Wynbedryf ‘keelvol’ vir regering se stilswye oor drankverbod

(Foto: Vinpro/Facebook)

Die wynbedryf sê daar is geen rasionele rede waarom die verbod op die verkoop van alkohol steeds volgehou word nie.

“Genoeg is genoeg. Ons het ons beste gedoen om lewens te red, maar nou is die tyd om die inkomste te red van diegene wat in die Suid-Afrikaanse wynbedryf werk en daarop staatmaak,” het Rico Basson, besturende direkteur van die bedryfsliggaam Vinpro, Woensdag gesê.

“Die Suid-Afrikaanse wynbedryf, ook wyntoerisme, beleef ʼn ramp. Dringende ingryping is nodig of anders gaan een van die oudste landboubedrywe in die land nie oorleef nie.”

Volgens Vinpro het talle wynondernemings weens die huidige en vorige handelsbeperkinge reeds hul deure gesluit. Basson sê die res van die bedryf kan bloot nie ʼn voortgesette verbod hanteer nie en duisende werkers gaan sonder ʼn inkomste, enige geleenthede of selfs hoop gelaat word.

Die wynbedryf hou vol hy is gereed om plaaslike handel en verspreiding veilig te hervat, terwyl daar ook gekyk gaan word na die verantwoordelike produksie, bemarking, handel en gebruik van drank. Vinpro ondersteun ook die Wes-Kaapse provinsiale regering se oproep vir die veilige heropening van alle sakeonderneming en die plaaslike verkoop van alkohol.

Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, het die afgelope naweek gesê data wys die Covid-19-piek in die Wes-Kaap is verby, maar dat die ekonomiese ramp wat weens die afsonderingsregulasies geskep is, al hoe meer momentum kry.

Winde het ook gesê gegewe die provinsie se vermoë om op Covid-19 te reageer, is daar geen rasionele rede om ondernemings gesluit te hou nie.

Vinpro was sedert die aanvang van die afsonderingstydperk in Maart 2020 ook deurlopend in gesprek met die regering en daar is onder meer onderhandel dat die wynbedryf toegelaat word om die 2020-oes af te handel en uitvoer en plaaslike handel daarna hervat mag word.

Basson sê hulle het die erns van die situasie in die land destyds besef en doen dit nou ook.  Hulle het en steun steeds ook die regering se pogings om lewens te red deur die wynbedryf te bemagtig om aan alle bepalings en afsonderingsmaatreëls te voldoen.

Hy sê egter die red van lewens moet gebalanseer word met die red van mense se inkomste. Wyn word as ʼn landbouproduk beskou en is dus seisoenaal. Wingerde wag dus nie vir handelsbeperkings om opgehef te word voor druiwe geproduseer word nie.

“Ons produsente berei reeds voor vir die 2021-wynoes, maar met digby 300 miljoen liter surpluswyn steeds in keldertenks, gaan ons dalk nie plek hê vir die nuwe oes nie. Die situasie is benard,” het Basson bygevoeg.

(Foto: Vinpro/Facebook)

Die organisasie Saai het hom reeds tot die hooggeregshof gewend om te vra dat wynverkope hervat word.

Vinpro meen egter die dringendste en doeltreffendste besprekings oor beleid vind op ʼn hoë vlak direk met die regering, sakesektor, arbeid en die burgerlike samelewing deur die Nedlac-forum plaas.

Vinpro sê hy werk saam met die res van die alkoholbedryf aan oplossings en ingrypings om die maatskaplike uitdagings wat met alkoholmisbruik verband hou – en die uitwerking daarvan op die gesondheidsorgstelsel – te takel.

“As die voogde van die Suid-Afrikaanse wynbedryf streef ons daarna om die bedryf vir die volgende geslagte te verstewig. Ons verkies dus om saam met die regering te werk aan oplossings wat die bedryf dadelik sal stabiliseer, dit op mediumtermyn sal herbou en op lang termyn sal laat groei,” het Basson gesê.

Die alkoholbedryf het vroeër gevra vir die data wat die regering gebruik het om die verbod op alkoholverkope te staaf en het ingestem tot ʼn lys voorwaardes waaraan voldoen moet word voor die verbod opgehef word.

“ʼn Maatskaplike verdrag is ʼn ooreenkoms tussen verskillende partye; nie ʼn eensydige ooreenkoms nie. Dit behels gee en neem. In hierdie stadium is ons gefrustreerd deur die regering se gebrek aan enige verbintenis oor die volgende stappe.”

Hoewel talle gerugte tans die ronde doen, is daar nog geen amptelike aanduiding dat die verbod op alkoholverkope binnekort opgehef gaan word nie.

Vinpro sê die aanvanklike nege weke lange verbod op plaaslike verkope en vyf weke lange verbod op uitvoere gaan lei tot sluiting van 80 wynboerderye en 350 wyndruifprodusente. Tot 21 000 werksgeleenthede kan oor die hele waardeketting oor die volgende 18 maande verlore gaan en dié syfer kan weens die tweede verbod selfs verder styg.

Anton Smuts, voorsitter van Vinpro, sê die bedryf word oorheers deur kleiner sakeondernemings en tot 40% van boere produseer minder as 100 ton per jaar. Nog 36% produseer minder as 500 ton per jaar. Die meerderheid van dié boere het nie genoeg oorbruggingsfinansiering om hulle deur te sien nie.

Smuts sê vir elke een werksgeleentheid op ʼn plaas, word nog 10 werksgeleenthede in die res van die waardeketting geskep.

“Ons is keelvol met die situasie. Die verbod het sy doel gedien en moet dadelik opgehef word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
Debbie

Kom ons bid vir ons land. Kom ons bid dat hierdie kwaadwillige optredes sal stop.

Magda

Ou KOPDOEk maak te veel geld – daarom die stilswye – soek daar vir jou antwoorde!!!!!

marius

Breek die wittes . Dis waaroor dit gaan en dit is presies wat hulle regkry . Hoe meer daar gegil word , hoe groter hul vreugde . Dis die waarheid .

Androclus

Ja nee kopdoek syt genoeg drank in haar kroeg by die huis, sy niks bekommerd oor die mense buite nie.
Selfsugtigheid vanself.

Pieter

Wat van ons neem standpunt in en doen wat ons weet is reg die kommuniste speel met ons en ons laat dit toe. Ons maak soos die taxis praat help nie jy doen net.