Worcester-ontploffing: Slagoffer ontmoet weer held in hospitaal

Klaas de Vos (Foto: Nadine Theron, eNuus)

Nadat ʼn gastenkwa vroeër vandeesweek in Worcester ontplof het, het dinge steeds nie na normaal teruggekeer vir inwoners van dié Wes-Kaapse dorp nie.

Dit is veral Bennie Koch (63) en Klaas de Vos (46) wat nie gou dié dag sal vergeet nie.

Koch het ernstige brandwonde opgedoen toe sy bakkie in die spervuur van die eerste ontploffing beland en vlamgevat het. Hy moes noodgedwonge uit die brandende voertuig kruip en De Vos is die man wat hom te hulp gesnel en hospitaal toe gehaas het.

Teen vanoggend was Koch steeds in die hospitaal nadat kunsmatige vel die afgelope paar dae oor sy wonde geplaas is en De Vos is ná ʼn dag se rus terug by sy werksplek, Raimondi’s, op die dorp.

Koch se vrou, Elmien, het aan Maroela Media gesê dat hy sedertdien sukkel om te slaap aangesien hy nagmerries oor die angswekkende voorval kry.

De Vos het op sy beurt gesê hy word sedertdien oorweldig deur aandag van die media.

“Ons was Woensdag besig om te laai toe ons wat na ʼn tipe miswolk gelyk het agter ons werksgebou gesien het. Ons het later agtergekom dat dit te dik is vir mis en toe ruik ons gas. Ek sê toe vir die manne wat my gehelp laai het dat ons moet klaar laai. Ons moet hier wegkom.”

Sowat vyf minute later, net na 06:00, het die eerste ontploffing plaasgevind. “Dit was ʼn geweldige slag. Dit het gevoel of ek inmekaar gaan sak. Ons het gehardloop en toe draai ons om na die hoofhek [van die sakeperseel]. Ons het eers die brand gesien en toe hoor ons iemand om hulp gil.”

Bennie Koch saam met sy dogter
Benine Kluyts. Foto: Verskaf

De Vos verduidelik dat hy vir Koch uit die brandende voertuig sien kruip het en hom toe te hulp gesnel het.

“Hy het baie sleg gelyk. Ek het hom gehelp tot by my bakkie. Hy kon nie sit nie en ek het vir hom gesê hy moet agter in die bakkie lê. Ons kon nie deur die vuur en die rook kom nie. Die verkeer het opgehoop en ek het my noodligte aangesit en my hoofligte geflits, toe maak die verkeer vir ons oop.

“Dit is die Here se genade dat ek met die man wat so gehuil en gegil het kon deurkom.”

Wat gaan deur ʼn mens se kop in dié stadium? “Jy dink nie aan jouself nie,” vertel De Vos aan Maroela Media. “Jy dink net aan hierdie persoon wat jy moet help.”

Volgens De Vos het hulle toe vinnig by die hospitaal gekom waar mediese personeel dadelik vir Koch te hulp gesnel het. Hy het nooit kans gekry om Koch se naam te vra nie.

De Vos is daarna weer terug werk toe waarna die tweede ontploffing net met sy aankoms omstreeks 06:20 plaasgevind het.

Dié slag was erger as die eerste een, vertel hy. “Die slag het ons winkel se mure uitmekaargeslaan. Die tenk het deur die lug getrek. Ons het gehardloop vir ons lewe.”

Volgens De Vos is dit ook hierdie ontploffing wat omliggende winkels aan die brand laat slaan het. “Met die Here se genade het ek niks oorgekom nie,” vertel hy.

De Vos is wel later die dag terug hospitaal toe om vir skok behandel te word. Hiér het hy weer vir Koch gesien en homself vir die eerste keer ordentlik voorgestel.

“Dit was ʼn belewenis. Hy kon nie genoeg vir my dankie sê nie. Hy sê ek was sy beskermengel. Ek sê maar net vir die Here dankie dat ek iemand kon gehelp het.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

Suzette Geringer ·

Wow Mnr de Vos – jy het goed gedoen. Sterkte aan jou en Mnr Koch…

Johanna ·

‘n Ware beskermengel. Dankie vir jou onbaatsugtige daad. Dankie vir ‘n lewe wat die Here gespaar het. Spedige herstel.

Trish ·

SOMMER N KNOP IN MY KEEL – ONS HET MEER ENGELE NODIG – DANKIE MNR DE VOS

nella ·

Mag jy baie geseën word. Sterkte vir die nagmerries. Baie sterkte en moed en gesond word aan Mnr Koch. Ons het meer sulke mense nodig in ons land.

Hoopvol ·

Hoop die man kry ook n groot beloning,net soos die petroljoggie! Maak onbaatsugtige goeie dade die moeite werd!

Vanessa Schoemann ·

Alle goeie dade hoef nie aan geld gekoppel te word nie. Alle mense moet goeie dade doen sonder om iets terug te verwag, en ek is seker hierdie meneer het, soos hy wel genoem het, gedoen sonder om te dink, en so die ander man gehelp. Wanneer mense dade begin verrig met die oog op erkenning of finansiele gewin is daar nie hoop nie.

Marinda ·

Jy is ‘n ware held Mnr De Vos! Spoedige herstel Mnr Koch!

Johann cb ·

Klaas, jy is Suid-Afrika se nuutste held! Dankie vir die hulp aan iemand in nood!

Veer ·

Sjoe, wat ‘n onbaatsigtige daad. Ek hoop dit kom honderd vuldig na hom terug.

Lindie ·

Baie dankie Mnr Vos, vir jou onbaatsugtige daad. Die Here seën en behoed jou.

Joon ·

Die HERE werk op wonderlike maniere. Al die eer en lof aan HOM. Prys HOM

AP ·

Mnr De Vos jou liggie sal altyd helder skyn met die onbaatsugtige gebaar!

Santie ·

Ek kry skoon tranne in my oe , daar word engle op ons pad gestuur , Dankie baie dat jy hom gehelp het , jy was op aarde gesit om iemand se lewe te red.

RikaR ·

Dankie Klaas Vos mag die Vader jou en jou familie seën vir wat jy gedoen het . Sterkte aan Mnr koch en sy familie bid vir julle.

RATEL ·

De Vos jou yster!!!! In die dae van elke man vir homself behoort mense soos jy vereer te word. Weet darm jy gaan Standard voorblad haal. Knap gedaan!

Vintcent ·

Klaas jou daad sal eendag in die Hemel beloon word. Welgedaan!

Elizabeth Ashworth ·

Baie dankie aan mnr Klaas Vos vir sy mooi gebaar. Wil net se ek en my seun Alan was ook in die ontploffing. Ons altwee het 2de graadse brand wonde opgedoen. Ek sterk aan by huis, maar Alan is oorgeplaas Tygerberg Hospitaal toe vir `n veloorplanting op sy arms. Nog `n volledige berig is op Media24.

martin cilliers ·

dit is n baie mooi mense storie wat mekaar help maar ook n waarskuwing dat lorries met gas en petrol in ons dorpe ry soos groot bomme op wiele wat wag om te ontplof baie ontstellend!!!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.