Wouter Wessels wil met integriteit ʼn verskil maak

Wouter Wessels. Foto: Facebook

Die Vryheidsfront Plus se nuwe parlementslid het groot skoene om vol te staan, maar hy meen hy het geleer by die beste leermeester in die Suid-Afrikaanse politiek.

Wouter Wessels (33), wat die voormalige partyleier, dr. Pieter Mulder, se setel oorgeneem het noudat Mulder uitgetree het, was immers baie jare lank Mulder se private sekretaris, en huiwer nie ʼn oomblik om te vertel hoeveel hy oor die politiek by Mulder geleer het nie.

En dit is ook werklik so – dis natuurlik ʼn jonger man dié, maar as jy met hom praat, slaan daar baie van Mulder se rustigheid, politieke hoflikheid en kennis van die Suid-Afrikaanse politieke geskiedenis deur.

Wessels het in Oos-Londen grootgeword en aan die Hoërskool Grens gematrikuleer. Sy politieke betrokkenheid het tydens sy studies aan die Vrystaatse Universiteit begin, waar hy die VF Plus se kampusleier was in ʼn tyd toe die VF Plus die studenteraadsverkiesings oortuigend gewen en die studenteraad oorheers het.

“Ek het tydens my universiteitsjare by ʼn punt gekom waar ek die politieke party moes kies waarmee ek die meeste saamstem oor belangrike kwessies. Taal en moedertaalonderrig is vir my belangrik, en ek meen regstellende aksie benadeel almal in die land. Die VF Plus is die enigste party wat ondubbelsinnig reg is oor hierdie kwessies.”

Ná universiteit het hy vir die VF Plus in die Vrystaat gewerk en toe, van 2009 tot 2014, as Mulder se private sekretaris gedien toe Mulder adjunkminister in die Zuma-regering was.

Wouter Wessels. Foto: Facebook

“Dit was baie veeleisend, en heeltemal ʼn ander wêreld. Ek was baie jonk. Ek het baie geleer oor hoe regering werk, hoe ʼn staatsdepartement werk en hoe ʼn ministerie werk. Dit is aspekte waarmee ons in die opposisie nie altyd so bekend is nie, so dit was leersaam en waardevol.

“Dit was veral in daardie tyd dat ek baie by dr. Mulder geleer het. ʼn Beter leermeester is daar nie – hy het soveel jare se ervaring van die huidige en die vorige politieke stelsel, en hy het my gewys hoe ʼn mens in die politiek oorleef.”

So hoe oorleef ʼn mens in die politiek, agbare lid Wessels?

“ʼn Mens moet probeer onthou dat verskille in die politiek nie persoonlik is nie – dat dit altyd oor beleid moet gaan. ʼn Mens moet dus sowel jou mede-partylid as jou opponent altyd met respek hanteer. Dit is vir my jammer dat ʼn mens dit deesdae al minder in die politiek kry.

“Ek dink jy oorleef in die politiek deur jou integriteit te behou – ja, jy moet met integriteit oorleef. Jou politieke reputasie is belangrik – jy moet dit altyd waardig wees.”

Die portefeuljekomitees in die parlement waarby hy die graagste betrokke sou wou wees is die finansieskomitee (wat hy reeds begin bywoon het) en die staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor), maar hy sal uiteraard die komitees aanvaar wat aan hom toegewys word.

Wessels het reeds die nomadiese bestaan van die parlementslid begin leef deur te pendel tussen die parlementêre dorpie Akasiapark in die Kaapse voorstad Goodwood, en sy huis in Bloemfontein.

Hy is nou byna twee jaar lank getroud met die politikus Tammy Wessels, wat die VF Plus in die Vrystaatse wetgewer verteenwoordig.

“Ons het mekaar in die studentepolitiek ontmoet, maar eers tydens die 2014-verkiesingsveldtog in ʼn romantiese verhouding betrokke geraak. Teen daardie tyd is Tammy reeds op die tweede plek van die Vrystaatse kandidatelys van die VF Plus verkies – ons het nie daardie eerste twee plekke op die lys verower as ʼn egpaar of terwyl ons in ʼn verhouding was nie. Ons is elkeen ʼn politikus in eie reg.”

Wouter en sy vrou Tammy op hul troudag. Foto: Facebook

Dis seker maar moeilik vir twee sulke jong getroudes om in ʼn langafstand-pendelhuwelik te wees, of hoe?

“Nie eintlik nie. Omdat ons albei politici is, verstaan ons mekaar se lewens, skedules en uitdagings. Dit is belangrik om nie werk huis toe te neem nie. Jy moet ook ʼn lewe buite die politiek hê.”

Wat is sy doelwit as parlementslid? Wat sal sy meetsnoer wees dat hy daarvan ʼn sukses gemaak het?

“My doelwit is om ʼn positiewe verskil te maak aan die land. Ek wil die VF Plus se boodskap uitdra in belang van Suid-Afrika en van die party se kiesers. Ek wil die belastingbetaler en die beste belange van Suid-Afrika verteenwoordig. En ek dink dit is uiters belangrik om altyd ʼn opposisiestem te laat hoor – selfs in ʼn tyd dat soveel mense so eufories oor pres. [Cyril] Ramaphosa is.”

Dít is dan die VF Plus se nuwe besem – ʼn beskaafde, deurdagte politikus wat oor partygrense kan saamwerk en dertien jaar se politieke ervaring met hom saamdra – ʼn waardige opvolger vir een van die land se mees gerespekteerde politici wat nou uiteindelik die meeste kan maak van die gesinstyd in Potchefstroom waarvoor daar in sy besige politieke loopbaan nooit genoeg tyd was nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

PJC ·

Voorspoed aan hierdie jongman. Hy het baie groot skoene om vol te staan.

Marius ·

As die Politiek ons een ding geleer het is dit om te wag en kyk…

Marietjie ·

Sterkte vir die twee jongmense wat ‘n verskil in ons land probeer maak. Tans ‘n kookpot. Nou mense nodig wat koelkop kan bly. Wouter sal sy taak gestand kan doen net soos die ander VF+ lede in die Parlement. Wanneer daar net 20 of meer Parlementslede soos hulle is, sal selfs Malema nie sy draaie kry nie. Boere moet saamstaan!

Koos ·

Ek sal vir seker die VF+ ondersteun noudat Pieter Groenewald die leier is, hy is soos ‘n nuwe bries in die party en het ‘n robuuste manier van praat. Mulder het juis te veel politieke hoflikheid ten toon gestel. Hierdie is Afrika, nie die Europese Unie nie!

Ons kort nog mense van Groenewald se kaliber in die parlement, nie outjies wat lyk en optree soos Sondagskoolonderwysers nie.

susan ·

Solank die mense hom net kans gee en die alewig ‘n rasse ding daarvan maak nie en hy nie die eerste verskil wat hy wil maak soos sy voorgangers ‘n duur motor aanskaf nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.