Wydverspreide reën val in Noord-Kaap

Goeie reën in Vaalharts (Foto: Paul Kruger)

Goeie reën het oor dele van die Noord-Kaap uitgesak .

Goeie reën het ook sowat twee weke gelede geïsoleerd en verspreid in van hierdie gebiede in die provinsie voorgekom wat boere in trane van blydskap laat uitbars het. Soos vroeër berig het hierdie reën ’n lang droogtetyd van tussen ses tot agt jaar eindelik gebreek.

Volgens statistieke wat sommige landbouers van die Noord-Kaap ingesamel het, het die noordoostelike en oostelike gebiede van die provinsie tussen Sondag en Woensdag goeie reën gekry. Dit het selfs in die Kalahari en Boesmanland gesous.

Gebiede in die Vaalharts-skema en Warrenton het tussen 130 en 150 mm ontvang. In die Kuruman-gebied het sekere gedeeltes tot 115 mm reën ontvang en in die Kathu-gebied tot 100 mm. ’n Boer naby Kuruman sê daar is sedert die begin van die maand reeds amper 320 mm se reën op hul plaas aangeteken.

Die Olifantshoek- en Postmasburg-gebied het onderskeidelik tot 85 en 96 mm reën gehad.

Goeie reën in Vaalharts (Foto: Paul Kruger)

Ver in die noorde van die provinsie het Askham tot 60 mm en Hotazel tot 75 mm reën ontvang. In die oostelike gedeeltes het die De Aar- en Hopetown-gebied onderskeidelik tot 55 en 40 mm reën gehad.

In Boesmanland het die Kenhardt-distrik in dele tot 65 mm reën ontvang. Riviere in hierdie gebied het goed afgekom. Van die ander dele in die Boesmanland-distrik het weer nie ’n enkele druppel ontvang nie.

“Alhoewel ons dankbaar is vir die boere wat goeie reën ontvang het, is ons steeds bekommerd en besorgd oor die dele in Namakwaland en Boesmanland wat nog bitter min reën ontvang het,” sê Willem Symington, adjunkpresident van Agri Noord-Kaap.

Een van dié gebiede wat nog skaars ’n druppel vir die seisoen ontvang het, is die Calvinia-distrik.

Reën in Britstown (Foto: Liezl Chambers via ReënvalSA Twitter)

Wimpie Steenkamp wat digby Calvinia boer, sê die weer het Dinsdag mooi opgesteek en hulle was baie positief dat dit wel sou reën, maar dit het toe nie gereën nie.

Symington het aan Maroela Media gesê dat die veld weens die jare lange droogte in ʼn baie swak toestand is en bogemiddelde reënval oor ʼn baie lang tydperk is nodig voor die veld behoorlik sal herstel. Die lae veegetalle is ook vir talle boere ʼn groot bekommernis en volgens hom gaan dit lank vat om hierdie kuddes weer op te bou.

Goeie reën in Kenhardt (Foto: Beverley Klaaste via ReënvalSA Twitter)

“Die droogte se einde moet tog iewers begin en ons glo dit is nou.”

Boere is oor die algemeen positief oor die reënvoorspellings vir die res van die seisoen.

Paul Kruger, wat vir ’n boer in die Vaalhartsskema werk, het 14 reënmeters oor 20 persele – die reënmeters is tussen 8 en 4 km uitmekaar. Hy het tussen Maandag en Dinsdag lesings geneem en tussen 98 en 119 mm reën aangeteken.

Die Vaalhartsskema is grootliks ’n besproeiingsgebied en maak staat op water wat van die Vaal- en Bloemhofdam kom.

“Die voordeel vir ons met sulke sagte, deurdringende reën wat die laaste paar dae geval het, is dat dit ideaal is vir die uitloging van die soute en herstel van die watertafel en natuurlik die damvlakke wat vir ons water bring om hier te kan plant en boer,” vertel Kruger.

Kruger sê die reën beteken ongelooflik baie vir die veld vir die aangrensende wild- en beesboere.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.