Wrak, slagoffer uit Harties-dam gehaal

Die slagoffer se liggaam is in die wrak gevind. (Foto: SRU HiRisk Unit)

Dit is nog onduidelik presies wanneer en hoe ʼn slagoffer wat oënskynlik met sy motor in die Hartbeespoortdam in Noordwes ingery het, in die water beland het.

Arthur Crewe, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) se basis by Hartbeespoortdam, het gesê reddingsdienste is ontbied nadat ʼn verbyganger Dinsdag die voertuig onder die water tussen die slangpark en die damwalbrug opgemerk het.

Lede van die nooddiensorganisasie Strategic Response and Rescue Unit (SRU) wat ook lede van die NSRI is, was in dié stadium reeds op die dam en het omstreeks 12:30 saam met nog van hulle kollegas en lede van die polisie ondersoek ingestel.

Volgens Crewe was die voertuig heeltemal onder water en het dit naby die wal tot stilstand gekom.

Dit is onduidelik wanneer die motor in die dam beland het. (Foto: SRU HiRisk Unit)

Reddingswemmers het tot by die voertuig geduik en ʼn veiligheidstou is van die ondergedompelde voertuig aan ʼn insleepvoertuig vasgemaak. Duikers het die liggaam van ʼn man wat in die wrak vasgekeer was ná ʼn soektog gevind.

Hulle het die voertuig oopgebreek en die slagoffer se liggaam is aan boord van die reddingsboot geneem. Hy is na die NSRI se stasie geneem waar paramedici hom dood verklaar het.

Crewe het gesê die polisie doen ʼn geregtelike doodsondersoek na die voorval.

“Dit is steeds onbekend wanneer die voertuig in die water beland het,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Scalla ·

Tragies, die persone wat net so verdwyn, het hulle nie vriende, familie of werkskollegas wat weet van hul bewegings nie, moes seker nie by werk opgedaag het of sy bestemming bereik het nie. Met die hedendaagse tegnologie is dit dan ook soveel makliker om te kan kommunikeer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.