Wrede plaasaanval: Boer ‘se doel hier nog nie verby’

Kallie van Heerden. Foto: Facebook

“As hy nie so ʼn sterk gees en sulke deursettingsvermoë gehad het nie, was hy al lankal weg. Maar hy het ʼn wil om te leef en hy glo dat die Vader hom hier op aarde gelos het om iets te doen. Sy doel hier is nog nie verby nie.”

Só sê Marle van Heerden, dogter van Kallie van Heerden (62) wat op 11 Junie vyf keer op sy plaas in die Hartbeesfontein-omgewing in Noordwes geskiet is.

Van Heerden is daardie dag in ʼn kritieke toestand na die hospitaal gehaas en het vir sy lewe in die waakeenheid van die Anncron-hospitaal in Klerksdorp geveg. Maar Marle meen “die een wonderwerk het net op die ander gevolg” en vandag is Van Heerden al langer as twee weke besig om by die familie se huis op die dorp aan te sterk.

“Die eerste wonderwerk was dat hy daardie aanval oorleef het. Die tweede was dat hy so vinnig uit die waakeenheid ontslaan is. Een wonderwerk het op die ander gevolg. Daar is regtig geen ander verduideliking hiervoor nie. Dit is duidelik hoe God se hand in sy herstel gesien kan word,” het Marle Dinsdag gesê.

Van Heerden is omstreeks 16:00 buite sy motorhuis deur drie aanvallers oorval, in die huis ingeboender en daar gedwing om die kluis oop te sluit voordat die aanvallers sy voete vasgebind het. Sy vrou, Thelma, was nie ten tyde van die voorval by die huis nie.

Van Heerden is vyf keer geskiet en het koeëlwonde aan sy hand, bors en arm opgedoen. Marle vertel dat die aanvallers ʼn strykyster gaan haal het om hom daarmee te brand, maar dat die krag op daardie oomblik onverklaarbaar afgegaan het voordat hulle dit kon doen. Van Heerden se buurman het hom uiteindelik te hulp gesnel nadat die aanvallers op die vlug geslaan het.

“Daar lê nog ʼn langs herstelpad voor, fisiek en emosioneel,” sê Marle. “Hy is verskriklik getraumatiseerd en ek dink die realiteit begin hom nou tref. Hy ontvang wel berading. Ek dink ons hele gesin moet die ding maar elkeen op ons eie manier verwerk.”

Kallie van Heerden en sy vrou, Thelma. Foto: Facebook

Daarby moet Van Heerden ook gereeld fisioterapie vir sy linkerelmboog en regterhand ondergaan wat deur die koeëls vergruis is, asook vir sy longe waar daar tans steeds ʼn koeël vassit. “Dokters het besluit indien dié koeël nie infeksie veroorsaak nie, gaan hulle dit nie verwyder nie. Sy longe is nog baie vol bloed en sy rib is gebreek, so hy moet baie hoes en dit is baie seer vir hom,” sê sy.

Van Heerden is ook heeltemal doof in een oor en gedeeltelik doof in die ander oor. “Ons weet in dié stadium nie regtig wat die rede hiervoor is nie, maar ons vermoed maar dit is weens die harde houe teen sy kop. Hy sal binnekort ʼn opvolgondersoek hê waar ʼn spesialis ook sy ore sal ondersoek en dan sal ons meer weet oor die pad vorentoe.”

Oor Van Heerden en sy vrou se toekoms op die plaas, is daar nog nie ʼn besluit geneem nie. “Ons vra hom of hy gaan teruggaan plaas toe, maar hy sê in dié stadium wag hy op ʼn teken. Hy sal niks doen voordat die Vader nie vir hom gesê het watter pad hy moet volg nie. So tot dan, sal hy nie ʼn besluit neem nie.”

Ondanks die lang herstelpad en uitdagende emosionele berg wat die Van Heerden-gesin moet klim, getuig Marle net van God se goedheid deur hierdie beproewing. “As jy dink hoe hulle hom verniel het, is dit eintlik amazing dat hy nie meer skade oorgehou het nie. Ons kan nie genoeg dankie sê nie. Vir die Here, vir ons familie, selfs vir die media wat hierdie storie vertel, want dit is danksy hulle dat mense van wyd en ver, selfs van Kanada en Australië, vir hom gebid het. En ek glo in die krag van gebed,” sê sy.

“Ek weet die Vader sal nooit iets op jou pad sit wat jy nie kan hanteer nie. Hy sê vir ons jy sal nie sterwe nie, maar lewe om van sy wonderwerke te getuig. Ek is so dankbaar dat ons nou in die posisie is om van sy wonderwerke te vertel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

31 Kommentare

Helene Heyns ·

Wat n pragtige getuienis van n pragtige familie wat hul geloof in God stel en Hy hul anker is. Wees verseker Hy sal jul styf vashou en nooit laat los nie. Ek bid saam met julle en Vader luister na Sy kinders se roepstemme. . Sterkte en klou vas.

riana ·

Ja nee God se hande is baie groot. En als wat mooi is vir hom en God sal hom en die familie nog steeds so in sy Groot Hande toevou. Bid vir julle en staan sterk julle sal deur dit kom.

karin ·

Kallie, jy is reg. Jy het beslis nog ‘n werk om te verrig op hierdie mooie aarde van ons. Jou geloof het jou gered. Hierdie is dalk ‘n “eye-opener” vir iemand naby aan jou en / of om iemand tot “God te ruk. Dis waar….God sal jou nooit bo jou kragte versoek nie, en ek persoonlik dink dat God sommiges gebruik om ander tot stand te ruk. Ek is so jammer dat jy hierdeur moes gaan, maar dank God jy is nie alleen nie en het jy jou geliefdes om jou hierdeur te help. Bly vas staan in jou geloof – dit het jou gered !!! Sterkte en voorspoed vir ‘n spoedige herstel en volkome genesing.

Anoniem ·

@ Johan, die wraak kom ons nie toe nie. My oorlede ma het altyd gese “God slaap nie”

D V ·

Die van Heerdens het ‘n standvas geloof.
Nou kan julle ‘n ware getuienes van God se groot liefde wees.
Dankie vir julle geloof en jul dit so getrou uit dra aan ander.

Gesiggie ·

God is Good all the Time…. Marle ja jou getuienis is waar, God sal nooit iets in ons Pad bring as dit nie vir ons bedoel is… jou Pa het deur baie gegaan en dit is God se Genade dat hy leef… wees sterk getuig van God se goedheid… daar is nog n lang pad wat Kallie sal moet loop en n tydperk van herstel… maar met die krag en Genade van Bo, kan en sal hy oorwin. als wat mooi is vir jul almal.

Rina Barnard ·

Baie sterkte aan julle hele familie! Julle geloof sal beloon word, God slaap nie.

Albaster ·

Baie sterkte Kallie. Ons gaan vasstaan en saam sterker word.

Sputnik ·

Dankie Vader! Wees asb. met dié man en sy familie op sy herstelpad. Amen.

Chris Ws ·

ALLE eer aan YaHWeH!Na ons ongeluk het HY aan my vrou verskyn terwyl sy in ‘n koma en uiters kritiek was en vir haar gese hy vat haar nie nou huistoe nie want sy het ‘n nog werk om vir HOM te verrig.Die neuroloog het nie gedink sy gaan dit maak nie.Sy het na wonderwerk op wonderwerk.Ons Vader is Almagtig!Hier is weer ‘n bewys daarvan.Malema en sy trawante gaan sleg tweede kom kyk maar!
Sterkte Kallie ,en dra jou getuienis uit waar jy kom!Ons doen dit ook!

Chrisjan ·

Hoekom lyk dit vir my of mense glo dat God die herstel kan bespoedig maar nie glo God kan die aanval voorkom nie? Dit wil self lyk of van die kommentare sinspeel die aanval is God se plan.

Carina ·

God beplan nie die aanval nie, maar Hy het redes waarom Hy dit toelaat. ( ek dink dis waarna bogenoemde kommentare verwys) Wanneer Kallie en sy familie getuig van God se almag, word hulle n liggie in die duisternis. Ek glo dat God, wat hom op so n wonderbaarlike manier gespaar het, ook aan hulle die krag sal gee om hierdie verskriklike beproewing te bowe te kom. Ons eie geloof word ook hierdeur versterk, sodat ons kan wéét dat God steeds in beheer is. Mag ons, as gelowiges, steeds onverpoosd voorbidding doen vir al die slagoffers, sodat hul nader aan God kan kom ten spyte van omstandighede.

Engela de Klerk ·

Dit BREEK my stukkend om sulke berigte te lees. Natuurlik gaan hierdie gesin en vernaamlik die een wat gemartel is en leef, deur geweldige trauma. Waar en wanneer gaan dit eindig!

Nic ·

Sterkte oom Kallie. Word gou gesond, en staan weer op. Die Vader spaar jou met n doel.

Natascha ·

Ja nee, ons dien n wonderlike en regverdige God en Vader. By Hom is niks onmoontlik nie.
Dankie Vader dat U hierdie gesin in U hande vashou.
Onthou net dit is nie God wat die aanval wou laat gebeur het nie, Maar wel God se hand wat oor hom gehou was. God laat nooit slegte dinge met ons gebeur, dit is Satan se werk.

Susan VL ·

Dit maak my so hartseer en bitter dat die regering van Suid Afrika dit toelaat. Hoe wreed. Dankie Here vir U genade oor Kallie en sy gesin U is onbeskryflik groot en magtig.

Jolanda ·

Baie sterkte Kallie.Mag God volkome genesing vir jou bring.Emosioneel en geestelik.Sterkte ook aan die Familie.My pappie Fritz van der Westhuizen is oorlede aan sy beserings toe hy in 2015 op n plaas in Tzaneen aangeval is.Die wreedheid om jou pa so te verloor los n groot seer en leemte, MAAR ons God is Groot en Almagtig en alle eer kom Hom toe.

Jakkals Heyneke ·

Naand almal
My naam is Jakkals Heyneke ek is oom Kallie se buurman wat eerste op die toneel was en hom aan die lewe gehou het tot die mediese hulp op gedaag het, ek sê dit nie om die eer te kry of sensasie nie , ek sê dit want ek wil vertel die gevoel wat ek gekry het langs oom Kallie toe ek hom vas gehou het en van die bloeding probeer stop het. Dit is n gevoel wat geen mens vir iemand kan beskryf nie ek het saam met oom Kallie hard begin bid en gevra dat HY nie nou vir die oom kom haal nie veral nie in my arms nie.Ek was daai dag en daai tyd net n instrument van my SKEPPER gewees sodat HY SY WERK kan doen. Ons Vader is groot want niemand kan sonder SY GENADE so iets oorleef nie….
Dankie ook aan al die boere hier rondom ons wat gehelp het met als. Mooi dag vir almal

Elmarie ·

Jakkals, vir jou EN die gemeenskap sal ons nooit genoeg kan dankie se nie! Julle was net daar… Kanie in geld of enige manier wys hoeveel julle ons gehelp het nie, ons kan maar net ander weer probeer help soveel as wat ons gehelp en gedra is in die tyd. As ons nie meer kon aangaan nie was julle maar net daar om ons te dra. BAIE BAIE dankie xxxx

Corma ·

Ons harte word elke dag stukkend geskeur wanneer ons lees van die wrede en sinnelose moorde in die land!! Laat ons , ons voor God verootmoedig, ons sondes bely, veral haat wat spruit uit rassisme, sodat ons nie Satan ‘n vatkans kan gee nie! Laat ons bid vir ons vyande en dan alles in die hande van ons Hemelse Vader laat, Hom volkome vertrou, sodat Sy wil kan geskied!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.