Wynlandgoed-moord: Só het dit gebeur, sê staat

Foto: Maroela Media

Die Wes-Kaapse hooggeregshof het Maandag gehoor verskeie ooggetuies het Jason Rohde en sy vrou, Susan, sien stry voordat sy ʼn paar uur later dood in ʼn hotelbadkamer op die Spier-wynlandgoed gevind is.

Rohde, voormalige Suid-Afrikaanse hoof van die eiendomsgroep Lew Geffen Sotheby’s International Realty, het Maandag weer in die hof verskyn waar hy teregstaan vir die moord op sy vrou in Julie verlede jaar.

Die staat het Maandag ʼn opsomming van sy saak aan die hof voorgelê. In hierdie opsomming word genoem dat die Rohde-egpaar 23 jaar lank getroud was en drie kinders het. Die gesin het in Bryanston in Johannesburg gewoon.

Volgens die staat het Susan op 27 Februarie 2016 uitgevind dat haar man ʼn buite-egtelike verhouding met Jolene Alterskye, ʼn agent van Lew Geffen Sotheby’s International Realty in Kaapstad, het. Rohde het daarna glo beweer hy het die verhouding, wat na bewering reeds in Junie 2015 begin het, beëindig. Die egpaar het ook vir huweliksberading gegaan.

Die Rohde-egpaar het die naweek van 22 tot 24 Julie Sotheby’s International Realty se jaarlikse geselligheid by die Spier-wynlandgoed buite Stellenbosch bygewoon. Volgens die staat was Alterskye ook by die geleentheid.

“Gedurende die vroeë oggend van Sondag 24 Julie 2016 het verskeie ooggetuies die Rohde-egpaar sien stry in een van die hotelkamers waar onder andere Alterskye met die ander konferensiegangers gesosialiseer het. Om 08:22 het [Rohde] die Spier-ontvangs vanaf kamer 221 geskakel en gesê sy badkamer is van die binnekant af gesluit en hy het hulp nodig om dit oop te maak.

“Desmond Daniels, ʼn nutsman in diens van die Spier-landgoed, het die badkamerdeur in Rohde se teenwoordigheid met ʼn skroewedraaier oopgemaak. Die oorledene is op haar rug in die badkamer aangetref. Die elektriese koord van ʼn haartang was losweg om haar nek gedraai en die ander gedeelte, ʼn enkele string, was om die handdoekhaak aan die agterkant van die badkamerdeur.”

Die staat beweer Mark Thompson, ʼn Sotheby-agent, het na die kamer gegaan toe hy van die voorval hoor en het probeer om Susan weer by te bring. Thompson het opgemerk dat die koord van die haartang in ʼn dubbele string om die badkamerdeur se haak gebind was.

Susan en Jason Rohde. Foto: Facebook

Die staat voer aan Rohde het sy vrou vermoor en die haartang gebruik om dit na selfmoord te laat lyk. Die staat voer ook aan Rohde het met die misdaadtoneel gepeuter deur die badkamerdeur self te sluit en die haartangkoord in verskillende posisies om die haak te bind. “Die DNS-analise van die bloed wat in die badkamer gevind is, stem ooreen met die DNS van [Susan] en [Rohde],” lui die opsomming van die staat se saak.

Volgens die staat het ʼn nadoodse ondersoek getoon dat Susan gesterf het weens ʼn tekort aan suurstof wat deur verwurging veroorsaak is.

Rohde het skuld op die aanklagte teen hom ontken en beweer Susan het haar eie lewe geneem deur haarself aan die badkamerdeur op te hang.

ʼn Ondersoek ter plaatse sal Maandag op die Spier-wynlandgoed plaasvind.

Rohde is in Augustus verlede jaar by sy huis in hegtenis geneem. Hy het kort daarna op 25 Augustus vir die eerste keer in die hof op aanklag van moord verskyn. Hy het R100 000 borgtog betaal en ʼn R1 miljoen-borgwaarborg verskaf voordat hy op borgtog vrygelaat en toegelaat is om na sy huis in Johannesburg terug te keer.

Lees alle vorige berigte oor Jason Rohde op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Wonder maar net ·

Ek meen rerig. Hoe kon hy die badkamerdeur sluit van binne af en uitkom met die sleutel nog aan die binnekant.

Lynette ·

@Wonder maar net en Lientjie – dalk is hy by die badkamervenster uit? Ek weet ek het ‘n ryk verbeelding, maar dit is nie onmoontlik nie ……….

Dee ·

As reg kan onthou het ek in een berig gelees dat die badkamer venster oop was en daar is geen diefwering voor die venster nie – help my reg indien ek verkeerd is – dit was ‘n berig verlede jaar

Catherine ·

Wonder maar net en Lientjie. Hotelle, hospitale ens heet nie slotte met los sleutels nie. Kan van buite af selfs met n geldstuk oop gemaak word. So maklik soos 1~2~3.

donovan ·

nee ek dink jy verwar jou met publieke toilette… hotel kamers se badkamers is nie die selfde as wat jy hier probeer verduidelik nie… soms soek mense net sensasie en ek dink die staat mors die man se lewe op en ek glo dat die dame haar lewe geneem het… dit is hardseer dat die man deur al die trauma ook nog moet gaan…

Showahed ·

Ek is seker ek het erens gelees dat iemand gedemonstreer het hoe maklik hierdie badkamer deure van buite af oopgemaak kom word met ‘n muntstuk?

Corrie ·

Baie moeilike een die. Ek wonder hoe verneuk n man so beeldskone vrou. …. En die ander vrou weet hy was n getroude man!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.