WVF-betalings: Nxesi beloof verantwoording vir elke sent

Thulas Nxesi, minister van arbeid en indiensneming, (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Covid-19-Ters-voordele van altesaam R41,6 miljard is in 9,5 miljoen betalings aan sowat 822 000 werknemers wat hul werk verloor het, uitgereik. Só het Thulas Nxesi, die minister van indiensneming en arbeid, Woensdagmiddag in ’n mediakonferensie gesê op grond van die ouditeur-generaal (OG) se verslag oor die Covid-19-Ters-voordele.

Die OG, Kimi Makwetu, het Woensdag die ouditverslag bekendgemaak ná afloop van ’n oudit na 16 sleutel-Covid-19-inisiatiewe.

Nxesi het tydens die konferensie gesê die Ters-voordele het miljoene afgedankte werknemers en hul gesinne ondersteun. Dit is ’n hersiening van die OG se verslag vanoggend waarin aangeteken is dat eise van R37 miljard reeds teen einde Junie uitbetaal is.

Nxesi sê intussen is gewone Werkloosheidsversekeringsfonds- (WVF-)betalings van R5,9 miljard gedurende die afsonderingstydperk aan meer as 1 miljoen eisers gedoen.

Die ouditverslag het verskeie ongerymdhede wat die Covid-19-Ters-voordeel betref, uitgewys. Hierdie ongerymdhede behels onder meer onwettige betalings aan ontvangers van ander staatstoelae, studente wat NSFAS-betalings ontvang, staatsamptenare, en selfs gevangenes, oorledenes en minderjariges. Daar is ook bewyse van oorbetalings (en onderbetalings) asook kunsmatig opgedrewe eise.

Daar is ook gevalle aangemeld waarin te veel, te min of duplikaatbetalings gedoen is. Van die betalings is selfs goedgekeur nog voordat die aansoek om die voordeel gedoen is.

“Ek neem hierdie oortredings baie ernstig op,” het Nxesi gesê.

Nxesi het tydens die konferensie bevestig dat al drie hoofbestuurslede van die WVF geskors is juis oor ongerymdhde wat die uitbetaling van die Covid-19-Ters-voordeel behels. Teboho Maruping, kommissaris, Fezeka Puzi, finansiële hoof, en Judith Kumbi, bedryfshoof, is geskors hangende ’n ondersoek. Maria Ramoshaba, wat verantwoordelik is vir die WVF-voorsieningskettingbestuur, is ook geskors.

Nxesi het gesê die OG het aanbeveel dat die WVF en die departement met ander staatsinstansies en wetstoepassers moet saamwerk om elke onwettige optrede wat geïdentifiseer is, te ondersoek.  “Die OG vereis ’n behoorlike ondersoek en dat die skuldige partye vervolg word.”

Nxesi het gesê die nasionale tesourie se hulp is ingeroep om al die probleme uit te wys en dit sodoende reg te stel. Die tesourie is ook versoek om ’n diensverskaffer aan te stel wat ’n forensiese ondersoek na die WVF en die Vergoedingsfonds sal uitvoer.

Volgens Nxesi is daar reeds 38 hofsake begin om mense te vervolg wat van ongerymdhede rakende die Covid-19-Ters-voordele beskuldig word. Van die sake het reeds in die hof voorgekom.

“Ek sal nie rus voordat geregtigheid geskied en die skuldige partye aan die pen ry nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Persheks Adri ·

Geskors met volle salaris seker ne? Lekker in die nuwe SA! So wat jy eintlik sê is dat elke sent terug sal kom? Mmmmm…. daai woorde ook al gehoor. Ek sal julle glo sodra ons dit sien, want jy sien die probleem is ons glo nie meer wat julle sê nie! Bewys ons jy praat ware woorde asb dan sal ek onverskoning vra

Johann ·

Whahahahaaaaa!!!!! Skors jou hier en skors jou daar en TADAAAAA!!!!! Jy loop weg met n paar miljoen om jou uit te help voor jy in jou nuwe pos aangestel word?

En die ANC sien NIKS verkeerd met die feit dat “their people” meer en meer afhanklik raak van hulle afhabklikheids staat nie? Of is dit juis wat die kaders beplan? Kweek en KWEEK n massa ongeskoolde afhanklikes om hulle magsvergrype in plek te kan hou?

Persheks Adri ·

Talk the talk, but can you walk the walk? Aikona ne kom ons sien…

RB ·

Nxesi, as jy doen wat jy sê is daar waaragtig bàie hoop vir diè land!
Klem op AS jy doen . . . sal eers moet sien.
Help nie om te kom met n Zondo-ding nie want dit het nog niks gehelp nie, net nog miljoene uit die staatskas gemors.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.