Wynboere loop deur weens besetters op staatsgrond

Die ingang na die Wes-Kaapse Kromme Rhee Opleidingsinstelling en gemeenskap (Foto: Verskaf)

Deur Eunice Stoltz

Die Wynland-distrik tussen die R304 en R44 noord van Stellenbosch in die Wes-Kaap gaan gebuk onder onwettige bedrywighede wat hoofsaaklik deur besetters op onbeheerde staatsgrond uitgevoer word. Dít sluit die handel van onwettige dwelmmiddels, die besit van onwettige vuurwapens en diefstal in. Talle spogwynplase in die gebied word boonop geteiken.

Die departement van vervoer en openbare werke (DVOW) besit die grond waarop die Kromme Rhee-gemeenskap in die Koelenhof-gebied woon. Van dié inwoners huur die grond by die departement, terwyl informele strukture onwettig opgerig en sonder toestemming bewoon word. Die bewoningsgebied grens teenaan die Wes-Kaapse Kromme Rhee Opleidingsinstelling. Terwyl die heining wat staatsgrond van omliggende plase skei plek-plek heeltemal afgebreek is, geniet die Kromme Rhee Opleidingsinstelling hoë omheinings asook 24-uur-sekuriteit.

Veiligheidshekke voor die ingang na die Kromme Rhee Opleidingsinstelling. Die pad na regs lei na die Kromme Rhee gemeenskap (Foto: Verskaf)

Inwoners in Koelenhof hou vol dat dwelmsmokkelaars en ander misdadigers toegang tot omliggende plase verkry deur middel van dié ongereguleerde staatsgrond, aangesien misdadigers onwettig in strukture op dié grond woon. Inwoners sê hulle het al menige kere die plaaslike regering skriftelik versoek om teen die misdrywe op te tree. Die oortreders wat verantwoordelik is vir die verskaffing en verspreiding van dwelms en alkohol is goed bekend onder die inwoners van onder meer Kromme Rhee, Vaaldraai, Muldersvlei en Cloetesville. Hoewel gevalle al telkemale by die SAPD aangemeld is, beweeg hulle steeds vrylik rond.

ʼn Ontevrede wynboer wat ʼn eindelose stryd met die booswigte voer, sê skade weens die onwettige bedrywighede wissel jaarliks en kan tot R150 000 per jaar beloop. Goedere soos yster en elektriese motors en kabels word gesteel en aan skrootwerwe verkoop; pomphuise se mure en dakke word stukkend geslaan; en wingerde word afgesaag vir braaihout. Die boer verduidelik ook dat die draadheining wat hom en die Kromme Rhee-gemeenskappe skei, afgebreek is. Rommelstrooiing wat van babadoeke tot stukkende drankbottels insluit, word deur die Kromme Rhee-gemeenskap op sy plaas gestrooi, wat hy self moet verwyder.

Die Kromme Rhee woongebied (Foto: Verskaf)

Hiermee saam het die maklike toegang tot dwelms en alkohol in die gebied ʼn sigbare uitwerking op die Koelenhof-gemeenskap. Volgens ʼn plaaswerker is drie van haar vier kinders aan dwelms verslaaf. Haar man gebruik ook dwelms.

ʼn Inwoner van Kromme Rhee, wat ʼn kleinskaalse onderneming in die gemeenskap bedryf, sê smokkelaars veroorsaak moeilikheid in die gemeenskappe omdat ongewenste mense na die gebied gelok word. Daar is al by hulle ingebreek en die kinders se vryheid word ingeperk.

“Kinders word vanaf ʼn jong ouderdom gebruik om met dwelmmiddels te smokkel. Ouers wat aan dwelms en alkohol verslaaf is, kan ook nie hul kinders se onderhoudskoste, soos onder meer basiese skoolfooie, betaal nie,” meen ʼn boer.

Nog ʼn inwoner van Kromme Rhee sê motorresies word laataande deur mense van buite die gemeenskap in hul straat gehou. Hulle het glo al aansoek by die plaaslike regering gedoen om spoedwalle in die straat te bou, maar niks het daarvan gekom nie. Hy sê hulle is moedeloos om onwettige voorvalle aan te meld. “Hier is skollies wat net inkom en maak of dit hul plek is. Wat kan ons doen?”

Jandré Bakker, hoof van kommunikasie van die DVOW, sê hulle is bewus van ʼn bewering wat handel oor onwettige bedrywighede in die Koelenhof-gebied wat die Kromme Rhee Opleidingsinstelling insluit. Hy voer aan dat die bewerings onder die aandag van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), asook die plaaslike wetstoepassingsagentskap gebring is. Gereelde blitspatrollies, veral oor naweke, is ook deur die DVOW versoek.

Opruimingswerk in Februarie 2019 op ‘n privaatplaas na rommelstrooiing van Kromme Rhee-inwoners. (Foto: Verskaf)

“Die onwettige besetting van staatsgrond en alles wat daarmee saamgaan, strek verder as net Koelenhof,” verduidelik ʼn boer nader aan Klapmuts op die R44, sowat 5 km van Kromme Rhee. Volgens die boer het hy net in November ʼn vlaag van inbrake in sy pomphuise gehad waar koperkabels gesteel is. Die skade beloop meer as R40 000. Hy sê die koperkabels word verkoop om tik (metamfetamien) te bekom.

Willem Nasau (44), ʼn lid van die Vaaldraai Buurtwag, sê hulle sit met dieselfde misdaadprobleem weens die onwettige besetting van behuising op staatsgrond. Nasau verduidelik dat Vaaldraai binne die bekende landbouskool, Elsenburg, enkele kilometers van Kromme Rhee, geleë is. Hoewel die buurtwag ʼn goeie verhouding met die Stellenbosch-polisie het, meen Nasau dat hulle sukkel met ʼn gebrek aan polisieteenwoordigheid. “Die polisie neem ook taamlik lank om uit te kom.”

Rolspelers binne die Vaaldraai-gemeenskap het egter onlangs reaksie vanaf die DVOW ontvang. Die DVOW het aan Maroela Media bevestig dat hulle “in samewerking met regsdienste en die kantoor van die Staatsprokureur besig is met ʼn proses om regstappe teen alle onregmatige besetters in te stel”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

BEES ·

Dit is deel van die regering se plan vir onteiening sonder vergoeding.Kaders van buite word ontplooi om soos in die geval plase onekonomies en onveilig te maak sodat hulle later die grond vir n appel en ui kan buit.

Neem beheer ·

Boere MOET KAAP-AGRI dwing om eenheid te begin wat onwettige oortreders met alle besittings(dwels) ingesluit, permanent uit provinsie te verwyder. Plant dadelik doringbos op die probleem persele. Maar nouja dit gaan seker nognie erg genoeg nie, daar moet geplak word op agri se eie perseel of grond voor ogies dalk oopgaan.

Boer ·

Cape farmers declare Cyril Ramaphosa their ‘anointed’ leader
BY THABO MOKONE – 09 April 2019 – 19:26
Large-scale farmers operating huge vineyards in the Cape winelands and other commercial farms have expressed confidence in the leadership of ANC president Cyril Ramaphosa, with some even saying he was chosen by God to lead.
The farmers expressed these sentiments during a public meeting with Ramaphosa lasting almost three hours on Tuesday at the Beyerskloof Wine Estate in Stellenbosch.
ANC figures in the Western Cape said the meeting took place at the request of the big producers behind leading brands such as Kanonkop and Simonsig wines and Morgan beef, among others.

C op C ·

Hierdie moet geensins as geïsoleerde gevalle gesien word nie. Mense wat nie self op plase in die Boland bly nie, het nie idee watter oorlewingstryd hierdie boere elke dag voer onder uiterste onveilige toestande nie. Dis vandalisme 24/7 365 dae per jaar-wagte word ten duurste gehuur om oeste op te pas. Die nuwe tendens is dat skollies gewapen in groot getalle die wagte aanval en dan afbreek en boorde en wingerde stroop en plunder. Geen omheining hou hulle buite. Polisie weet 100% wat aangaan. Hulle reageer lankal nie meer en as hulle reageer staan hulle en kyk. Ons boere is oorgelewer aan absolute misdadige element en hulle lewens daagliks in gevaar. Wat is die oplossing?

SoJa ·

Hi Boer

Ek wil julle net inlig dat baie van ons Kaapse boere in die Stellenbosch/ ( naby gelee aan Beyerskloof ) omgewing het nie eens n uitnodiging ontvang vir die vergadering by Beyerskloof met president Cyril nie.

Ek kan vir jou se dat ons en baie ander nie dieselfde gevoel gehad het soos die wat die uitnodiging ontvang het nie. Miskien is dit die rede hoekom ons nie genooi is nie.

Ek aanvaar ook nie dat president Cyril gekies is deur God nie.

Daar word vir ons gepraat en ek wou jou net inlig dat dit nie werklik die gevoel van al die boere is nie.

Groete.

Boer ·

Ek is bly om dit tehoor . Dat daar nog wel sulke boere in die kaap is . Wens ek kon iets doen om julle te ondersteun dat die tipe intimidasie julle nie onderkry nie.

daniel ·

Dit het n algemene neiging geword dat polisie nie genee is om op te tree teen oortreders nie. Waarvoor belasting betaal moet word is onduidelik.

Wondermaarnet ·

Gee vir hulle wyn, parafienlampe, kerse en messe. Die gevolge moet hulle self dra.

Jollie ·

Die DVOW dreig al die afgelope ses jaar om die onwettige huisbewoners uit te sit. Al wat hulle doen is om die wat wel wettig hier bly en huur betaal te viktimiseer. Die onwettige huurders ‘erf’ die huise by werknemers wat lankal ‘gefire’ is, en dan onderverhuur hulle weer. Die lawaai oor n naweek is allerverskriklik, daar word musiek gespeel en karaoke gehou tot soggens vyfuur. Papiere en bottels le die wereld vol.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.