Wőstmann behou Two Oceans-titel

Caroline Wostmann. Foto: Twitter

Caroline Wostmann. Foto: Twitter

Suid-Afrika se bekende ultramarathon-atleet, Caroline Wőstmann, het Saterdag haar 2015-titel as die wenner van die Two Oceans Ultra Marathon behou toe sy weer eerste in ʼn tyd van 3:44:44 oor die wenstreep gehardloop het.

Ten spyte daarvan dat Wőstmann, soos in 2015, gesê het sy neem net deel as ʼn oefenlopie, het sy steeds in die laaste paar kilometer versnel om haar pad na oorwinning oop te hardloop. Wőstmann het ook vroeër vandeesmaand die Om-die-Dam-Ultramarathon gewen.

Tanith Maxwell het later in die wedloop goed opgevang, maar was nie sterk genoeg om Wőstmann in te haal nie.

Maxwell het ʼn tyd van 3:45:55 aangeteken, net sowat ʼn minuut stadiger as Wőstmann se wentyd. Die Ethiopiese atleet, Amelework Fikadu, was in die derde plek, met 3:47:40.

In die mansafdeling het die Zimbabwiër, Mike Fokoroni, met die louere weggestap in ʼn tyd van 3:13:36. Nog ʼn Zimbabwiër, Collen Makaza, het die tweede plek met ʼn tyd van 3:14:48 ingeneem, terwyl Mabhutile Lebopo van Lesotho in 3:16:25 derde oor die wenstreep gehardloop het.

Ludwick Mamabolo, die 2012 Comrades Marathon kampioen, was in die mansafdeling die eerste Suid-Afrikaner oor die wenstreep, met ʼn algehele sesde plek in 3:17:55.

Manswenners 56km (nie-amptelik):

  1. Mike Fokoroni (Zimbabwe) 3:13:36
  2. Collen Makaza (Zimbabwe) 3:14:48
  3. Motlokoa Nkhabutlane (Lesotho) 3:16:25
  4. Manhutile Lebopo (Lesotho) 3:16:31
  5. Porthiper Dombojena (Zimbabwe) 3:17:43

Vrouewenners 56km (nie-amptelik):

  1. Caroline Wőstmann (RSA) 3:44:44
  2. Tanith Maxwell (RSA) 3:45:55
  3. Amelework Fikadu (Ethiopië) 3:47:40
  4. Charne Bosman (RSA) 3:48:40
  5. Colleen de Reuck (VSA) 3:53:07

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.