WVF betaal bykans R6 miljard se eise

Die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) het in Mei digby R6 miljard in eise vir Covid-19-hulp uitbetaal. Die getal eise neem ook stadigaan toe, het die departement van arbeid en indiensneming gesê.

“Mei se betalings het R5 893 080 491 [amper R6 miljard] aan 1 440 757 individue beloop om hulle te help om met die ergste uitwerking van die afsonderingstydperk die hoof te bied. By die Vergoedingsfonds is 448 eise direk, asook deur Rand Mutual [Assurance] en Federated Employer’s [Mutual] ingedien.”

Die uitbetalings is deel van die regering se mandjie dienste wat hy aan verskillende bedrywe aanbied in ʼn poging om die uitwerking van die afsonderingstydperk, wat tot die sluiting van talle ondernemings gelei het en miljoene mense sonder ʼn inkomste gelaat het, te verminder. Vir sommige mense kon die uitbetalings minstens ʼn paar gate help toestop sodat hulle minstens na hul gesinne kon omsien, het die departement gesê.

Die WVF het sedert 16 April ʼn gesamentlike R23 miljard aan meer as 3,6 miljoen werkers wat deur 322 422 werkgewers verteenwoordig word, uitbetaal.

Die uitbetalings aan huiswerkers is egter baie minder as wat verwag is en dit is uiters kommerwekkend, het Teboho Maruping, kommissaris van die WVF, gesê.

Tussen 16 April en 17 Junie is ʼn gesamentlike bedrag van sowat R128 miljoen aan net meer as 35 000 huiswerkers uitbetaal.

“Ons het iets gedoen, maar dit is dalk nie goed genoeg nie. Ons het en ons kontak steeds werkgewers om namens hul werkers, veral die in kwesbare sektore – soos huis- en plaaswerkers – aansoek te doen vir Mei-betalings. As jy na die syfers kyk, lyk dit egter nie of genoeg mense die geleentheid aangryp nie,” het Maruping gesê.

Altesaam 154 310 werkers se betalings is direk in hul bankrekeninge inbetaal. Sedert April beloop dié bedrag ʼn gesamentlike R679 miljoen, wat beteken werkers kry hul geld veel vinniger.

Die grootste bekommernis nou is die aantal werksgeleenthede wat verlore gaan en die uitwerking daarvan op die toekomstige likiditeit van die fonds. Pres. Cyril Ramaphosa het Woensdag aangekondig dat selfs meer mense nou toegelaat gaan word om hul werksaamhede te hervat.

“Dit gaan gedeeltelike verligting vir die fonds bring. Dit is ʼn goeie tyd vir werkgewers om die regte ding te doen en werkers by die WVF te registreer en die bydraes te betaal.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
Marietjie

Wil asseblief raad vra. WVF kantoor of navrae antwoord nie! Het betaling ontvang vir werkers, maar geen staat om te sien vir wie en hoeveel vir elke werknemer…. was betaling vir April of vir Mei? Sal ook graag wil weet vir hoeveel maande hul gaan betaal? Is daar dalk werkgewers met dieselfde probleem? Moet werkers aflê in Augustus en is bekommerd dal hul dan nie geregtig sal wees om van WVF te eis nie……

Sarel

Hy mekd nie hoeveel Besighede nie gasn oopmaak.nie en hoeverl.mense reeds hulle.poste/ werk verloor het nie.

Sarel

Hoeveel korrupsie en bedrog?? Ook by Sassa

Willem

My kinders wag nog vir die eerste eise. Nou nog niks gekry

JohanF

Solank sekere produkte wat die regering miljarde inbring, verbode bly, sink ons vinniger, elke bietjie help…….