Wynlandgoed-moordsaak: Staat sê oor haartangkoord; bloed in kamer

Susan en Jason Rohde. Foto: Facebook

Meer as twee maande is opsygesit vir die verhoor van Jason Rohde, die voormalige hoof van die eiendomsgroep Sotheby’s International Realty, wat aangekla word van die moord op sy vrou.

Rohde het Dinsdag in die Stellenbosch-landdroshof verskyn waar die akte van beskuldiging en die staat se feite-opsomming aan sy regspan oorhandig is. Die saak is ook na die Wes-Kaapse hooggeregshof oorgeplaas waar ʼn voorverhoorkonferensie op 18 Augustus gehou sal word.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), het gesê die verhoor sal van 9 Oktober tot 14 Desember duur. “Dit is tot aan die einde van die hoftermyn, maar dit beteken nie dat die verhoor noodwendig in hierdie tyd afgehandel sal word nie. Dit kan dalk oorgedra word na die volgende termyn,” het Ntabazalila gesê.

Maroela Media het vroeër berig Rohde staan tereg op ʼn skedule 5-aanklag vir die moord op Susan Rohde (47) nadat haar liggaam die oggend van 24 Julie 2016 in die badkamer van ʼn hotel buite Stellenbosch gevind is met die koord van ʼn haartang om haar nek. Die egpaar, wat in Johannesburg gewoon het, het die Stellenbosse landgoed besoek om ʼn Sotheby’s International Realty-konferensie by te woon.

Die Rohde-egpaar was vir 23 jaar getroud en het drie minderjarige kinders wat saam met hulle in Bryanston, Johannesburg, gewoon het. Volgens die staat het Rohde in Junie 2015 ʼn buite-egtelike verhouding aangeknoop met een van Lew Geffen/Sotheby’s International se eiendomsagente.

Die staat beweer Susan het in Februarie verlede jaar van die verhouding uitgevind en Rohde daaroor gekonfronteer. Rohde het glo aan haar gesê dat hy die verhouding beëindig het en die egpaar het huweliksberading ondergaan.

Rohde tydens ‘n vorige hofverskyning. Foto: Skermskoot eNuus-video

Die naweek van 22 tot 24 Julie verlede jaar het die egpaar die konferensie op die Spier-landgoed bygewoon en in ʼn kamer by die hotel op die landgoed ingeboek. Die vrou met wie Rohde glo ʼn verhouding gehad het, het ook die konferensie bygewoon. Die staat beweer verskeie ooggetuies het in die vroeë oggendure van Sondag 24 Julie gesien hoe die Rohde-egpaar rusie maak, terwyl die ander vrou saam met ander konferensiegangers gesosialiseer het.

Volgens die staat het Rohde die oggend om 08:22 die hotelontvangs gebel en hulp versoek om die badkamer in die egpaar se hotelkamer, wat volgens hom van binne gesluit was, oop te maak. ʼn Nutsman wat by die hotel werk het Rohde gaan help om die badkamer oop te maak en hulle het Susan in die badkamer aangetref waar sy op haar rug gelê het. Volgens die staat het dit voorgekom asof Rohde pas geskeer het en skoon klere aangehad het.

“Die koord van ʼn elektriese haartang was losweg om [Susan] se nek gebind en die ander gedeelte was in ʼn enkele string om die klerehaak aan die agterkant van die badkamerdeur gebind,” lui die akte van beskuldiging.

Mark Thompson, ʼn Sotheby-agent, het kort daarna ook na die kamer gekom toe hy gehoor het wat gebeur het. Hy het mond-tot-mond-asemhaling op Susan toegepas om haar te probeer bybring. “[Thompson] het opgemerk dat die elektriese haartang se koord en prop in ʼn dubbele string aan die badkamerdeur se haak vasgebind is. Daar word beweer dat die tang en koord gebruik is om [Susan] se dood soos selfmoord te laat lyk aangesien die haartangkoord in verskillende posisies om die haak van die badkamerdeur geplaas is.”

Volgens die staat het ʼn nadoodse ondersoek later getoon dat die oorsaak van Susan se dood versmoring was nadat sy gewurg is. Die staat noem ook in die akte van beskuldiging dat ʼn DNS-ontleding van bloed wat in die hotelkamer gevind is, ooreenstem met die DNS van Susan en van Rohde.

Rohde word aangekla van moord, asook dwarsboming van die gereg. Hy ontken skuld op die aanklagte teen hom. Altesaam 77 getuies verskyn op die staat se getuielys, insluitend Rohde se beweerde minnares en Thompson.

Lees alle vorige berigte oor Jason Rohde op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

adriana ·

Dit is jammer dat iemand kan dink hy kan wegkom met moord.

Joanne ·

Wel in Suid Afrika kom so baie mense weg met moorde deesdae, dis nie eers meer snaaks nie. Of hulle kom los op n tegniese punt.

SkarrelKind ·

Ek het nie genoeg feite tot my beskikking om my hieroor uit te spreek nie.

anton ·

Ek stem 100% saam met jou.
Maar hier gaan nog baie slim mense wees wat regter gaan speel ens.

Asmain ·

Se nou maar hy word skuldig bevind soos aangekla, kan die hof dan n swaarder straf ople omrede hy die belastingbetaler se geld en die hof se tyd gemors het?

karen ·

Mag die Liewe Vader asb verhoed dat dit nog een van die jade/ chanelle /annie sake word. Dis net te maklik om van iemand ter wille van iemand anders ontslae te raak. Al die persone in die sake is besonder ryk ook met ietsie in die skaduwee ….. hartseer

Pippa ·

weereens is so n pragtige familie is in flarde geskeur en dit bly altyd hartverskeurend

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.