Wyke voor munisipale verkiesing herafgebaken

(Foto: Maroela Media)

Geen munisipale grense gaan voor die munisipale verkiesing volgende jaar verander word nie.

Só het die munisipale afbakeningsraad Donderdag gesê. Daar sal wel volgende jaar 76 meer wyke as in die 2016- munisipale verkiesing wees.

Die proses om volgende jaar se munisipale verkiesing aan die gang te kry, het Donderdag begin toe die munisipale afbakeningskommissie aangekondig het hoe die herafbakening van wyke gaan werk.

Stadsraadswyke moet elke vyf jaar herafgebaken word. Herafbakening is belangrik omdat die grenslyne van die wyk dikwels kan bepaal watter politieke party die wyk wen.

ʼn Belangwekkende aankondiging is dat die buitenste grense van stadsrade nie voor die verkiesing verander gaan word nie, met ander woorde geen stadsrade gaan by mekaar ingelyf word of dele van ander stadsrade bykry nie.

Herafbakening is egter noodsaaklik weens bevolkingsverskuiwing, want elke wyk in ‘n munisipaliteit moet min of meer dieselfde hoeveelheid kiesers hê as elke ander wyk in dieselfde munisipaliteit.

Die proses begin met openbare insette van die publiek oor die volgende vier maande. In Februarie sal herafbakenings vir die Wes-Kaap, Mpumalanga, die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal plaasvind, in Maart kom Gauteng aan die beurt en in April die Noord-Kaap, Vrystaat, Noordwes en Limpopo.

Die aantal wyke in Suid-Afrika gaan teen volgende jaar op 4 469 te staan kom, wat 76 meer is as in 2016 se verkiesing. Dit beteken alle kiesers moet hulle vergewis of hul wyke gaan verander.

Inligting oor die herafbakening van wyke en ook waar openbare deelnameprosesse vir die publiek in elke geaffekteerde munisipaliteit gaan plaasvind, is beskikbaar op die webblad www.demarcation.org.za.

Ná die openbare insette sal die konsep-wykveranderings ʼn laaste keer in Mei in die Staatskoerant gepubliseer word vir kommentaar, en die afbakeningsraad stel hom ten doel om die finale wyksafbakenings in Julie aan die Onafhanklike Verkiesingskommissie te oorhandig.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

8 Kommentare

jongste oudste gewildste
johan

Goed so die VF+ gaan sy kiesersgetal meer as verdubbel.

Akademi Buktu

Of is dit dalk ANC djob kriehyshun in aksie? ‘n Professor van die KZN Universiteit het by geleentheid toe daar probleme was, in die koerant verklaar mense moet onthou heelwat van die munisipale raadslede was werkloos voordat hulle as raaadslede aangestel is.

lunsriem

Kyk nou mooi. Die wyke wat aan herafbakening onderwerp gaan word is wyke wat tans deur oppossiepartye gehou word. Dit is n taktiek van die anc regering om die opposissie te verswak deur by sulke wyke, gebiede in te sluit wat regeringsgesind is . Ek het geen vertroue in die ovk om onpartydig te wees nie.

aj

Die ANC gaan meer as 80% van die stemme kry in die 2021 verkiesing.

Daarvoor sal die (ANC) Afbakeningsraad sorg … en die (ANC) OVK … wat steeds ‘n miljoen (adreslose) ‘spookkiesers’ wegsteek op die kiesersrol.

Willem

Skelmstreke! Dis hoe die ANC sy gebiede verower. Op ‘n eerlike manier kan hulle dit nie regkry nie.