Wynlanders steeds raadop met onwettige besetters

Vullisstorting op ‘n wynplaas weens onwettige agterplaasbewoners op Kromme Rhee. Foto: Verskaf

Dwelm- en alkoholsmokkelaars op ongereguleerde staatsgrond buite Stellenbosch in die Wes-Kaap het steeds vrye teuels terwyl provinsiale departemente óf aanspreeklikheid ontken óf onder die dekmantel van Covid-19 versuim om op te tree.

Maroela Media het voorheen berig dat die Wynland-distrik tussen die R304 en R44 noord van Stellenbosch gebuk gaan onder onwettige bedrywighede wat hoofsaaklik deur besetters op onbeheerde staatsgrond in die Koelenhof-omgewing uitgevoer word. Dít sluit die handel van onwettige dwelmmiddels en alkohol in. Die grond grens aan verskeie spog-wynlandgoedere.

Raadop inwoners van onder meer Vaaldraai en Kromme Rhee in die Koelenhof-gebied het verskeie kere die Wes-Kaapse departement van vervoer en openbare werke (DVOW), aan wie die grond behoort, die departement van gemeenskapsveiligheid en sekuriteit, die departement van landbou én die polisie vir hulp genader.

Die DVOW het in 2019 gesê hy het veiligheid in Kromme Rhee verskerp. Aan die Vaaldraai- gemeenskap, wat aan die bekende landbouskool Elsenburg grens, het DVOW in 2019 gesê hulle is in die proses om regstappe teen alle onregmatige besetters in te stel.

Maar verskerpte sekuriteit en regstappe teen onwettige besetters blyk in dié stadium nie vrugte af te werp nie.

“Alles is gebreek by Kromme Rhee. Daar is geen polisiëring nie; hul eie eiendom soos pompe en krane langs die sekuriteitshokkies word gesteel,” kla ʼn gefrustreerde wynboer wat Maroela Media reeds in 2019 oor die situasie in die Koelenhof-distrik gekontak het.

Stukkende en gebuigde heinings is duidelik vanaf die pad sigbaar. Foto: Eunice Stoltz

Die wynboer se grond grens direk aan die Wes-Kaapse Kromme Rhee-opleidingsinstelling wat op die grond van die DVOW opgerig is. Volgens hom is die duursame heinings wat om die DVOW se terrein opgerig is meer verwaarloos as ooit. Stukkende en gebuigde heinings is duidelik vanaf die pad sigbaar.

Jandré Bakker, hoof van kommunikasie van die DVOW, het by navraag gesê hulle is bewus van die voortdurende klagtes oor onwettige aktiwiteite wat spesifiek op Vaaldraai en op Kromme Rhee plaasvind. Hy sê die polisie het in 2020 veral klagtes oor onwettige alkoholverkope gekry.

Intussen sê Bakker verhoed die rampbestuurswet die proses van die DVOW om onwettige besetters in spesifiek die Vaaldraai-gemeenskap te verwyder.

Ingevolge artikel 70(1) van die Rampbestuurswet, 2002, mag ʼn persoon nie uit sy of haar grond of huis gesit word of sy of haar woonplek vir die duur van die nasionale ramptoestand laat sloop nie, tensy ʼn bevoegde hof ʼn bevel verleen wat die uitsetting of sloping magtig.

In verskeie dele van die Wes-Kaap het dié wet nie die provinsiale regering gekeer om wel regstappe teen onwettige besetters te doen nie. Soveel so dat die provinsiale premier Alan Winde in September aangevoer het Suid-Afrika is by ʼn keerpunt ten opsigte van onwettige grondbesettings wat hy meen polities gedrewe is.

Jan Hendricks, ʼn raadslid van wyk 1, wat onder meer Vaaldraai en Kromme Rhee insluit, en wat al 36 jaar lank op die wynplaas Kanonkop werksaam is, sê dit is ʼn stryd om die DVOW op so ʼn punt te kry om saam te werk.

Stukkende en gebuigde heinings is duidelik vanaf die pad sigbaar. foto: Eunice Stoltz

“Ek sukkel om hulle (DVOW) in die hande te kry. Daar is baie geboue wat bouvallig is en ek kry hulle nie om te kom en bestek te neem of om die grond aan die Stellenbosch-munisipaliteit oor te dra nie. Hulle kom nie saam met ons om die probleme te probeer oplos nie.”

Bakker ontken dat die DVOW versoeke vanuit die Vaaldraai- en Kromme Rhee-gemeenskappe asook buurtwagte in die omgewing ontvang het om veiligheidskwessies wat deur onwettige besetters veroorsaak word, te ondersoek.

Volgens Hendricks is een van die brandpunte in die gemeenskappe die Koelenhof-treinstasie, wat aan Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) behoort.

“As gevolg van hierdie smokkelhuise is daar mense wat van buite af kom. Dit is ʼn groot probleem vir ons gemeenskap” sê Hendricks.

Die spog-landgoed Nooitgedacht wat teenaan die Koelenhof-treinstasie grens, se sekuriteitsbestuur het verskeie kere na Prasa uitgereik in ʼn poging om aandag te gee aan ongerymdhede wat op die stasie se terrein plaasvind. Dit sluit in die bedryf van ʼn onwettige smokkelkroeg, asook die oprig van onwettige strukture.

Riana Scott sê namens Prasa ʼn reeks samesprekings is in 2018 en 2019 gehou in verband met vandalisme by die stasie, agterplaasbewoners op residensiële eiendom en die oprig van onwettige informele strukture.

Die ingang na Vaaldraai. Foto: Eunice Stoltz

Scott sê ʼn algemene forum, wat bestaan uit verskeie belanghebbendes, is selfs tot stand gebring.

Hoewel rolspelers van Prasa versuim het om ʼn vergadering wat weke vooruit geskeduleer was op 30 Oktober 2019 by te woon, meen Scott dat samesprekings wel daartoe gelei het dat ʼn tydelike sekerheidseenheid by Koelenhof-treinstasie opgerig is.

“Die doel is om sigbaar te wees en die onmiddellike uitdagings te hanteer. Hierdie gesamentlike inisiatief is gefasiliteer deur Prasa Asset Protection Services en plaaslike veiligheidsagentskappe.”

Maar dié tydelike sekerheidseenheid het reeds in 2019 min gerusstelling gebring.

Luidens e-pos-korrespondensie tussen rolspelers van die algemene forum en Prasa, het die sekerheidseenheid wat ongerymdhede aan ʼn sentrale kontrolekamer rapporteer, nie gereageer op klagtes dat die onwettige kroeg op die stasie operasioneel is nie. Die kontrolekamer het volgehou “dit is nie hulle plig om dit te bestuur nie”.

Scott het erken dat die impak van Covid-19  en die hersiene bedryfsprioriteite by Prasa die proses ongelukkig vertraag het. “Maar ons bly daartoe verbind om binne die konteks van Covid-19-regulasies, wat ook ons hulpbronne beperk, samesprekings te hervat.”

Sy het ook bevestig dat ʼn verdagte op 7 Januarie vanjaar by die Koelenhof-treinstasie in hegtenis geneem is op aanklagte van dwelmhandel.

Moontlike oplossings

Die ingang na Vaaldraai. Foto: Eunice Stoltz

Met Suid-Afrika steeds in die greep van ʼn ramptoestand hou die DVOW vol dat hulle nie onwettige besetters kan verwyder nie.

Intussen plaas die departement van landbou die aanspreeklikheid op die DVOW.

Daniel Johnson, woordvoerder vir die LUR van landbou, sê hulle ontvang klagtes van beweerde onwettige grondbesetting en die onwettige handel in dwelms en alkohol op staatsgrond. Maar verwys dit na die eienaar van die grond, die DVOW.

Die departement van gemeenskapsveiligheid en sekuriteit in die Wes-Kaap meen weer hul rol is om oorsig oor polisiëring in die provinsie te hou en polisieverhoudinge met die gemeenskap te bewerkstelling.

Cayla Murray, woordvoerder vir die LUR vir gemeenskapsveiligheid, sê hulle departement is bewus van die heersende kwessies in die Koelenhof-distrik, maar dat die polisie verantwoordelik is vir misdaadvoorkoming. Murray sê inwoners wat voel die polisie is ondoeltreffend moet die Wes-Kaapse Polisie-ombud nader.

Hendricks het ʼn oplossing vir die gemeenskap van Vaaldraai. Maar dít gaan verg dat die DVOW saam moet werk.

“Daar sal kan uitkoms wees as die provinsie se plaaslike regering net tafel toe kom. Die kerk en saal in Vaaldraai is afgebreek omdat openbare werke nie betrokke is nie. Hulle moet kom kyk of daai geboue nie omskep kan word in ʼn werkswinkel vir die plaaslike inwoners nie. Die dwelms wat in Vaaldraai is, kan beperk word. Daar is opsies om Vaaldraai veiliger te kry, maar die groot ding is, die eienaar (openbare werke) moet kom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Hennie J ·

Bottom line : dit is die polisie se grondwetlike plig en verantwoordelikheid om wet en orde te handhaaf.
Hoedman en sy pionne verkies blykbaar egter om mense wat nie maskers dra nie te boelie. Dis maklike prooi!

Fritz ·

Die wynboere moet Boland Coetzee nader. Hy is mos so pêllie pêllie met die ANC. Dis mos op sy plaas waar daar n paar jaar gelede tog te lekker met ou Cyril gekuier is.

Attie ·

Ek verstaan nie hoekom BAIE/ MEESTE van die wynboere in die omgewing nie uitgenooi is na die vergadering met Cyril nie.

Ek sou n paar anderste woorde gehad het vir Cyril as om te se : ” he is chosen by God”.

Bygese wonder ek of hier iets gedoen gaan word, want volgens Stellenbosch se munisipaliteit en die polisie le die probleem by die hof en daaraan kan hulle nie veel doen nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.