Worsie sterk mooi aan ná amputasie

Die hondjie kon skaars loop nadat sy gebreekte been sonder behandeling skeef aangegroei het. Foto: DBV

Die dachshund van Bloemfontein waarvan die poot afgesit moes word nadat hy geskop en die been skeef aangegroei het, sterk mooi aan nadat die operasie gister suksesvol uitgevoer is.

Die nagenoeg jaar oue hondjie, wat nog nie ʼn naam het nie, “is maar nog baie slaperig, maar hy is oukei”, sê Reinet Meier, senior inspekteur van Bloemfontein se DBV.

Sy vertel heelparty mense het laat weet hulle wil hom graag aanneem, maar die DBV wil eers wag tot hy volkome herstel het. Intussen kort hulle nog R1 000 om die veearts te betaal wat Maandag die amputasie uitgevoer het. “Ons het ʼn vrywilliger wat sal help met die rehabilitasie.”

Meyer vertel honde met net drie bene leer gelukkig baie vinnig om oor die weg te kom; al wat dié worshondjie nog kort, is ʼn naam. “Mense kan voorstelle doen op ons Facebook-blad, Bloemfontein SPCA,” vra sy.

Lesers het met afgryse gereageer op Maroela Media se berig waarin vertel is hoe dit gebeur het dat die hondjie se agterpoot geamputeer moes word.

Talle wou weet waarom die eienaar nog nie vervolg is nie, maar Meyer sê hulle is besig om die hele huishouding in die voorstad Wilgehof te ondervra. Hulle wil beslis optree sodra hulle ʼn getuie het. “Die [gewese] eienaar wil nie teen haar suster se kêrel getuig nie.”

Die dachshund se been is geamputeer nadat sy eienaar geweier het om geld aan sy behandeling te bestee. Foto: DBV

Die DBV het eers onlangs ʼn klagte oor die toestand van die dachshund ontvang, al het die voorval amper ʼn maand gelede gebeur. “Ons het gereageer en afgekom op ʼn klein beseerde dachshund,” het ʼn woordvoerder van die DBV die naweek gesê.

Toe hulle by die eienaar wou weet wat met die hondjie se poot gebeur het, het sy vertel haar suster se kêrel het die hond geskop terwyl hy besope was.

Hulle het die kêrel gevra wat gebeur het, maar sy weergawe het van sy meisie se suster sʼn verskil. “Toe ons hulle verder uitvra,” het die woordvoerder gesê, “het dit geblyk die hondjie se poot is reeds drie weke vantevore gebreek.”

Die eienaar het vertel hulle het die hondjie na die veearts geneem, wat hulle twee opsies gegee het: Hulle kon die been laat amputeer óf dit met ʼn groot operasie laat regmaak. Albei opsies was duur.

Sy was nie van plan om geld te mors op ʼn hond wat sy geskenk gekry het nie.

“Toe ons die eienaar vra hoekom hulle nie die hondjie gehelp het nie,” sê die woordvoerder van die DBV, “het sy gesê sy kon dit nie bekostig nie. In elk geval het sy die hond by ʼn vriend present gekry en was sy nie van plan om geld te mors op ʼn hond wat sy geskenk gekry het nie.”

Sy het beweer die hond het nie pyn nie omdat hy op die been kan trap. “Maar toe ons die hondjie dophou, het ons gesien hy kan skaars loop,” het die woordvoerder gesê.

Die DBV het ʼn waarskuwing aan die eienaar uitgereik om die hondjie so gou moontlik te laat behandel, maar met ʼn opvolgbesoek het hulle gesien sy het nog niks gedoen nie.

Volgens die woordvoerder was die eienaar nie van plan om geld te bestee aan ʼn hond wat sy present gekry het nie. Sy het ook gesê sy sou nie die been laat afsit nie, “want sy wou nie ʼn gebreklike hond hê nie”.

Al raad was om op die hondjie beslag te lê en hom na die veearts vir X-strale te neem. Sy poot is by die dybeen gebreek, maar omdat die eienaar so lank getalm het, kon die poot nie meer behandel word nie en is dit Maandag afgesit.

Die DBV vra dat enigeen wat hulle kan help om die laaste hekkie met hul geldinsameling oor te steek, “Bloemspca” na 42646 sal SMS om R30 te skenk.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

belinda ·

Baie bly om te hoor alles het goed afgeloop vir die pragtige ou hondjie, hoop die vorige eienaar word vervolg, weet daar is oulike mense wat die hondjie sal aanneem.

LouE ·

Gooi my nou maar met klippe. Ek kan nie sien hoekom dit nie beter sou wees om die hondjie uit te sit nie. Vervolg die ou wat die hond geskop het en hou die eienaar verantwoordelik vir koste. As sy nie kan betaal nie moet hulle maar haar goed onder haar uitverkoop. Mens moet leer – as jy ‘n dier aanhou dan vat jy verantwoordelikheid.

LVH ·

louE, ek stem nogals met jou saam. Ons het ‘n boerboel gehad, jare terug, wat vinnig leer loop het op 3 pote, nadat hy sy skouerblad gebreek het na ‘n val. (hy wou die meterleser eintlik oor die hek trek, en het toe baie seer gekry) maar…….later moes ons hom alsnog uitsit vanwee sy borsbeen wat skeef gegroei/ getrek het, omdat hy gehinkepink het. mense hou baie van hul diere, ek weet, ek is 1 van hulle, maar ek glo vas dat ons doen die dier ‘n onreg aan om so deur die lewe te moet gaan.

Tripod ·

LVH
So alle diertjies wat nie perfek is nie moet eerder van kant gemaak word. Weet nie wat my 3 been kat daarvan gaan dink nie, is nie asof sy boom klim en alles doen wat ‘n “normale” kat doen nie. Ooit daaraan gedink dat ‘n ander defek jul boerboel se borsbeen se groei kon beinvloed? En ‘n boerboel (pragtigste diere) is baie groter en swaarder as die worsie en moes hy meer las op sy voorbeen plaas…

Carlien ·

Sy moet liewer NOOIT weer in haar hele lewe n hond of enige ander troeteldier aanhou nie!!!! Ek word so kwaad as ek sulke stories lees.. Dit breek my hart as ek sien hoe diere moet ly onder mense se selfsugtiheid en hartelose manier van dink en doen.. Skaam jou!!!!!!!!!!

Willie ·

Mense besef nie dat diere in jou hande is…Jy gaan eendag verantwoording doen, hoe jy n hulpelose dier mishandel. Jy as mens weet beter, jy het volle verstand, ents… Aan julle wat die hondjie mishandel het, lewe het n snaakse manier…. Jul kan ook bly wees, julle loop nie in my vas nie, ek sal beslis meer as n been breek! MM was die vondse darem genoeg gewees? Moet asb nie die hondjie vir hulle terug gee nie… die hondjie kort liefde, en geduld..

sandra ·

Ek kry skoon skaam wanneer ek van sulke goed lees, wonder wat gaan sy met ‘n kind maak wat sy ook as geskenk kry? Vir baie mense is hul troeteldiere hul kinders en word die kinders baie beter as mense kinders behandel. Diere gee onvoorwaardelike liefde.

belinda ·

willie: ek stem saam met jou, die wiel gaan draai vir daai eienaars, as hulle dit aan arme worsie kan doen, wat kan hulle nie aan klein kindertjies doen nie, en aan louE wil ek ook net se, hoekom hom wil jy hom laat uitsit, ( see nou dit was jou kind, sou jy dit toegelaat het, onthou ;n hond is nes ‘n mens) se ook maaar net

Nika ·

en dit is hoekom mense nooit diere vir ander moet koop of persent gee nie.

Marietjie ·

Dit laat my bloed kook..ek wens eerlikwaar daar was die een of ander wet wat mense verplig het om te gaan vir toetse om te sien of hulle wel in staat is om `n diertjie aan te hou want wraggies, sommige mense se aksies gaan doodeenvoudig my verstand te bowe. Ons Hemelse Vader het ons as mense tog oor die diere gestel en dit is wat die mens daarmee doen. Dit is ysingswekkend om te sien en hoor hoe ongelooflik wreed sommige mense teenoor diere kan wees en ek wens uit die diepte van hart dat wat ookal hulle aan die diere doen, hulle drievoudig sal terugkry. Ons is die diere se stemme maar ongelukkig is die mens te pap om hulle monde oop te maak en die diere te beskerm. Mag die vrou presies dit terugkry wat sy toegelaat het met die hondjie en mag die man presies dit ookom wat hy die hondjie aangedoen het en dan maande lank sit sonder enige mediese hulp of medikasie. Ek wens hulle toe om te voel wat die arme hondjie moes deurmaak. Gelukkig kan hulle bel en vra vir hulp, die hulpelose ou hondjie was aan hulle genade oorgelaat en daar was nie veel genade nie.

Hondeliefhebber ·

Ek het self n 3 been jackrussel en daar is absoluut niks fout met hom ni. Hy is n dood normale gelukkige hond. Hy waag nogsteeds baie en niks keer hom nie. Ons het hom aangeneem so 8 jaar terug toe hy deur n kar getrap is en di beentjie afgesit moes word. Ek verruil hom vir niks nie. Hy is deel van my gesin en my seuna(sy naam). Hoop die eienaars kry wat hul toekom.

Wilmarie ·

Ek het n bokhondjie gehad met 3 bene. Hy het 16 jaar oud geword.

Domvraag ·

Wie is die beter mens. Die eienaar wat nie wil betaal nie of die veearts wat niks verniet wou doen?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.