was Jan Voetbol en Mark Hammond wat daardie dag saam met hom gegaan het. “Vandag wil ek soveel moontlik swart mense doodmaak. Dit was my oorheersende doelwit toe ek die volgende oggend in Worcester se Adderleystraat stap onderweg na die Narotam-apteek waar ek my bom moes plant.”

Jan se bom het by die Shoprite-ingang ontplof. “Ek het myne se lont met ʼn brandende sigaret aangesteek. Op daardie oomblik het ek totaal niks gevoel nie. Ek was daar om ʼn sekere taak uit te voer en ek het dit gedoen.” Enkele oomblikke later het Coetzee se bom buite die apteek ontplof. Mark se bom het nooit ontplof nie. Hy het beweer hy kon dit nie aangesteek kry nie, maar Coetzee was oortuig sy moed het hom begewe.

Coetzee is tot effektief 40 jaar tronkstraf gevonnis vir sy aandeel in die bomontploffings. Van hierdie jare is in die Victor Verster-gevangenis naby die Paarl uitgedien. Ander in die Leeuwkop-gevangenis buite Johannesburg, toe die gevangenis op Upington en later Pretoria-Lokaal. Hy was reeds agter tralies toe hy deel geword het van die Wit Wolwe, ʼn ultra-verregse organisasie.

Stefaans Coetzee tydens die ontmoeting met sy slagoffers wat met die Vredestrein na Pretoria gereis het. (Foto: restitution.org.za)

Keerpunt

Dit was agter tralies waar Coetzee, stadig en baie stelselmatig, sy keerpunt bereik het. In die gevangenis in Pretoria het Coetzee vir Eugene de Kock ontmoet, die oudbevelvoerder van die polisie se berugte Vlakplaas-moordeenheid. De Kock was die een wat die pad van versoening en vergifnis vir Coetzee oopgemaak het, wat hom oortuig het om sy slagoffers en hul families om verskoning te vra.

Hy sê dit was egter nie ʼn enkele oomblik van helderheid, ʼn dag waarop alles verander het nie. Dit het hom jare geneem. Jare om te besef dat die “God” wat hy deur die Israel-visie leer ken het, ʼn god is wat verdeeldheid en haat gespreek het. Dit het jare geneem om die ware God van Liefde te vind en uiteindelik met Hom versoen te raak.

Dit was ʼn lang en moeilike pad tot 13 Julie 2015 toe Coetzee uiteindelik op parool vrygelaat is. Hoewel mens sal dink dat vryheid na só ʼn lang tyd in die tronk wonderlik sal wees, was dit vir Coetzee oorweldigend. Hy vertel hoe ʼn aanpassing dit was om so baie in die son te wees, soveel so dat hy aan die einde van die dag skoon moeg sou wees van die hitte.

Skielik moes hy werk kry, ʼn woonstel kry, huis opsit, alles goed wat hy nog nooit gedoen het nie. “Ek het tydskrifte gevat en daarin gekyk om te sien hoe moes ʼn huis lyk. Die eerste ding wat ek gekoop het, is gordyne sodat mense nie kan sien my woonstel het geen meubels in nie. Later het ek ʼn sitkamerstel gekoop en gesorg dat niemand ooit verder as die sitkamer gaan nie. So moes ek stelselmatig begin om ʼn lewe buite die tronk te bou.”

Op ʼn vraag wat vir hom die moeilikste is van die lewe buite die tronk, antwoord hy maklik. “Dat ons in so ʼn pragtige land leef en die mense in hierdie land dit nie waardeer nie. Ek sien hoe mense in restaurante op hul selfone sit, hoe hulle agter mekaar se rûe skinder. Dit verstom my dat ek elke dag sien hoe mense ná werk huis toe ry en net voor hulle sit en staar, nie een keer om hulle kyk om die sonlig of die blomme langs die pad te waardeer nie,” sê hy.

Hy erken hy hou daarvan om op sy eie te wees en verslind steeds so baie boeke soos hy in die tronk gedoen het. “Een van die moeilikste goed van in die tronk wees, is jy weet naderhand nie meer of jy normaal is nie. Daar is niks om jou teen te meet nie. Jy het geen manier om te weet of jy normaal is nie.”

Stefaans Coetzee nadat hy op parool vrygelaat is. (Foto: Twitter)

ʼn Verhaal van vergifnis

Hoewel Coetzee vandag sy storie gebruik om ʼn boodskap van versoening met die wêreld te deel, was dit vir hom moeilik om die persoonlike besonderhede van sy lewe en emosies in ʼn boek vas te vang vir almal om te lees. Steenkamp vertel nadat die boek geskryf is, het Coetzee nog ʼn paar keer gevra dat sekere inligting uitgehaal word.

“Ek het aanvanklik geduldig gekyk na die dele wat hy wou uithaal of verander, maar so teen dag drie het ek net vir hom gesê nee. Niks verder nie. Hierdie goed móét vertel word, jou storie móét gehoor word. Ons kan nie nou alles uithaal nie. En hy het verstaan,” sê sy.

Coetzee erken in die eindweergawe van Wit Wolf wat tans op die rakke is, is daar steeds inligting waarmee hy ongemaklik is. Maar hy verstaan ook nou dat hierdie inligting met die wêreld gedeel moet word sodat mense die krag en bevryding van vergifnis kan verstaan.

“Ek dink dit is ook hoekom Stefaans se boek so eerlik oorkom,” sê Steenkamp. “Want dit is letterlik sy eie woorde, presies soos hy sy storie aan my vertel het.”

Sy erken sommige dae het haar eie trane geloop terwyl sy aan die boek geskryf het. “Daar is soveel pyn in hierdie proses – veral ook as mens na die slagoffers kyk en hulle pyn. Van die mense is nie uitwendig beseer nie, maar hulle sukkel nou nog [om die voorval te verwerk]. Van daardie mense wat in Shoprite gewerk het, moes die volgende dag teruggegaan het om die bloed van die vloere af te was. Ek dink nie ons besef altyd ander mense se pyn nie en so iets wat dit só oopgrawe, maak dit baie meer werklik.”

Steenkamp vertel toe Coetzee kort ná die bomontploffings uitgevind het dat drie van die vier oorledenes kinders was, het dit hom tot stilstand geruk. “Om die een of ander rede het hy nooit daaraan gedink dat kinders die slagoffers kan wees nie. Dit het hom gepla toe hy besef dat onskuldige kinders deur hulle toedoen gesterf het.”

Alita Steenkamp en Stefaans Coetzee tydens die bekendstelling van “Wit Wolf”. Carla van der Spuy het die gesprek gelei. (Foto: Maroela Media)

Vir Coetzee het dit egter swaarkry agter tralies geverg om ʼn omdraaipunt te bereik, op ʼn plek te kom waar hy berou gehad het en vir sy slagoffers om verskoning wóú vra.

“Die swaarkry in die tronk was nodig om my te breek. Ek was baie bitter en het ʼn muur met bakstene van haat om my gebou. Ek kon God nie raaksien nie, want ek het in daardie stadium nie die ware God geken nie. Die god wat ek geken het, het ek gehaat. As ek nie tronk toe gegaan het nie, en niemand het gesterf nie, sou ek hel toe gegaan het, want ek was bitter,” sê hy.

Dit is egter vir hom belangrik om nooit die blaam te verskuif nie, nooit die indruk te wek dat sy swaar kinderjare of die invloed van Jan Voetbol die rede vir sy dade was nie. Dit was sy keuse en sy keuse alleen, en hy aanvaar volle verantwoordelikheid daarvoor.

“Ek was nie ʼn dag te lank of te kort in die tronk nie. Dit was vir my nodig om 18 jaar, vyf maande en een dag in die tronk te wees. Ek kyk vorentoe en sien uit na elke liewe dag wat voorlê.”

Wit Wolf is deur Tafelberg Uitgewers uitgegee en is tans aanlyn en in alle toonaangewende boekwinkels beskikbaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Jerry ·

Laat hierdie hartseer verhaal vir alle wit en swart haters n les wees. Volg die “God van Liefde” sodat jy die “God van Boosheid” kan oorwin. Versag julle harte teenoor alles wat die “God van Liefde” gemaak het! Wees verdraagsaam en versoen uit jou eie uit, moet nie wag totdat jy gedwing word nie. Stefaans kan homself baie gelukkig ag, want vir so baie mense is versoening hulle nie beskore nie! Bly ver weg van fanatiese gelowe wie se God van jou verwag om verkeerd te doen. Bly ook ver weg van groepe wat die regte dinge verkeerd doen met die doel om ander onreg aan te doen, tot bevoordeling net van hulself!

Genoeg ·

Laat in April 1997 is Jan Voetbal van der Westhuizen, voor my, deur Hansie Engels , in Agra te Karasburg in hegtenis geneem. Ek was tydens die voorval kassiere by Agra. Hy het by my 4 x 200lt Diesel kom betaal en terwyl ons met die transaksie besig was, het dit skielik gewemel van Polisie manne. Hansie Engels het na hom toe gekom en ‘n rewolwer teen sy rug gedruk en gesê: “Jy het die einde van jou pad bereik.” Hulle het hom toegelaat om die transaksie te voltooi. Hy is toe geboei en weggeneem. Ons het die aand op TV eers gehoor dat hy verantwoordelik was vir die bom in die Shoprite Sentrum te Worcester. Hy was tog ‘n mooi man van aansien, met ysblou oë.

Swannie ·

Ja, en persone soos McBride word amnestie gegee en dis nie al nie – Hoof van Metro Polisie en later Hoofdirekteur van OPOD.

Interressant dat `n persoon se velkleur bepaal of jy amnestie kry of nie.

Cliffie Barnard was ook betrokke by die Shoprite bomaanval en is verraai deur `n wit persoon wat R 250 000.00 gekry het en vandag in `n klein dorpie woon.

Cherokee ·

Swannie, ek sou met jou skrywe saamgestem het as dit nie was vir jou laaste paragraaf nie. Verraad noem jy dit. Ek kyk bo-oor die R¼m en wonder of jy besef dat die trant van jou kommentaar klink na goedkeuring van sluipmoord op onskuldiges want jy noem die ontmaskering van die moordenaar ‘verraad’. Miskien het jy dit anders bedoel.
Ek het meer as een keer in kommentare die lesers herinner aan Umkhonto we Sizwe wat met winkel-bomme onskuldige vrouens en kinders vermoor het. Was ons dan beter? Was ons enigsins beter as ons dit ook gedoen het? Hoe sou jy voel as McBride nou ‘n boek skryf oor die moorde wat hy gepleeg het en geld maak daaruit? Ek word geken in hierdie forums as uiters konserwatief maar ek is ook ‘n realis. En die lem kan twee kante toe sny. Ek sou graag wou hê ons moet uit hierdie oorlog stap met skoon gewetes.

Bokkom ·

Geen terrorisme regverdig die vat van lewens nie. Kom by. Selfs “onse” held Nelson.

Swanna ·

Cherokee” Swannie het net inligting aan die dag gelê oor wat gebeur het en oor wat se regverdigheid plaasvind. Soos ek alreeds op hiedrie webblad genoem het dat ons eie mense sal ons aangee, dit is verraai. So ander magte mag bome plant en almal opblas.
In geen oorlog stap jy uit met geen skoongewete nie. Om ander mense se lewens te neem as jy iest binne jou het sal altyd pla tot jy jou kop neer lê. Maar daar is wat geen gewete het nie. Dit het ons al in ons land se geskiednis ondervind en gesien.

Johan Swart ·

Onthou net altyd… Nelson is eers laat in 2008 van die FBI se lys van internasionale Terroriste afgehaal…hy was nog vir 14 jaar na ’94 dopgehou.

Gaitsigubib ·

Neewat ek se in oorlog vat jy lewens. Jy id jou vyand en jy val hom aan, dis so eenvoudig soos dit. As vrouens, kinders en lede van die publiek in eersgenoemde groep val en jy wil nie aanval nie, dan is oorlog nie vir jou nie – hulle kry maar altyd seer. Dis seker waarom ek kan se, “oorlog is nie vir my nie”. As my vrou en my kinders eendag die onskuldige slagoffers van geweld word, sal my gevoel dalk verander. Een ding is seker my teiken sal nooit doelbewus oumense, vrouens en kinders wees nie.

Koos de Meyer. ·

Wat van die kerkstraat bomplanter wat hoof van die weermag geword het.

jaco ·

wat van duitsers wat lewenslange tronkstraf gekry het vir die moord op 6 miljoen Jode (let wel 6 MILJOEN, en toe is daar amnestie en goeie gedrag ens ens??? 5 na 10 jaar en amper almal was vrygelaat.

Cherokee ·

Swanna, Swannie het nie net inligting aan diie dag gelê nie maar ‘n eie mening uitgespreek.
Koos de Meyer, van wie praat jy?
jaco, wat daarvan? Ons praat hier van Suid Afrika.

HANSIE ·

ek wonder wanneer gaan hulle so ernstig wees om al die moordenaars van plaas boere te arresteer. hulle tree vinnig op teen wit mense

Sanna ·

Die duiwel is nie gepla met enige iemand se verlede en/of sondes nie. Hy vrees die potensiaal wat in elke mens rus.

Jannie ·

Ek is nie bewus van algemene bomplanting deur Israel Visie se mense nie…….maar ek is wel bewus van terririste wat reeds dekades lank bomme plant, moor en plunder…en natuurlik BOERE VERMOOR!!!

Madeleine ·

Sal graag boek wil lees. Storie v hoop; vergifnis; 2e kans en liefde. Prys die Here vir hierdie man se getuienis wat baie ander nader aan God gaan bring.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.