WVF-uitbetalings ‘kom nie by mense uit’

(Foto: Maroela Media)

Dis oënskynlik chaos met die Werkloosheidsversekeringsfonds (WVF) se uitbetaling van eise uit die regering se tydelike noodverligtingsfonds (Covid-19 TERS) wat in reaksie op die landwye staat van afsondering ingestel is.

Gerhard Papenfus, uitvoerende hoof van die Nasionale Werkgewersvereniging (Neasa), het Vrydag gesê die organisasie doen daagliks ʼn opname onder nie net Neasa se duisende lede nie, maar ook ander werkgewers, oor die uitbetaling van eise. Sowat een duisend werkgewers neem elke dag aan die peiling oor die uitbetalings deel.

Uit dié deelnemers het 54% van werkgewers tot dusver aangedui dat hulle meer as ʼn week ná betaaldag nog geen uitbetaling van die WVF ontvang het nie.

Sowat 55% van diegene wat wél een of ander vorm van betaling gekry het, stem nie saam met die bedrag wat oorbetaal is nie. “Sommige mense kry absurde bedrae geld en ander herken glad nie enige van die bedrae nie,” het Papenfus gesê.

Hy het bygevoeg die aansoekproses is boonop geweldig ingewikkeld, wat beteken talle werkgewers sien moontlik bloot nie kans daarvoor nie en dien gevolglik geen eise in nie.

In ander gevalle het werkers wat wél ʼn betaling van die WVF ontvang het, maar wat agterstallige skuld by banke het, nie ʼn sent daarvan gesien nie omdat die bank dit onregmatig weerhou het. Papenfus het gesê geen betaling van die WVF mag teruggehou word nie en die kwessie word in individuele gevalle met banke opgeneem sodat die geld vrygestel kan word.

Die bedryfshoof van ʼn Pretoriase sakeonderneming sê die maatskappy voldoen aan alle tersaaklike arbeidswetgewing, ook die oorbetaal van WVF-bydraes. Hulle het vandeesmaand eise vir al hul werkers by die WVF ingedien, maar dit is verwerp.

In een geval het die WVF aangedui die naam van die bank – ʼn bekende Suid-Afrikaanse handelsbank – bestaan nie op die stelsel nie.

In ander gevalle – waar daar op die departement se aanlyn stelsel gesien kan word dat spesifieke werkers wél geregistreer is – is eise verwerp omdat die betrokke werkers glo nie op die departement se stelsel gevind kan word nie.

(Foto: Facebook)

Hy sê hulle het die voorgeskrewe klagteprosedure gevolg om die probleem aan te meld. E-posnavrae word egter met ʼn standaardreaksie beantwoord.

Maroela Media het self ʼn toets-e-pos na die adres gestuur en ook ʼn standaardboodskap gekry. Dit lui: “Your Covid19ters application is acknowledged. We understand that you have been awaiting for your payments impatiently and we regret to inform that your applications cannot be concluded as it has been observed that a number of the employees in your employment do not appear to be on the Fund’s Database.

“We hereby request you to submit and upload your Declarations on the Fund’s uFiling portal by accessing the link www.ufiling.co.za

Die sakeman sê die onderneming kan dié maand geen salaris betaal nie. Hulle kon sedert die aanvang van die afsonderingstydperk grootliks glad nie sake doen nie. “Ons hét nie meer geld om werkers te betaal nie,” het hy gesê.

Maroela Media het vroeër berig die departement van arbeid het teen April R2,2 miljard vir TERS-voordele uitbetaal. Tóé het die departement gesê byna R900 miljoen se voordele word vertraag omdat werkgewers moes bevestig dat sekere werkers wél in diens is, omdat hulle glad nie op die stelsel verskyn nie, of omdat die inligting wat verskaf is, bloot onvoldoende was.

In sommige gevalle beskuldig werkers – wat die departement se syfers oor die regering se uitbetalings sien en verwag om betaal te word – werkgewers nou daarvan dat hulle die betalings weerhou.

“Die WVF sê hy betaal die geld, maar dit kom nie by die mense uit nie,” het die man gesê.

Maroela Media het navrae aan die departement oor die probleme gerig en wag op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Eerlik ·

Dit sal baie wys wees as besigheids eienaars die onus van registrasie vir die WVF in die hande van hulle werknemers los sodat die werkers kan besef hoe traag en onbekwaam die land regeer word. As die massas nie tevrede is met dienste nie is daar aksie.

Jacobus ·

Ons is biter naief, die fondse in iewers in ‘n luukse motor belê.

Lorette ·

Ons mpy het ook eers geen antwoord van UIF ontvang nie, maar ek het my ouditeur genader en hy het alles wat ek hom van voorsien het, aangestuur en ek het ons gelde gekry vir elkeen van ons werknemers. Moes my salarisse daarvolgens aanpas, maar is bitter dankbaar dat ons mense gehelp kon word. Nou lê Mei voor en ek hoop en bid dat ons weer so gelukkig sal wees.

Daizee ·

Ons ondervinding dieselfde, behalwe dat 2 werknemers niks gekry het nie en ons probeer nou nog antwoorde kry via ons Ouditeur. Ons hou styf duimvas vir Mei anders sal ons mense moet aflê. :-(

Jerry ·

Ja moet net nie dink dat al die miljoene rand se uitbetalings in die werknemers se sakke gaan kom

Jan GL ·

Miskien moet ons net geduldig wees. Het my werk einde September 2019 verloor en op 29 Oktober 2019 aansoek gedoen vir my UIF betaling. Wel dit is die 9de Mei 2020 en ek wag nog steeds.

Pompies55 ·

Lyk so al vir my of werkgewers die uif geld pocket en vir werkers lieg.Veral wit werkgewers is bekend as swak betalers.Ek maak die stelling bloot omdat sekere werkers geld kry en ander nie.Doen werkers navraag dan word werkgewers kwaad!Bewys dat daar n slang in die gras is

Kobus ·

Ek het vir my 10 personellede aansoek laat doen deur boekhouer. Dieselfde inligting is vir almal deurgegee en almal is al jare vir UIF geregistreer en tot datum betaal. Slegs 3 het uitbetaling gekry. Boekhouer het ge-appeleer en ons het later self weer appel aangeteken met geen sukses. Dit wat ons ontvang het is dadelik aan die bepaalde personeel oorbetaal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.