WWF verwelkom ook hernubare energie

Die Wêreldnatuurfonds (WWF) het Donderdag die aankondiging verwelkom dat Jeff Radebe, minister van energie, ʼn kontrak van R56 miljard met onafhanklike kragvoorsieners aangegaan het.

Radebe het Woensdag namens Eskom die omstrede hernubare-energie-ooreenkomste met 27 onafhanklike verskaffers onderteken. Hy het gesê die 27 projekte, hoofsaaklik in die plattelandse dele van Suid-Afrika geleë, verteenwoordig ʼn belegging van R56 miljard en ongeveer 2 300 MW van kragopwekking wat oor die volgende vyf jaar op die netwerk bygevoeg sal word.

Andrea Weiss, woordvoerder vir WWF, het gesê die twee jaar vertraging op die kontrak, wat tot dusver die grootste kontrak van sy aard is, het ʼn negatiewe impak gehad op diegene wat direk daardeur geraak word en op die bedryf in die geheel. “Ons vertrou dat Radebe se uitlating, dat die ‘laer pryse’ uit die projekte nodige verligting sal bring vir behoeftige families, die persepsie sal weerlê dat hernubare energie duurder is as energie deur fossielbrandstowwe,” het Weiss bygevoeg.

“Radebe het daarop gewys dat Suid-Afrika die meerderheidsaandeel in die projek sal behou en die balans sal beheer word deur die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) en ander instansies. Dit sal waarskynlik ook ʼn einde bring aan die idee dat die proses deur eksterne belanghebbendes gekaap is.”

Weiss het gesê die WWF loof Radebe ook dat hy klem gelê het op die noue verband tussen water en energie.

Maroela Media het vroeër berig daar is gemengde reaksie op die regering se groenkragplanne.

Sola Future Energy het Woensdag die ondertekening van 27 kontrakte met onafhanklike kragprodusente verwelkom as ʼn teken van die regering se toewyding om ekonomiese groei en vooruitgang in Suid-Afrika te ondersteun. Dr. Chris Haw, voorsitter van Sola Future Energy, het gesê hernubare energie is goedkoper en meer volhoubaar.

Die National Union of Mineworkers (NUM) het Woensdag gesê die regering se ondertekening van kontrakte met onafhanklike kragprodusente is ʼn belediging teenoor die werkersklas en armes. Die NUM het gedreig om sy ondersteuning aan die ANC te onttrek. “Ons is woedend dat die ANC-geleide regering die 27 kontrakte onderteken het. Die groenenergieprojek is gekaap deur kapitaliste vir hul eie noue kapitalistiese belange,” het Paris Mashego, NUM se energiesektor-koördineerder, gesê.

Mashego het gesê die NUM sal nie langer die ANC-regering ondersteun nie omdat die regering “werksgeleenthede vernietig”. “Werkers in hierdie land sal nie aanhou om vir ʼn organisasie te stem en te ondersteun wat werk van die armes wegneem nie. Ons kan nie net voortdurend steun werf en stem vir die sogenaamde ‘nuwe dag’ soos pres. Cyril Ramaphosa voorhou nie,” het Mashego gesê. “Meer as 40 000 werksverliese sal in die mynbou-, energie- en hele waardeketting voorkom wat Witbank en die omliggende gebiede in spookdorpe sal verander.”

Mashego het gesê die NUM eis dat Ramaphosa die besluit oor die kontrakte met onafhanklike kragprodusente onmiddellik stopsit en omdraai. “Ons is moeg daarvoor om ʼn organisasie te steun wat wys hulle gaan links, maar dan draai hulle regs.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

CHRISTA ·

Ek kan hierdie ANC regering nie verstaan nie. Hulle het onlangs gesê ons land het nou TE VEEL krag, maar nou wil hulle weer miljarde spandeer om krag aan te koop!! Hoe wil hulle dit doen? Eskom is “broke”!! Dit lyk my hulle weet nie of dit Dinsdag of Dingaansdag is nie!!!

snoefie ·

paeis mashego, ek glo nie enige Suid Afrikaanse blankes trek voordeel uit hierdie 27 kontrakte nie. hulle tel verseker ook nie onder die arm families nie. as jy num se steun aan die anc gaan onttrek en aan eff toesê, kan jy maar by die anc bly. die anc en eff is uiteindelik maar one and the same.

Jan ·

Die regering kan duidelik nie somme maak nie. Kerntrusie reaktore van 65 MW kos ongeveer R200 Miljoen. Dit beteken 280 reaktors kan vir 56 Miljard gebou word wat elk 200 000 huise van krag kan voorsien. Met ander woorde 18200 MW kan gelewer word teenoor die 2300 MW waarvoor hulle nou 56 miljard gaan betaal. Net mooi 8 keer duurder.

Groenenergie het ‘n plek, maar dit is in verafgelee gebiede waar die aanle van kraglyne net te duur is. Nie in en om dorpe nie. Daar is klein battery tiepe trusie reaktore die andwoord. Groen alleen gaan ons vervaardigingindustrie uit die mark uit prys. Die somme is duidelik.

Waarom dink julle veg Trump om Korea te stop om HEU te vervaardig. Dit is omdat hulle dan goedkoper krag het as Amerika wat hulle vervaardigingindustrie meer kompeterend as die Amerikaners maak.

Afrika het juis goedkoop krag nodig om industrie te vestig. Daarsonder is ons begrawe nog voor ons begin het. Die nuwe rigting gaan ons vervaardigers sink as dit so duur is.

Martin ·

Eskom is nie so arm as wat hulle wil voorgee nie, te veel opgeblaasde sallarisse, te veel geld in agtersakke,. Surplus krag defnitief,. Enige iets tussen n 1/5 en n 1/4 van hul stoom turbunes is altyd af vir onderhoud, “breakdowns” en beplande “overhauls”

Daan Erasmus ·

Eskom IS so arm as wat hulle voorgee. Dit is die te veel en oorbetaalde werkers wat nie arm is nie. Eskom se reuse werk mag is die rede dat Eskom nie geld het nie.

Ellisras ·

Dr Chris Haw sê dat hernubare krag goedkoper is as Eskom krag. Twak. Kyk na die syfers. Dit kos Eskom MEER as dubbeld om die “goedkoper” krag aan te koop as wat Eskom krag produseer.

Eish ·

Ek het gelees dat CR se maatskappy wat tans deur sy broer bestuur word, asook dié van Patrice Motsepe, swaar daarin belê het en dus die voordeel gaan trek. Hul is familie en ook familie van Jeff Radebe deurdat beide CR en Radebe met susters van Motsepe getroud is. Daarom ruik dit nie vir my te aangenaam nie.

Sonkrag ·

Die regering moet gaan kyk wat in Duitsland gedoen word. Daar wek die burgers van die land krag op met sonpanele, op huise se dakke ens. wat hulle krag aan die nationale kraglyn lewer.

So, subsideer ‘n genoegsame aantal panel per huishouding, wat spasie het om panele op te rig en binne ‘n paar jaar gaan SA nie meer ‘n krag probleem hê nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.