Wydverspreide vloede in Kaapstad

‘n Straat in Seepunt oorstroom. Foto: @LifeIsSavage / Twitter

ʼn Intense kouefront veroorsaak swaar reënval in Kaapstad wat wydverspreide vloede in die stad veroorsaak.

Brett Herron, burgemeesterskomiteelid vir vervoer en stedelike ontwikkeling, het Sondag gesê verskeie paaie oor die hele stad heen is oorstroom.

“Die oorstromings word veroorsaak deur die groot hoeveelheid water wat weens versperrings verhoed word om in die stormwaterstelsel in te gaan. Verstoppings word veroorsaak deur puin op die padoppervlak wat voor dreine beland. In ander gevalle het ons bevind dat verstoppings veroorsaak word deur boomwortels of voorwerpe wat in die stormwaterpype gestort is,” het Herron gesê.

Die gebiede wat gewoonlik die hardste getref word, is naby vloedlyne gelê. “Dit is gewoonlik die geval vir sommige informele nedersettings.”

Volgens Herron hou die stad vandag se vloedgebiede dop om probleemgebiede te identifiseer waar aandag aan die stormwaterstelsel gegee moet word.

Die probleemgebiede tans is:

  • Onder-Gordonweg in Strand waar eiendom geraak word
  • Koedoelaan in Lotusrivier waar verkeer geraak word
  • Crescentweg, op die hoek van Claremontlaan, waar verkeer geraak word
  • Louwlaan in Grassy Park
  • Fernwood in Nuweland
  • Hoofweg en die R44 in Somerset-Wes waar verkeer geraak word
  • Carel Uysweg en Blombosweg in Atlantis

“Ons spanne is in hoë gereedheid om op enige noodgevalle te reageer soos wat dit aangemeld word,” het hy gesê.

Herron het motoriste gewaarsku om ekstra versigtig te wees en, waar moontlik, ritte te vermy wat nie noodsaaklik is nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

Peet Schabort ·

Verstopping van dreinering is ‘n algemene probleem agv die rondstrooi van rommel, veral plastiekpapier wat dan afvoerpype verstop. Dit word voorafgegaan deur takke wat dan die plastiek en ander rommel vasvang en daar het jy dit: ‘n ongekende oorstroming vind plaas agv die ondeurdagte optrede van inwoners. Daardie ‘stukkie’ papier wat jy by die venster van jou voertuig uitsmyt is ‘n houding van ‘out of sight out of mind’. ‘n Ondeurdringbare muur word voor die afleipyp se ingang gepleister. Tussen paaie is daar ook dikwels voorafvervaardigde mure wat teenaan mekaar geplaas word wat dan ‘n dam van water vorm. Die ondeurdagte beplanning en (her)sonering van gebiede lei ook tot oorbenutting van die infrastruktuur. Is Zambesiweg in Pretoria dalk ‘n goeie voorbeeld hiervan? Natuurlik is ook die laksheid van munisipaliteite te blameer om nie op ‘n jaarlikse roetine afvoerpype skoon te maak.

Antowan ·

Hier waar ek woon in Pretoria word die stormwater dreine elke jaar voor die winter na gegaan. Mense kom en grawe die goed binne uit en sit ‘n rits sakke vol van wat uitgehaal word by elke inlaat wat deur vragmotors weggery word. Dit beïndruk my klokslag. Dit het onder die ANC gebeur en duur voort onder die DA. So, iewers sit ‘n loopbaan burokraat binne die stadsraad wat sy of haar werk geniet. Ten minste wat ons area betref.

RHG ·

Dit sou dalk wys gewees het om stormwaterpype skoon te gemaak het voor die reënseisoen. Ek hoop Johannesburg doen dit voor Gilooly weer oorstroom.

Alida ·

Ek stem 100% saam. Vooruitbeplanning is mos nie prioriteit nie. As die paw paw die fan strike dan skrik hulle wakker.

jaco ·

In 2017 het ‘n ANC-raadslid van iewers in die binneland gesê die Wes-Kaap beleef droogte omdat die Here die kiesers daar straf omdat hulle meestal DA stem. Nou wonder ek maar net: wat het dan die reën veroorsaak? Is dit nou nie meer sonde om DA te stem nie?

Hanna Hoekom ·

Ha-ha! Nee wat, ek dink ons “sonde” is seker vergewe…

1+1 ·

Verstaan mense in regeerposisies dat proaktiwiteit ook te doen het om met integriteit te regeer ?

Herman van Tonder ·

Kom ons gaan eerder op ons knieë en Dank Ons Hemelse Vader vir die reën wat ons so nodig het.

Nikita ·

Stem saam…mense moet eerder dankbaar wees vir die heerlike reen waarmee ons Hemelse Vader ons so seen na die lang droogte. As hulle die dreine ens. gereeld skoongemaak het, sou daar nie nou die verstoppings en probleme gewees het nie. En plaas hulle die slaggate ook herstel voor die somerreens kom. Die water wat so le in die gate maak dit mos nou net erger. Hoekom altyd wag tot op die laaste nippertjie. Tyd is geld!

Koos de Meyer. ·

Nee wat, as die son skyn dan lek die dak mos nie. Wat sal hulle nou proaktief optree, hulle weet nie wat voorkomende aksie is nie.

Wilma ·

Sien nou opi tv nuus daar praat iemand. As gevolg van vloede soek sy ni meer reen nie. Mense heti gedink toe hul so die land oorbevolk het dat erens gaan nie genoeg hulpbronne en behuisibg wees ni

Marinda ·

Hulle moes geleer het uit wat in Durban gebeur het. Maak die gemors skoon, dan sal daar nie probleme wees nie. Hulle het geweet die reën kom een of ander tyd.

Dorothea ·

Die hele land het gebid vir water. Ons was tot bereid om water aan te ry en elke een wat Kaap toe vlieg met ‘n water bottel onder die arm.
Ag nee man kry julle werk agter mekaar.
Waar was die beplanning voor die Groot reën. Dink julle ons het verniet gebid.

D V ·

Waar was die raadgewers met die droogte gewees? Kon hulle nie toe al die raad aan die regte mense soos wyksraadslede gegee het nie?

Natascha ·

Ons is almal dankbaar vir die reen. Ek hoop net almal bid weer en se Dankie vir die reen, Ons is altyd geneig om te vra, maar kan nie dankie se. Kom ons dank die Heer vir Sy antwoord op al ons gebedes op n daaglikse basis. By Hom is niks onmoontlik nie, as ons vra, sal Hy voorsien, mits ons in HOM glo en hom vertrou, want als gebeur in Sy tyd nie ons sin nie.

Dankie ·

Baie dankbaar vir die reen, die oorstrommings sal weer weg gaan, maar die water gaan bietjie langer hou. Dankie Here dat U ons nie vergeet nie.

Alida ·

Die stadsbeplanners moes 2 maande gelede al begin het om spanne uit te stuur om stormwaterslote skoon te maak en skoon te hou. Die skade en ongerief kon met 80% verminder het. Vooruitbeplanning werk nie vir sekere mense nie. Die son skyn mos vandag hoekom nou al worry oor die reën. Ai tog leer ook nie.

volla ·

En jy reken dis nie gedoen nie? Jou stormwateraflope kan hoe skoon wees, as jy vloede kry gaan dit oorstroom. Die munisipaliteit maak gereeld hier by ons skoon maar jy kan maar elke week skoon maak. As dit hard reen word blare van oral afgevoer nie juis veel wat jy daaraan kan doen nie. Ons is trots op die munisipale dienste in Kaapstad, DA is tops.

Nettie ·

Liewe Alida, glo my – die stadsbeplanners en instandhoudingspersoneel HET al 2 maande gelede (en langer en meer onlangs) die nodige opruimingswerk gedoen. Met die klas populasie wat ons in sekere gebiede het, help dit egter nie. Die werkers maak vandag skoon en môre lyk dit maar weer net soos wat dit gister gelyk het. En dit is nie noodwendig menslike afval wat die stormwaterslote verstop nie – dit kan ook blare en takke wees wat tydens die stormsterk-winde wat die reën voorafgegaan het, wat in die afvoerslote beland het. Weinig wat jy dááraan vooraf kan doen. Nietemin, ons juig oor die reën en sneeu wat geval het. Eersdaags is ons velde weer grasgroen en die riviere en damme blink van die water.

belinda ·

eers kla hulle oor die droogte, nou kla hulle oor die vloede, is ook nooit tevrede nie

Theresa ·

Wonderbare reën! Lewegewende water! Skep en geniet!
Stormwaterdreine word hier waar ons woon vir allerhande items wat opgegaar word deur straatlopers gebruik. Propvol dat dit oral uitsteek. Nugter weet wat gaan gebeur met ‘n swaar bui reën. Party plekke het al staalgaas voor vasgesit. Dit is natuurlik weggebreek en word die drein weer vir opgaarplek gebruik. Verwyder of beboet die mense wat met onpadwaardige trollies die pad vol loop op hierdie goed op te gaar na hartelus. Waar is hul lisensies vir dié bedryf? Waar is die metro om motoriste teen hierdie “gevaar” op straat wat verkeer op en af belemmer soos hul wil, te help?? Daar is menige voorbeelde hier in die omgewing om genoeg motivering te hê om hierdie bedryf stop te sit – strome en spruit-areas is besmet met allerhande loslê items. Nie betalende inwoners wat dit so strooi nie!! Hoop ‘n metro-hoof/senior beampte lees hier om ons in te lig wat gedoen word om hierdie onwelkome snert te stop en streng te begin beheer.

Anneline ·

Theresa, gaan op jou kniee en dank die Vader dat dit nie vir jou nodig is om in die strate rond te loop en rommel te versamel vir oorlewing nie. Ek vind jou boodskap totaal onsensitief. Terwyl ek so koud kry in ons baksteenhuis met verwarmers en komberse, gaan my hart uit na hulle wat so blootgestel is aan die elemente. Net deur genade dat ek nie in daardie posisie is nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.