Wynandt se herstelpad ‘nog nie verby’

Lelani en Wynandt Vermaak voor die brand. Foto: Facebook

Wynandt Vermaak, die 14-jarige seun van Boston in die Wes-Kaap wat in Julie erge brandwonde in ʼn huisbrand opgedoen het, is hard aan die werk vir sy herstel in die hoop om volgende jaar terug te keer skool toe.

Wynandt het op 6 Julie vanjaar erge brandwonde oor 60% van sy lyf opgedoen nadat ʼn brand in sy kamer in die gesin se huis ontstaan het. Wynandt se ma, Lelani, het ook erge brandwonde aan haar hande en voete opgedoen toe sy in die brandende kamer ingehardloop het om haar seun te red. Wynandt se pa, Morne, en suster, McKenzie, is gelukkig nie in die brand beseer nie, maar die gesin se huis is heeltemal verwoes.

Ná 13 veloorplantings en ʼn maand in die hospitaal, is Wynandt uiteindelik toegelaat om huis toe te gaan en kon hy sy herstelpad daar voortsit. Hy kon egter nog nie terugkeer skool toe nie, aangesien hy nie toegelaat word om in die son te kom nie. Sy sensitiewe vel moet ook daagliks met room ingesmeer en gemasseer word en hy word slegs toegelaat om 100%-katoenklere te dra.

Intussen het Solidariteit Helpende Hand se Wes-Kaapstreek ingespring om die Vermaak-gesin by te staan. Wilinda Ford, streeksbestuurder van Helpende Hand, het gesê hoewel talle mense hul harte oopgemaak het om die gesin by te staan ná die traumatiese gebeure, benodig die gesin steeds ondersteuning.

Wynandt Vermaak is steeds besig om te herstel. Foto: Verskaf

“Soveel mense in die gemeenskap het regtig hul harte oopgemaak om hierdie gesin by te staan met meubels, klere en ander skenkings en ons is so dankbaar daarvoor. Mense dink egter hulle is nou oukei, maar hulle is beslis nog nie. Ons is nog nie aan die einde van die pad nie,” het Ford aan Maroela Media gesê.

Sy het gesê Helpende Hand wil graag R100 000 vir die gesin insamel om hulle met mediese onkoste te help. “Wynandt moet steeds terapie ontvang wat nie deur die mediese fonds gedek word nie. Hy moet elke dag met room ingesmeer word en dit is omtrent een pot room elke drie dae. So tel al hierdie klein goedjies op en op die ou end plaas dit ʼn groot finansiële las op die gesin,” het Ford gesê.

Sy het gesê Helpende Hand-takke het reeds R13 000 tot Wynandt se mediese onkoste bygedra en ʼn individu het nog ʼn skenking van R8 000 gemaak. “Ons is al goed op pad, maar wil graag ons R100 000-teiken bereik en weet ons kan hierdie gesin regtig voldoende ondersteun sodat Wynandt ten volle herstel en voorbereid is as hy volgende jaar teruggaan skool toe.”

Wynandt Vermaak. Foto: Facebook

Sy het gesê Helpende Hand het ook ʼn borg vir ekstra wiskundelesse vir Wynandt gekry om hom in staat te stel om volgende jaar voorbereid te wees om weer saam met sy klasmaats in te val by die skool. ʼn Staptog word ook op 3 November in Durbanville gehou om geld vir Wynandt in te samel.

“Wynandt is ʼn ongelooflike kind wat emosioneel so sterk is. Hy het onlangs betrokke geraak by ons Jeugtak en is met ope arms verwelkom. Hy is werklik ʼn wonderlike en moedige kind,” het Ford gesê.

“Dit is net ʼn gewone gesin dié wat skielik ʼn baie slegte ding oorgekom het. Dit is nou ʼn moeilike tyd om deur te gaan, maar hulle gaan eendag voor duisende mense staan en ʼn ongelooflike getuienis lewer.”

Vir meer inligting oor die geldinsameling, die pretstap of om die Vermaak-gesin by te staan, nader Wilinda Ford by [email protected] of 073 981 3372.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Leahim ·

Ons moet maar ons mense help en bystaan niemand anders gaan dit doen nie.

Andries Visagie ·

Hierdie is ‘n tawwe kind! Ek noem hom Ysterkiddo. Hy het “guts!” Almal wat kan help, doen tog moeite – selfs klein bydraes.

Willem ·

Wat ‘n dapper vrou!! Ek hoop sy en haar kind herstel volkome.

Kat ·

Hou moed jong man.Jy het dit in jou.Jy sal herstel al neem dit n tydjie.Dankie vir jou devoted mother.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.